Here, hoor U my? deur Nina SmitSample
Bid deur die krag van die Gees
Net soos jy dit nie in jou eie krag sal regkry om gelowig te lewe nie, sal jy dit ook nie regkry om self op die regte manier te bid nie. Gelukkig verwag God dit ook nie van jou nie. Hy stuur sy Heilige Gees om jou te help. Die Heilige Gees maak dit ook vir jou moontlik om in God se liefde te bly en om jou verwagting op Jesus se barmhartigheid te vestig.
Die Heilige Gees is die Gees van gebed. Dit is Hy wat ons leer bid, dit is ook Hy wat die drang na gebed in ons hart wakker maak. Wanneer ons bid, stel Hy sy Goddelike krag tot ons beskikking sodat ons gebede meer krag kan hê. Wanneer ’n mens deur hierdie krag bid, sal jou gebedsbegeertes nie meer net op jou eie wil gerig wees nie, maar op die koninkryk van God.
Hierdie roeping om deur die krag van die Heilige Gees te bid sal jy net kan nakom as jy gewillig is om die beheer van jou hele lewe aan Hom oor te gee en jou eie begeertes tersyde te lê. “Ons lewe deur die Gees,” skryf Paulus net nadat Hy die vrug van die Heilige Gees aan die gemeente in Galasië verduidelik het, “daarom moet die Gees ook ons leefstyl bepaal” (Gal. 5:25, NLV). Mense wat deur die krag van die Gees bid, lewe só dat ander mense kan sien aan Wie hulle behoort.
God het sy Seun gestuur om gebed vir jou moontlik te maak en sy Gees om jou te wys hoe jy moet bid. Die Heilige Gees wil in jou lewe ’n gees van gebed plant – vra Hom vandag om dit vir jou te doen.
Gebed:
Heilige Gees, ek wil graag só lewe dat ander mense U in my lewe kan raaksien. Help my om my wil aan dié van God ondergeskik te stel en om altyd deur u krag te bid. Amen.
Scripture
About this Plan
Elke dag van hierdie 5-dag-leesplan bevat gedagtes oor gebed. Elke dag het ’n spesifieke onderwerp, soos vergifnis, die belangrikheid van stiltetyd, en die rol van die Heilige Gees in ons lewe. Elke dag eindig met ’n kort gebed en ’n Bybelvers. Die inhoud vir hierdie leesplan is gebaseer op Nina Smit se “Here, hoor U my?”.
More