2 Korintiërs 1
1
1Van Paulus.
Ek is deur Christus Jesus as ’n apostel aangestel. My aanstelling dra ook God se goedkeuring weg. Timoteus, een van my helpers en ons broer in die Here, stuur groete vir julle.
Ek skryf aan almal van julle in die kerk in Korinte. Ja, en ook aan almal wat deel van God se kerk is in die res van die Romeinse provinsie Agaje.
2God ons Vader en die Here Jesus Christus gee aan julle almal genade en vrede.
God staan by ons wanneer ons swaarkry
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die eer toe. As ons Vader oorstroom Hy ons met sy goedheid. As ons God troos Hy ons. 4Hy staan by ons en help ons in al ons krisisse. Daarom kan ons ander mense help en troos wanneer hulle swaarkry. Ons kan presies dieselfde troos met hulle deel as wat God met ons gedeel het.
5Net soos Christus vroeër gely het, ly ons nou ook. Ons kry regtig baie swaar omdat ons sy volgelinge is. Maar gelukkig oorlaai Christus ons elke dag met sy goedheid en met sy troos.
6Ek het al dikwels swaargekry omdat ek in Christus glo, maar Hy het my nog elke keer daardeur gehelp. Daarom kan ek julle nou troos wanneer julle swaarkry. Ek kan julle help om aan te hou glo. Wanneer ek God se troos ervaar, deel ek dit ook met julle terwyl julle dapper dieselfde soort lyding as ek ervaar. Natuurlik twyfel ek nie vir ’n enkele oomblik dat julle sal aanhou glo nie. 7Ek weet dat julle dieselfde lyding as ek ervaar. Maar ek weet ook dat julle dieselfde troos as ek van God ontvang.
8Weet julle, ek het onlangs in Asië baie gely ter wille van my geloof. Dit was verskriklik. Ek is so erg mishandel dat ek dit later nie meer kon uithou nie. 9Dit het gevoel of ’n doodsvonnis oor my uitgespreek is. Maar ek het toe ’n baie belangrike les geleer. Ek het geleer om te bly vashou aan God wat selfs die dooies lewendig kan maak. 10Uiteindelik het Hy my uit daardie lewensgevaarlike situasie gered. Daarom weet ek met alles in my dat God my vorentoe weer sal red wanneer ek in gevaar verkeer. Hy sal my elke keer help wanneer ek in die nood is.
11Bid asseblief vir ons. Daarsonder kan ons glad nie ons werk vir die Here doen nie. Julle gebede maak dat baie ander mense ook begin bid. Hulle sal vir God dankie sê omdat Hy ons met sy hemelse gawes toegerus het sodat ons die goeie nuus aan hulle kan bekendmaak. Op hierdie manier werk al julle gebede mee aan die uitdra van die evangelie.
Paulus sê nie een ding
en doen dan iets anders nie
12Ek is trots daarop dat ek opreg optree teenoor almal, ook teenoor julle. God self stel my in staat om sonder vals motiewe op te tree. Hiervan is ek absoluut oortuig. Ek hou my nie met allerhande slimpraatjies besig nie. Nee, ek is heeltemal afhanklik van God se goedheid.
13In my briewe skryf ek oor sake wat julle maklik kan verstaan. Daarom glo ek julle sal verstaan dat julle baie trots op my kan wees wanneer ons almal saam op die laaste dag voor die Here Jesus staan. Natuurlik sal ek op daardie dag ook baie trots op julle wees. 14Gelukkig verstaan julle darem nou al so ’n ietsie van hierdie goeie nuus.
15Omdat ek so trots op julle is, het ek vroeër besluit om eerste na julle toe te kom voordat ek Masedonië toe gaan. 16Later op pad terug van daar af sou ek dan ’n tweede maal by julle kom oorbly het. So sou julle sommer twee keer deel kon hê in al die wonderlike hemelse geskenke wat God vir my gegee het. Boonop sou julle my tydens my tweede besoek kon help met al my voorbereidings vir my reis na Judea. Ongelukkig het hierdie planne toe nie so uitgewerk nie.
17Miskien dink julle by julleself: “Daardie Paulus sê een ding, maar doen iets anders. Hy belowe hy kom ons besoek, maar dan daag hy nie op nie.” Het ek sommer uit my eie hierdie besluite geneem, sonder om eers te vra wat God se wil is? 18Is ek ’n regte jabroer wat die een ding sê en ’n ander ding doen? Nee, glad nie. God weet ek praat die waarheid met julle. 19Julle weet ook dat ek julle nie bedrieg het toe ek en Silvanus en Timoteus vroeër daar by julle gewerk het nie. Ons het mos nie die een dag een ding gesê en die volgende dag iets anders kwytgeraak nie. Ons het net met julle oor Jesus Christus, die Seun van God, gepraat. 20Hy is die bewys dat God getrou is. Christus sê nooit een ding en doen dan iets anders nie. Hy maak al God se beloftes in die Bybel waar. Hierop kan ons almal net “ja en amen” sê, of hoe? En wanneer ons dit doen, word God se Naam grootgemaak.
21God het ons almal saam stewig in Christus geanker. Hy is die fondament op wie ons lewe gebou is. God het ons ook met sy groot krag toegerus en ons eenkant gesit sodat ons Hom voltyds kan dien. Hy het boonop sy amptelike stempel op ons lewe geplaas as die bewys dat ons aan Hom behoort. Dit is die Heilige Gees. 22God het die Heilige Gees aan ons almal gegee as die deposito, die eerste betaling van sy kant af om ons te verseker dat sy nuwe wêreld op ons wag.
Eerder ’n brief as ’n besoek vol konflik
23Kom ek sê reguit vir julle hoekom ek besluit het om nie Korinte toe te kom nie. Weet julle, ek wou julle ’n groot stuk hartseer spaar. Regtig! God weet dit. Julle geloof is in elk geval mos nie van my besoek afhanklik nie. 24Dit is regtig nie my werk om oor julle baas te speel deur vir julle voor te skryf presies hoe julle moet glo nie. Al wat ek wil doen, is om te help dat julle geloof ’n nog groter vreugde word.
Currently Selected:
2 Korintiërs 1: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.