YouVersion Logo
Search Icon

Johannes 15

15
Die Christen moet in Jesus bly, want Jesus bly in hom
1“Laat Ek ’n beeld gebruik om die verhouding tussen My, my Vader en my volgelinge te verduidelik. Stel julle voor my Vader is ’n druiweboer. Ek kan dan vergelyk word met ’n spesiale druiwestok. My Vader bewerk die wingerd goed en hou die lote wat uit die druiwestok groei goed dop. 2As daar takkies is wat net groei, maar nie ’n enkele druiwetros dra nie, sny Hy dit af. Die takkies wat druiwetrossies maak, versorg Hy mooi. Hy snoei hulle en maak hulle skoon sodat daar baie plek vir die druiwetrossies is. 3Julle is soos daardie mooi versorgde takkies. My boodskap was soos ’n snoeiskêr wat julle mooi skoon gesny het.
4“Niks moet ons van mekaar skei nie! Julle moet baie naby aan My bly, soos takkies wat aan die druiwestok vasgegroei is. Ek sal net so naby aan julle bly  - soos ’n druiwestok wat vasgegroei is aan sy takkies. ’n Takkie kan mos nie druiwe dra as dit eenkant lê en nie aan die druiwestok vas is nie. Net so het julle My nodig om ’n goeie, vrugbare lewe te kan lei.
5“Stel julle dit goed voor: Ek is soos die druiwestok; julle is soos die takkies. Sonder die druiwestok beteken die takkies tog niks nie. Net so beteken julle ook niks sonder My nie. Leef elke oomblik van die dag in afhanklikheid van My. Ek sal dan elke oomblik by julle ook wees. So sal julle vir God ’n vrugbare lewe kan lei. 6Iemand wat op sy eie, sonder My, wil leef, sal uitvind dat hy dit nie kan doen nie. Hy sal soos ’n los, afgesnyde takkie in die vuur gegooi word. Saam met die ander takkies soos hy sal hulle daar tot as verbrand.
7“Maar julle, as julle altyd naby aan My bly soos ’n takkie wat aan ’n druiwestok vasgegroei is en getrou doen wat Ek vra, is daar vir julle regtig goeie nuus.
“Julle kan maar in gebed vra wat julle nodig het om goeie, vrugbare takkies te wees, want julle sal dit kry.
8“En wat van my Vader, die boer? Wel, as my invloed net al meer in julle lewe gesien kan word, sal Hy tevrede wees.”
Liefde verander ’n Christen se lewe
9“As julle My getrou volg, sal die wêreld God werklik raaksien vir wie Hy is.
“Ek het julle net so lief soos die Vader My liefhet. Wikkel julle elke oomblik van die dag in hierdie liefde van My toe. 10Julle vra: Hoe kry ’n mens dit reg? As julle doen wat Ek vra en dit goed doen, wys julle hoe julle my liefde vir julle waardeer en geniet. Ek doen dit self. Ek doen wat my Vader vra omdat Ek sy liefde vir My so waardeer.
11“Weet julle hoekom sê Ek al hierdie dinge vir julle? Ek wil hê julle moet dieselfde vreugde en genot hê as Ek. Daar moet geen einde aan wees nie. Die geheim daarvoor is dit: 12Ek wil hê dat julle mekaar moet liefhê, net soos Ek julle liefhet. En hierdie liefde is nie net iets oppervlakkigs nie. 13As jy regtig jou liefde wil ‘toets’, toets dit hieraan: liefde beteken om bereid te wees om doodgemaak te word ter wille van jou vriende, net omdat hulle jou vriende is. 14Julle is my vriende; julle almal wat leef soos Ek van julle verwag. 15Ons verhouding is nie soos die een tussen ’n werker en sy baas nie. Die werker ken mos normaalweg nie die baas persoonlik so goed dat hy alles weet wat die baas dink of beplan nie. Nee, ons verhouding is baie anders. Ons is soos vriende onder mekaar. Vriende steek niks vir mekaar weg nie. Daarom het Ek alles wat die Vader vir My gesê het net so vir julle vertel. Dit is belangrik om te weet hoe Ek oor ons verhouding voel. 16Julle het Mý nie gekies nie. Dit was Ek wat julle gekies het. En Ek het julle met ’n doel gekies: julle moet ’n vrugbare lewe vir God gaan leef. Ja, julle moet ’n permanente verskil in hierdie wêreld gaan maak. Vra God om julle daarmee te help en Hy sal dit doen. 17Onthou wat die verskil maak: julle moet mekaar liefhê.”
Die haat van ’n ongelowige wêreld
18Jesus het verder gegaan: “Mense wat nie Christene is nie, gaan die wêreld vir julle baie moeilik maak. Maar troos julle daaraan: hulle het dit al met My gedoen. 19Hulle hou net van mense wat soos hulle is en doen wat hulle doen. Julle is nie soos hulle nie. Julle behoort aan My. Ek het julle gekies om aan my kant te kom staan. Daarvan hou die ongelowiges niks en daarom gaan julle dit ontgeld. 20Julle onthou mos nog wat Ek vir julle gesê het: ‘Die baas is belangriker as die werker.’ Daarom is dit logies dat as hulle hulle bes probeer om dit vir My so sleg moontlik te maak, hulle mos dieselfde met julle sal probeer doen.
“As hulle nie luister na wat Ek vir hulle sê nie, sal hulle mos ook nie na julle luister nie. 21Hierdie mense ken nie my Vader wat My gestuur het nie. Daarom tree hulle so snaaks teenoor julle op. Hulle doen dit omdat julle my vriende is en na My luister. 22Hulle hou nie van My nie, omdat Ek vir hulle kom sê het wat reg en verkeerd is. Hulle besef natuurlik hier diep in hulleself dat hulle nie reg lewe nie, maar hulle is te hardkoppig om dit te erken. Nou het hulle geen verskoning meer vir hulle swak gedrag nie. 23Daarom haal hulle dit nou maar op My uit. Deur dit te doen maak hulle my Vader ook sleg. 24As dit nie vir My was nie, sou niemand hulle kon blameer nie. Hulle sou dan mos nie geweet het wat reg of verkeerd is nie. Toe kom Ek. Die dinge wat Ek gedoen het, het hulle nog nooit gesien nie. Niemand kon of het dit nog ooit gedoen nie. Nou neem hulle My en my Vader bitter kwalik en Ons is vir hulle soos vyande. 25Daarom is dit nie vreemd dat hulle so maak nie. Ons lees mos in die Skrif: ‘Hulle het niks van My gehou nie.’ 26Maar Ek gaan vir julle ’n spesiale Helper stuur wat van my Vader self af kom. Dit is die Heilige Gees en daar is geen ander Gees soos Hy nie. Dit is die ware Gees wat ook die waarheid goed ken. Hierdie Gees sal alles kom beklemtoon wat Ek gesê en gedoen het. Julle gaan ook vir die ongelowiges van My vertel en hulle probeer oorreed om Christene te word. 27Julle kan dit doen, want julle was van die begin af saam met My.”

Currently Selected:

Johannes 15: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in