YouVersion Logo
Search Icon

Maleagi 2

2
Advies vir die priesters
1Die volgende stukkie advies van die Here, die Grootkoning, is vir julle bedoel, priesters. 2Julle optrede moet bewys dat julle My eer en respekteer. As julle nie wil luister nie, gaan Ek dit baie moeilik maak vir julle. Ek gaan al julle voordele wegvat wat vir julle so belangrik is. As julle mooi gaan kyk, sal julle agterkom dat Ek dit alreeds begin doen het omdat julle nie luister na wat Ek vir julle sê nie. 3Julle sal nie kinders hê wat julle naam kan laat voortleef nie. Ek sal julle nog verder in die verleentheid bring deur die mis van die offers in julle gesigte te laat spat. In plaas daarvan dat julle met respek behandel word, sal die mense hulle neuse vir julle optrek asof julle soos vuilgoed op die ashoop ruik. 4Dan sal julle dalk verstaan dat dit Ek is, die God wat nooit op sy woord teruggaan nie, wat vir julle hierdie waarskuwing gestuur het sodat die ooreenkoms wat Ek met Levi gemaak het, kan voortgaan.
5In hierdie ooreenkoms het Ek belowe dat Ek hom lank sal laat lewe en dat Ek elke dag sal toesien dat hy versorg is en niks nodig het nie sodat hy sy werk vir My rustig en sonder bekommernis kan doen. Van my kant af het Ek die ooreenkoms nagekom en hy het respek en eer aan My bewys. 6Wat hy die mense geleer het, was die waarheid, want hy het dit by My gehoor. Omdat hy nie bang was om die waarheid reguit te praat nie, het dit baie mense laat besluit om My te dien en nie meer sonde te doen nie. 7’n Priester moet die mense kan leer wie en wat God is, dis sy werk. Hy moet ’n voorbeeld wees van hoe my kinders My moet dien, want hy is die verteenwoordiger van die Here, die Grootkoning.
8Ongelukkig, priesters, kon dit nie van julle gesê word nie. Julle het baie mense mislei omdat julle hulle verkeerd geleer het. So het julle ’n streep deur my ooreenkoms met Levi getrek.
9Daarom gaan Ek julle voor julle eie mense in die verleentheid bring en sonder eer los. Die rede daarvoor is in die eerste plek omdat julle nie na My wou luister nie, maar julle eie kop gevolg het. En in die tweede plek het julle nie almal gelyk behandel nie, maar julle het kant gekies vir dié wat agteraf vir julle omkoopgeskenke gegee het.
Moenie ontrou wees nie
10Is ons nie almal een Pa se kinders nie? Het dieselfde God ons nie gemaak nie? Hoekom breek julle God se ooreenkoms met ons voorouers deur mekaar so te belieg en te bedrieg? 11Dit wat in Juda en Israel en in Jerusalem gebeur, is skandelik. Die mans van Juda trou met buitelandse vroue wat God glad nie dien nie, en dan kom hulle na die Here se heilige tempel toe om te kom offer asof daar niks mee verkeerd is nie. 12Mag die Here hierdie losbandige mense uit die gemeenskap wegvat en hulle nooit weer toelaat om deel van die gemeente van die Here te word nie.
13Daar is nog iets wat julle doen. Julle kerm en kreun en huil omdat die Here volgens julle nie julle offers wil aanvaar nie. 14Maar daar is ’n rede daarvoor. Dis omdat die Here weet dat jy ontrou geword het aan die vrou met wie jy getrou het toe jy jonk was. Sy was nog altyd jou maat wat daar was vir jou in goeie en moeilike tye. Maar jy het al jou troubeloftes teenoor haar gebreek. 15Niemand wat nog ’n bietjie verstand het, maak só nie. Wat dink jy was God se doel toe Hy julle in die huwelik soos een mens gemaak het? Was dit nie juis dat julle kinders sou hê wat God sou ken en dien nie? Maar as jy so maak, gaan dit nie gebeur nie. Moenie toelaat dat jou emosies so met jou weghardloop dat jy die kosbaarste besitting wat jy het deur swak besluite verloor nie. 16“Ek haat egskeiding!” sê die Here, die God van Israel. Ek kan dit nie verdra as iemand so gevoelloos teenoor sy vrou optree nie. Dink mooi na oor wat jy doen en moenie jou belofte om aan jou vrou getrou te wees sommer net breek nie.
Die groot dag van die Here
17Al julle gepraat maak die Here moeg. En weereens sê julle julle kan dit nie verstaan nie. Maar tog hou julle aan sê: “God hou so baie van die slegte mense dat Hy hulle nie eens straf oor wat hulle verkeerd doen nie.”
En julle wat mekaar om elke hoek en draai loop en bedrieg, wil heel verwaand weet: “Waar is die God wat veronderstel is om reg te doen?”

Currently Selected:

Maleagi 2: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Video for Maleagi 2