YouVersion Logo
Search Icon

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Sample

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAY 5 OF 21

JY MOET JOU PROBLEME ALLEEN OPLOS

Ons leef nogal in ’n moeilike tyd: Ons is ontevrede oor korrupsie, ons wonder hoe die toekoms gaan lyk, ons vrees die geweld wat oral kop uitsteek. Jy wonder dalk benoud: Moet ek my geld liewers landuit vat? Moet ons immigreer? Ons is bang vir die een of ander iets. Ons is almal angstig omdat ons dink ons is alleen in hierdie wêreld en ons moet self ons probleme oplos. 

Kan jy onthou toe jy klein was en partykeer nagmerries gekry het? Dan het jou pa of ma by jou kom lê en gesê: “Toemaar, ek is hier, ek is by jou.” En jy kon rustig aan die slaap raak, want jy was nie meer alleen nie. Dit was asof jy kans gesien het vir enigiets, want daardie gerusstellende teenwoordigheid was by jou. 

Ons bid baiekeer asof God nie beskikbaar is nie: “Wees asseblief met my kinders, wees met my op die pad.” Maar dis nie nodig om dit te vra nie, want Hy is reeds by jou! Vra eerder dat jy die bewustheid sal hê om dit te voel. Jy kan maar in daardie sterk arms “aan die slaap raak” sonder enige bekommernisse. Onthou, jy hoef nie eers geld vir liefdadigheid te gee of jou Bybel te lees om iets te verdien nie. Die woorde in die teksvers is vir jou net so waar soos wat dit daardie tyd vir Josua was. Jy is nooit alleen nie. Punt. 

So, die vraag is nie hoe gaan jy vir God oortuig om beskikbaar te wees nie. Jy hoef nie te wheel en deal om dit reg te kry nie. Jy moet net bewus word van daardie heilige teenwoordigheid. Dit is sommer net hier by jou. Terwyl jy toets skryf, in jou motor ry of langs jou vriendin se sterfbed sit. 

Ons praat gereeld oor Moses en Dawid en Abraham. Maar ons dink nooit regtig aan Josua nie. Josua was die leier van die volk Israel. Hy het dit reggekry om die volk na die beloofde land te lei – en dit nogal nadat Moses misluk het! Die volk het later al hoe meer grond besit, soveel so dat die 12 stamme van Israel uiteindelik die hele gebied wat aan hulle belowe is, gehad het. Josua moes seker ook maar in die begin baie getwyfel het. Hy het seker gewonder: As Moses dit nie eers kon regkry nie, hoe gaan ek dit doen? Maar hy oorkom sy vrese en hy en die tweede generasie gaan in die beloofde land in. 

Een van Josua se beste eienskappe was om tot op sy oudag gehoorsaam te bly. Hy het nie kompromieë aangegaan wat sy geloof betref nie. Dis amper asof hy nooit ’n “swart kol” op sy naam gehad het nie. Hy het nie skandes gemaak nie. Dink maar aan Dawid, Moses, Paulus. Almal het iets gedoen waaroor hulle agterna baie spyt was. Maar van Josua lees ’n mens niks negatief nie. Hoe het hy dit reggekry? 

Een van sy geheime was om die regte hemelse verhouding te hê. Hy bly in die tent van samekoms agter toe Moses met die volk gaan praat. En hy bid. Uit die vreugde wat hy uit hierdie verhouding kry wat hy so koester, kry hy later sy belangrike taak. 

Dink ’n bietjie: Jesus het eers op 30 begin preek. En die res van die tyd? Daar is agttien jaar, tussen die ouderdom van 12 en 30, waarvan ons niks lees in die Bybel nie. Wat het dan in daardie tyd gebeur? Dieselfde wat met Josua gebeur het. Hy het dit bloot geniet om ’n verhouding met die Vader te hê. 

Al is jy nie ’n selleier of ’n dominee nie, God ís beskikbaar vir jou, sonder dat jy eers hoef te vra. Jy moet net reg ingeskakel wees sodat jy meer bewus kan raak daarvan. Doen moeite met julle verhouding en geniet dit! Sit jou selfoon af en gaan sit sommer net onder ’n boom en luister na die voëltjies. Kielie jou kinders en verlustig jou in hulle skaterlag. Eet daardie sny koek op jou tyd en smul daaraan. 

Sit tyd opsy om jou Bybel te lees. Eintlik meer as te lees – begin om die Woord regtig te bestudeer. Dink oor wat jy lees. As jy in die oggend ’n stukkie lees, onthou jy later wat dit was of waai dit sommer dadelik weer by jou uit? Maak dan ’n plan om dit deur die dag te onthou. 

Skryf die versie op ’n kaartjie en plak dit teen die yskas of sit dit op jou lessenaar. As jy op een of ander stadium moedeloos raak en jy lees die woorde, sal jy dadelik weer besef jy is nie alleen nie. 

Dis wonderlik om te weet jy kán vreesloos leef. Vreesloos droom. Elke dag met ’n glimlag begin. Nie omdat jy arrogant is of beter is as ander mense nie. Maar omdat jy die regte ritme leef in pas met God. Dink net, as almal hierdie belofte begin glo en groot begin droom, hoe kan die land nie verander nie? 

Scripture

Day 4Day 6

About this Plan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en fiksie geskei. Daar word duidelik gesê wat die wêreld glo Jesus sê en wat Hy werklik gesê het.

More