Numeri 14
14
Die volk rebelleer
1Die klomp Israeliete het toe verskriklik begin huil, hulle het sommer dwarsdeur die nag aangehou. 2Hulle het teen Moses en Aäron in opstand gekom en gesê: “As ons maar eerder in Egipte of in die woestyn doodgegaan het, dan was dit baie beter! 3Hoekom het die Here ons na die land toe gebring as ons in elk geval net doodgemaak gaan word en ons vroue en kinders as gevangenes weggevat gaan word? Miskien is dit vir ons beter om terug te gaan Egipte toe!” 4Hulle het toe onder mekaar begin planne maak: “Kom ons kies vir ons ’n nuwe leier wat ons sal terugvat Egipte toe.”
5Moses en Aäron het uit pure moedeloosheid op hulle knieë voor die volk gaan staan. 6Maar Nun se seun Josua en Jefunne se seun Kaleb, twee van die leiers wat saam was Kanaän toe, het van hartseer hulle klere stukkend geskeur 7en vir die hele vergadering wat daar bymekaar was, gesê: “Dit is ’n ongelooflike mooi land waarna ons gaan kyk het. 8As die Here tevrede met ons is, sal Hy ons help om hierdie land in te neem en daar te gaan bly. Soos ons vroeër vir julle gesê het: dit is ’n land waar dit lyk of die melk en heuning oral in strome loop. 9Moet asseblief nie die Here se gesag nou uitdaag nie. Moet ook nie vir die land en sy inwoners bang wees nie, ons kan hulle maklik oorrompel. Hulle afgode waarop hulle staatmaak, sal hulle nie kan help nie, want die Here is aan ons kant. Moenie vir daardie spul bang wees nie!” 10Die hele vergadering was egter min beïndruk met wat Josua en Kaleb gesê het en wou hulle sommer daar op die plek met klippe doodgooi. Maar skielik het die verblindende glans van die Here se teenwoordigheid oor die tent sigbaar geword. Almal kon dit sien.
Moses bid vir die volk
11Die Here vra toe vir Moses: “Hoe lank gaan hierdie volk aanhou om die rug vir My te draai en weier om My te vertrou, ten spyte van die wonderwerke wat Ek al voor hulle oë gedoen het? 12Ek gaan ’n siekte-epidemie onder hulle instuur om hulle uit te roei. Dan maak Ek jou nageslag ’n baie magtiger volk as wat hierdie spul nog ooit was!”
13Maar Moses het by die Here gepleit: “Wat sal die Egiptenaars dink as hulle dit moet hoor? Hulle weet mos hoe magtig U is en hoe U hierdie volk uit hulle hande bevry het. 14Hulle sal dit dadelik vir die mense van hierdie land vertel. U weet tog dat al die inwoners van hierdie land maar alte goed weet dat U saam met hierdie volk trek. Hulle het gehoor dat U onder u volk woon, en bedags saam met hulle trek in die wolk wat skaduwee gee en snags daar is met die vuurwolk om lig te gee. 15As U hierdie volk nou totaal uitroei, sal al die nasies wat reeds van u wonderlike dade gehoor het, bymekaarkom en sê: 16‘Die Here was nie sterk genoeg om hierdie volk in die land in te vat wat Hy hulle so plegtig belowe het nie, daarom het Hy hulle toe maar in die woestyn laat doodgaan.’
17“Here, wys nou vir ons dat U regtig alles kan doen wat U gesê het. 18U het mos gesê: ‘Ek is die Here en Ek word nie gou kwaad nie. Ek hou my woord as Ek met julle ’n ooreenkoms gemaak het. Ek vergewe mense hulle sondes en hulle opstandigheid teen My, maar nie sonder dat hulle self die gevolge van hulle dade gedra het nie. Selfs hulle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders sal ly onder die gevolge van hulle verkeerde dade.’ 19Vergewe asseblief hierdie volk se sonde omdat U so baie vir hulle omgee. Vergewe hulle soos U hulle van Egipte af tot hier toe vergewe het!”
20Toe sê die Here: “Ek vergewe hulle, soos jy My gevra het om te doen. 21Maar so seker as wat Ek leef en Ek die hele aarde met my magtige teenwoordigheid volmaak, 22nie een van hierdie mense sal ooit in hierdie land ingaan nie. Al het hulle my groot krag en al die wondertekens gesien wat Ek in Egipte en ook in die woestyn gedoen het, het hulle My steeds bly uittart. Hulle het hulle geheel en al nie aan My gesteur nie. 23Daarom sal hulle nooit die land sien wat Ek met ’n plegtige belofte aan hulle voorouers beloof het nie. Nie een van hierdie spul wat my groot Naam onder hulle voete vertrap het, sal hulle voete in die land sit nie. 24-25Maar my dienaar Kaleb is nie soos hulle nie. Hy het deur dik en dun aan my kant bly staan, daarom sal hy in die land wat hy help verken het, ingaan. Sy kinders sal in die land gaan bly, al bly die Amalekiete en die Kanaäniete nou nog in die valleie. Môre moet julle omdraai en die woestyn intrek in die rigting van die Rietsee.”
Die volk kry hulle verdiende loon
26Die Here vra toe vir Moses en Aäron: 27“Hoe lank gaan hierdie slegte spul mense nog aanhou om die rug vir My te draai? Ek het net mooi genoeg gehad van hulle gekerm! 28Gaan sê vir hulle: So seker as wat Ek leef, sê die Here, Ek gaan alles met julle doen wat Ek julle hoor sê het. 29Almal van julle wat ouer is as twintig en wie se name in die sensus opgeskryf is, dié wat teen My in opstand gekom het, se geraamtes sal in hierdie woestyn agterbly. 30Nie een van julle sal in die Beloofde Land ingaan nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne en Josua seun van Nun.
31“Wat julle kinders betref: Julle sê mos dat hulle almal daar in die nuwe land gevangenes sal wees. Wel, die teendeel is waar: dit is vir hulle wat Ek die nuwe land sal gee. Hulle sal sommer baie lief word vir die land wat julle verwerp het. 32Maar julle sal in hierdie woestyn doodgaan en julle geraamtes sal hier agterbly. 33Julle kinders sal vir 40 jaar in die woestyn rondtrek soos herders op soek na weiveld. Hulle sal die gevolge van julle ongehoorsaamheid aan My moet dra totdat julle hele geslag hier in die woestyn dood is. 34Omdat julle verspieders 40 dae lank in die land was om dit deur te kyk, sal julle nou vir julle straf ’n volle 40 jaar lank in die woestyn rondtrek. Vir elke dag wat hulle daar was, sal julle een jaar lank die gevolge van julle sonde moet dra. Dan sal julle agterkom hoe dit voel om My as julle vyand te hê. 35Ek belowe julle, Ek gaan al hierdie dinge laat gebeur met hierdie slegte klomp mense wat teen My in opstand gekom het. Hulle sal almal hier in die woestyn doodgaan. Ek, die Here, sê dit!”
36-37Die Here het toe die tien spioene wat die volk met hulle bangmaakstories om die bos gelei en teen Hom in opstand laat kom het, net daar laat doodgaan. ’n Vreemde siekte het hulle dood veroorsaak. 38Van al twaalf spioene het net Josua en Kaleb oorgebly.
’n Mislukte inval
39Toe Moses die Here se woord aan die volk oorgedra het, het hulle verskriklik begin huil van skok en spyt. 40Vroeg die volgende oggend het hulle kamp opgebreek en na die berge noord van hulle begin trek met die idee om die land van daar af in te neem. Hulle het besluit om op te trek na die land toe wat die Here beloof het. 41Moses het hulle probeer keer en vir hulle gevra: “Waarom wil julle al weer nie na die Here luister nie? Julle gaan nie regkry wat julle beplan nie. 42Moenie die land probeer inneem nie, want die Here keur nie julle planne goed nie. Daarom is Hy nie by julle nie. Julle vyande gaan julle platloop. 43Die Amalekiete en Kanaäniete wag vir julle. Hulle gaan julle doodmaak. Die Here is nie saam met julle in die geveg nie, julle het dan die rug vir Hom gedraai.”
44Maar die volk het hierdie waarskuwing geïgnoreer. Moses en die ark van die Here het toe nie saam met hulle gegaan toe hulle na die noordelike dele van die bergagtige gebied toe opgeruk het nie. 45Die Amalekiete en Kanaäniete wat in daardie gebied gebly het, het hulle aangeval en hulle ’n verpletterende neerlaag toegedien. Hulle het die Israeliete tot by Gorma teruggedryf.
Currently Selected:
Numeri 14: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.