YouVersion Logo
Search Icon

HOOGLIED 5

5
Jong man:
1“Ek het na my tuin toe gekom,
my suster, liewe bruid.
Ek het my mirre,
my geurige kruie kom pluk.
Ek het my heuning kom eet,
my wyn en melk kom drink.”
Jong vroue van Jerusalem:
“Eet, vriende, drink;
word dronk van die liefde,
minnaar.”
Jong vrou:
2“Een nag het ek gelê en slaap
en wakker geword
toe my liefling klop aan die deur.
Hy het gesê:#5:2 Grondteks bevat nie dié woorde nie.
‘Maak vir my oop, my liefling,
my duif, my skat!
My kop is nat van die dou,
my hare is nat
van die nag se klammigheid!’
3“Ek sê toe:#5:3 Grondteks bevat nie dié woorde nie.
‘Ek het dan al klaar uitgetrek,
moet ek nou weer aantrek?
Ek het my voete al klaar gewas,
hoekom moet ek hulle
nou weer vuil laat word?’
4“My liefling probeer toe
om die deur oop te maak.
Van opgewondenheid
het my hart gebons.
5Ek het opgestaan
om oop te maak
vir my liefling.
My hande was nat
van parfuum,
en terwyl ek die deur oopsluit,
het mirre gedrup
van my vingers af.
6“Ek het oopgemaak
vir my liefste,
maar hy het alreeds omgedraai
en weggeloop.
My hart wou gaan staan
toe hy gepraat het!
Ek het na hom gaan soek,
maar ek
kon hom nie kry nie.
Ek het na hom geroep,
maar hy
het nie geantwoord nie.
7Die wagte wat
deur die stad gaan,
het my gekry.
Hulle het my geslaan,
my seergemaak.
Die wagte op die mure
het my tjalie geskeur.
8“Vroue van Jerusalem,
wat sal julle vir my minnaar sê
wanneer julle hom teëkom?
Sê vir hom
dat die liefde my verteer.”
Jong vroue van Jerusalem:
9“Wat is dan anders
aan jou beminde,
o mooiste vrou?
Wat is dan anders
aan jou beminde
dat jy ons so smeek?”
Jong vrou:
10“My liefling is pragtig.
Hy staan uit
bo duisende ander.
11Sy voorkop
is soos skitterende goud.
Hy het golwende hare,
so swart soos dié van ’n kraai.
12Sy oë is soos dié van duiwe
wat by die waterstrome bly,
gewas in melk
en soos juwele geset.
13Sy wange is soos beddings
vol geurige kruie.
Sy lippe is soos lelies
wat drup van mirre.
14Sy hande is soos stukke goud
met edelstene
daarin gemonteer.
Sy lyf is soos ’n stuk ivoor,
ingelê met saffiere.
15Sy bobene
is soos marmerpilare
wat op goue voetstukke staan.
Dit lyk soos sederstompe,
spesiaal gekap
in die Libanon.
16Sy mond smaak soet,
hy is begeerlik in alles.
So is my liefling, my vriend,
vroue van Jerusalem.”

Currently Selected:

HOOGLIED 5: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy