1 Korintiërs 1
1
1Van Paulus.
Jesus Christus het my geroep en my met ’n spesiale doel gestuur.
Dit is hoe God dit wou gehad het. En van Sostenes, wat ook ’n kind van God is.
2Aan die gemeente van God in Korinte. Dit is die mense wat aan God behoort omdat hulle Jesus Christus ken. God het hulle geroep om net vir Hom te leef. Die brief is ook bedoel vir al die mense wat ons Here Jesus Christus se gesag erken en Hom aanbid. Dit maak nie saak waar hulle is nie, net solank húlle Here óns Here is.
3Mag God ons Vader en ons Here Jesus Christus baie goed vir julle wees. Mag Hulle julle innerlik rustig maak en vrede gee.
Die Here gee ons soveel wat ons nie verdien nie
4Ek sê altyd vir God dankie vir al die goeie dinge wat Hy so onverdiend vir julle gee. Ek praat van alles wat julle gekry het vandat julle Jesus Christus leer ken het. Hy het letterlik alles vir julle gegee wat julle nodig gehad het. 5Julle het die dinge van God goed leer ken en kan maklik daaroor praat. 6Dat dit wat ek vir julle oor Jesus vertel het, waar is, kan in julle lewe gesien word. 7Ja-nee, julle het niks nodig nie, want God sorg dat julle kry wat julle op geestelike gebied nodig het. Julle sien ook opgewonde daarna uit dat ons Here Jesus Christus weer na ons toe kom sodat almal Hom kan sien. Niemand sal dan ’n enkele skewe woord teen julle kan sê nie. Hy sal julle nie in die steek laat nie. 8Hy sal julle enduit gee wat julle moet hê.
9Julle kan God vertrou, want Hy doen altyd wat Hy beloof. Hy self het julle uitgenooi om Jesus Christus, ons Here, se goeie vriende te word.
Kerke in ’n kerk? Dit kan tog nie
10Kinders van die Here, werk asseblief tog saam. Namens ons Here Jesus Christus vra ek julle dit baie mooi, maar baie ernstig. Daar moet nie heeltyd ’n stryery onder julle wees nie. Julle moet met mekaar oor die weg kom. Moenie dwarstrek nie, maar dink en doen liewer soos een man saam. 11Ek noem dit omdat van Chloë se familie hier by my aangekom en vertel het dat julle so onder mekaar baklei. 12Laat ek dit so stel: een van julle sal sê: “Paulus is net die man.” Ander sal dan aan die stry gaan en sê dat Apollos of Petrus beter is. “Nee,” sal ander weer sê, “ons volg maar net vir Jesus.” 13Nou vra ek: Is Christus dan so ’n los klomp stukke? Het ek, Paulus, miskien vir julle daar aan die kruis gehang? Is daar by julle doop miskien gesê dat julle gedoop word omdat Paulus so goed is?
14Nou is ek eintlik bly dat ek nie te veel van julle gedoop het nie, maar net vir Krispus en Gaius. 15Daarom kan niemand nou loop en spog dat hy deur my gedoop is asof dit iets besonders is nie. 16(O ja, amper vergeet ek, ek het nog Stefanas en sy mense ook gedoop. Verder kan ek aan niemand anders dink nie.) 17Christus het my nie gestuur om mense vir myself bymekaar te maak deur te doop nie. Nee, Hy het my gestuur om vir julle die goeie boodskap oor Hom te kom vertel. Dit moet ek nie doen met vreeslik geleerde en moeilike taal om mense te beïndruk nie. Nie taal nie, maar die werklikheid van die kruisgebeurtenis van Jesus moet mense beïndruk. Daar lê die werklike krag van die boodskap oor Jesus. En dit mag nooit agter slim argumente of geleerde taal weggesteek word nie.
