YouVersion Logo
Search Icon

Deuteronomium 25

25
Oor hofsake en ander voorskrifte
1“Sê nou twee mans vat mekaar hof toe oor iets waaroor hulle nie saamstem nie. Die landdros bepaal wie reg is. Hy sê hierdie man wat reg gedoen het, is onskuldig en daardie man wat verkeerd gedoen het, is skuldig. 2Dalk bepaal hy dat die ander man wat skuldig is, as straf met ’n sambok geslaan moet word. Wanneer hy geslaan word, moet die landdros by wees. Die man moet voor die landdros op die grond gaan lê. Dan moet hulle hom slaan. Die landdros moet tel dat hy slegs die aantal houe kry wat die hof hom opgelê het. 3Onder geen omstandighede mag jy iemand meer as 40 houe met ’n sambok laat slaan nie. As jy iemand meer as 40 houe slaan, verneder jy hom voor ander mense. Dis nie ’n goeie ding nie.
4“Wanneer jy ’n os gebruik om jou graan uit te trap, mag jy nie sy bek toebind sodat hy nie van die graan kan vreet nie.
5“Twee broers bly dalk saam. Een van hulle gaan dood sonder dat sy vrou vir hom ’n seun gegee het. Sy vrou mag dan nie met iemand trou wat nie familie van haar oorlede man is nie. Nee, sy moet eerder met haar oorlede man se broer trou. Haar nuwe man moet dan ’n seun by haar hê wat na haar oorlede man vernoem kan word. 6Haar eerste seun by haar nuwe man is dan eintlik die seun van haar eerste man. Só sal haar oorlede man nie deur die volgende geslag vergeet word nie. Sy naam sal in Israel onthou word.
7“Maar sê nou die tweede broer weier om met sy oorlede broer se weduwee te trou? Dan moet die weduwee na die ingang van die stad gaan waar die leiers van die stad sit. Sy moet vir hulle sê: ‘My oorlede man se broer weier om met my te trou en ’n kind by my te hê sodat my oorlede man onthou kan word. Hy weier om die regte ding te doen.’
8“Dan moet die leiers van die stad hierdie man roep en met hom praat. Hulle moet vir hom verduidelik hoekom dit belangrik is dat hy met sy oorlede broer se weduwee moet trou. Maar as hy weier om te doen wat hulle vir hom sê, en hy weier om met hierdie vrou te trou, 9moet die weduwee oor hom stap waar hy plat op die grond lê. Sy moet sy sandaal uittrek en in sy gesig spoeg. Dan moet sy sê: ‘Dis wat gebeur met ’n man wat weier om ’n seun te hê by sy oorlede broer se weduwee.’
10“Agterna moet al die mense van Israel na hierdie familie verwys as ‘die familie van die man wie se sandaal uitgetrek is’.
11“Sê nou twee mense van jou volk baklei. Die een man se vrou probeer haar man help om die geveg te wen en gryp die ander man aan sy skaamdele. 12Dan moet jy haar hand afsny. Jy mag glad nie vir haar jammer wees nie.
13“Wanneer jy iets weeg om dit te verkoop, moet jy altyd seker maak dat jou skale reg werk. 14Jy mag nie mense bedrieg deur iets aan hulle te verkoop wat nie is soos jy gesê het dit is nie. Jy moet akkuraat en eerlik wees as jy iets verkoop. 15As jy in al jou besigheidstransaksies eerlik is, sal jy lank lewe in die land wat die Here jou God vir jou gee om in te gaan bly. 16As jy oneerlik is en mense in besigheidstransaksies bedrieg, doen jy iets wat baie sleg is. Onthou, die Here jou God sien dit raak.
17“Onthou altyd wat die inwoners van Amalek aan julle gedoen het toe julle uit Egipte weggetrek en hier aangekom het. 18Hulle het julle aangeval toe julle op julle weerloosste was, toe julle honger en moeg was van die trek deur die woestyn. Hulle het almal wat langs die pad uitgesak het omdat hulle gedaan was, doodgemaak. Hulle het dit gedoen omdat hulle geen respek vir God gehad het nie. 19Daarom moet jy wag totdat jy die hele land oorwin het wat die Here jou God vir jou as ’n besitting gee om in te gaan woon. Dan moet jy die Amalekiete aanval en geen genade aan hulle betoon nie. Jy moet hulle vernietig. Niemand moet agterna aan hulle dink nie. Jy mag nie vergeet om dit te doen nie.”

Currently Selected:

Deuteronomium 25: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy