SPREUKE 16:23-33
SPREUKE 16:23-33 AFR83
'n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde so dat hy ander kan leer. Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens. Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood. 'n Werker se honger laat hom werk, sy behoefte aan kos dryf hom. 'n Kwaadwillige mens bring net teenspoed; wat hy sê, is soos 'n verterende vuur. Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis, iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende. Iemand wat niks ontsien nie, mislei sy naaste en laat hom 'n verkeerde pad loop. Wie met sy oog knik, wil die waarheid verdraai; wie sy lippe saampers, is vasbeslote oor 'n boosheid. Ouderdom is 'n sierlike kroon; dit word bereik deur dié wat reg lewe. 'n Geduldige mens het meer waarde as 'n bedrewe vegter, 'n mens met selfbeheersing meer as iemand wat 'n stad inneem. Mense kan loot, maar die Here bepaal hoe dit uitkom.