YouVersion Logo
Search Icon

JOB 31

31
Job: Ek het my saak gestel
1“Ek het my plegtig verbind
om nie na 'n meisie te kyk en haar te begeer nie.
2Wat kom 'n mens toe van God in die hemel,
wat gee die Almagtige daar van bo af?
3Vernietiging tref immers die bóósdoener,
'n ongeluk dié wat onreg doen.
4God hou my paaie dop
en tel elke tree wat ek gee.
5“As ek my sou opgehou het met valsheid,
agter bedrog sou aangehardloop het,
6laat God my dan weeg op 'n betroubare skaal
dat Hy kan weet dat ek onskuldig is.
7As ek die spoor byster geraak het,
my deur my begeerte laat lei het
en my hande besoedel het,
8laat ander mense eet wat ek gesaai het,
of laat my gesaaides uitgeruk word.
9As ek my deur 'n ander se vrou laat verlei het
en gretig geloer het na my buurman se deur,
10laat mý vrou dan vir 'n ander man koring maal,
laat ander by haar slaap.
11As ek so iets gedoen het, sou dit 'n skande gewees het,
'n misdaad vir regters om te straf.
12Dit sou 'n vuur gewees het wat alles vernietig
en al my besittings verteer.
13As ek nie reg gedoen het aan my slawe en slavinne
toe hulle 'n grief teen my gehad het nie,
14wat sou ek kon doen as God van my rekenskap eis,
hoe sou ek my kon verweer as Hy my tot verantwoording roep?
15Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het,
hulle nie ook gemaak nie?
Het Hy ons nie almal gevorm nie?
16Het ek armes geweier wat hulle gevra het
en weduwees van honger laat vergaan?
17Het ek my stukkie kos alleen geëet
en die weeskind nie ook daarvan laat eet nie?
18Inteendeel, van my jeug af was ek vir die weeskind 'n pa,
van my kindsdae af het ek vir die weduwee gesorg.
19Het ek 'n arme sonder klere sien rondswerwe
en hom nie iets gegee om aan te trek nie?
20Het hulle my nie juis geprys
omdat my skape se wol hulle warm gehou het nie?
21Het ek my hand teen 'n weeskind opgelig
omdat ek kon reken op die partydigheid van die regters?
22As ek aan iets hiervan skuldig is,
mag my bo-arm afgeskeur word van my skouer af,
mag my arm afgebreek word.
23Maar vir die ramp wat God nou gestuur het, is ek bang,
teen sy majesteit kan ek niks doen nie.
24Het ek op goud my vertroue geplaas,
het ek gedink fyn goud sal my sekerheid gee?
25Het ek al my vreugde gevind in my groot rykdom,
in die besittings wat ek bymekaargemaak het?
26Het ek die son sien skyn,
die maan in sy prag sien beweeg,
27en my laat verlei
om hulle te vereer met 'n soen op my hand?
28Dit sou 'n sonde wees wat gestraf moes word,
want dan sou ek God daarbo verloën het.
29Het ek my verheug oor die ongeluk van my vyand,
was ek bly as 'n ramp hom tref?
30Nee, ek het nie met 'n enkele woord gesondig
en hom dood gewens nie.
31Het die mense in my diens ooit gesê:
‘By Job het ons nie genoeg gekry om te eet nie’?
32Selfs 'n vreemde het nooit by my buite geslaap nie,
vir 'n reisiger het my deure altyd oopgestaan.
33Het ek soos ander my oortredinge weggesteek
en my sonde vir myself gehou
34omdat ek vir die mense bang was
en die minagting van die familie gevrees het?
Het ek stilgebly en dit nie buite gewaag nie?
35Is daar dan niemand wat na my luister nie!
My saak het ek gestel:
nou moet die Almagtige my antwoord.
“As iemand wat 'n klag teen my het,
dit op skrif sou stel,
36sou ek dit sonder meer bekend maak;
dit sal nie vir my 'n skande wees nie.
37Ek kan rekenskap gee van elke tree wat ek gegee het,
ek kan my teëstander met vrymoedigheid tegemoet gaan.
38As die grond wat ek bewerk, 'n klag teen my het
en sy ploegvore saam sou protesteer,
39as ek sy opbrengs verteer het sonder vergoeding aan sy eienaars
en hulle van honger laat vergaan het,
40mag daar dan dorings groei in plaas van koring,
onkruid in plaas van gars.”
Dit is die einde van Job se woorde.

Currently Selected:

JOB 31: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in