LUKAS 18:1-30
LUKAS 18:1-30 AFR83
Jesus het vir hulle 'n gelykenis vertel om duidelik te maak dat 'n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. Hy het gesê: “In 'n sekere stad was daar 'n regter wat geen eerbied vir God of agting vir 'n mens gehad het nie. En in dieselfde stad het 'n weduwee gewoon wat hom herhaaldelik kom vra het: ‘Doen aan my reg in my saak teen my teenparty.’ 'n Tyd lank wou hy nie, maar later het hy vir homself gesê: Vir God het ek wel geen eerbied nie, en aan 'n mens steur ek my nie, maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog.” Toe sê die Here: “Hoor wat sê die onregverdige regter. Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! “Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?” Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: “Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was 'n Fariseër en die ander een 'n tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.’ “Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’ “Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.” Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas. Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” 'n Man van aansien het aan Jesus die vraag gestel: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Jesus het geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis gee nie, eer jou vader en moeder.” Maar hy antwoord: “Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou.” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hom: “Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.” Toe hy dit hoor, was hy diep teleurgesteld, want hy was baie ryk. Toe Jesus sien dat hy teleurgesteld is, sê Hy: “Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.” Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Maar wie kan dan gered word?” Daarop antwoord Hy: “Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik.” Toe sê Petrus: “Kyk, óns het van ons besittings afgesien en U gevolg.” En Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God afgesien het van huis of vrou of broers of ouers of kinders nie, of hy ontvang in hierdie tyd al baie keer soveel terug, en in die tyd wat kom, die ewige lewe.”