Wat vir mense slim lyk, is maar dom vir God
18Dat Jesus aan die kruis moes sterf, klink wel so onwaar soos ’n feëverhaal vir die mense wat hulle nie aan God steur nie. Hulle is buitendien op pad hel toe. Maar ons wat God leer ken het en nou Syne is, put soveel geestelike krag daaruit. God maak ons sterk deur die boodskap oor wat aan die kruis gebeur het. 19Daar is geskryf: “God sal vir almal wys hoe verkeerd selfs die slimste mense is. Wat vir hulle so slim lyk, is eintlik maar baie dom.”
20Gaan roep maar die mense wat sê hulle weet baie. Gaan kry die professore. En waar is die mense met die gladde tong? Het God nie gewys dat al hierdie slimmighede wat mense kwytraak eintlik maar baie dom is wanneer dit kom by dit wat regtig belangrik is nie?
21Mense met al hulle slimmighede het nie die vaagste benul waaroor dit gaan wanneer dit by die dinge van God kom nie. God het in sy wysheid besluit dat dit so sal wees. Mense dink dalk dat die kruis en wat daar gebeur het nie sin maak nie. Dít is egter die manier waarop God besluit het om mense uit hulle sonde na Hom toe terug te bring. Ek praat van mense wat God vertrou. 22Die Jode sou wonderlike bomenslike tekens verkies het en die Grieke sou liewer wou gehad het dat alles mooi uitgeredeneer kon word.
23Maar ons vertel vir almal dat Jesus wat gekruisig is, die manier is waarop God dinge tussen Hom en sondaars regmaak. Die Jode weier botweg om dit te aanvaar en ander mense lag daaroor asof dit sommer ’n storie of ’n feëverhaal is. 24-25Onder hierdie klomp spottende pessimiste is daar tog ’n klompie wat God se stem gehoor het en luister. Hulle ken die waarheid. As jy Christus ken, ken jy die krag wat net God kan gee en verstaan jy al God se planne. Menslike dinge kan mos nie met goddelike dinge vergelyk word nie. Om dit so te stel: die “domste” ding wat God volgens die wêreld kan doen, is ver slimmer as die heel slimste ding wat die slimste mens kan uitdink. Al span mense al hulle kragte saam, is dit nog nie eens ’n druppel in die emmer teenoor God se krag nie.
God maak onbelangrike mense belangrik
26My liewe vriende, dink ’n bietjie mooi na oor wie julle regtig was voor God julle uitgenooi het. Volgens mense was die meeste van julle maar dommerig en eenvoudig. Julle was maar gewone werkers sonder enige invloed wat uit die swakker deel van die dorp gekom het. Maar God werk anders. God het juis onbelangrike mense aan wie niemand hulle steur nie, gekies om die beterweterige mense wat dink hulle is belangrik, skaam te maak. God se keuse het geval op mense op wie almal trap omdat hulle sosiaal nie vir daardie mense iets kan beteken nie. Mense wat dink hulle is die room van die samelewing sal skaam en verleë voor hierdie arme onbelangrike mense moet kom staan. 27God het die maatstawwe van die wêreld totaal omgekeer. Wat volgens mense swak is, het God besluit om sterk te maak. 28Dinge waaraan mense hulle nie steur nie en wat hulle dink nutteloos is, gebruik God om sy doel te bereik. So word dinge wat mense weer dink iets werd is, nutteloos wanneer dit by God se planne kom. 29Geen mens kan dus voor God gaan staan en spog dat hy iets met die reddingsplanne van God te doen het en daarvoor geprys moet word nie. 30God en God alleen het dit vir julle moontlik gemaak om Christus Jesus te leer ken. Jesus is die Een deur wie ons kan sien watter slim planne God gemaak het: deur Hom word ons saak met God reggemaak, word ons mense wat geheel en al net vir God leef. Ja, Hy is die Een deur wie God ons sy vriende maak. 31Daar staan mos geskryf:
“As iemand wil spog, laat hom spog oor wat die Here gedoen het.”
Currently Selected:
1 Korintiërs 1: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.