Levitikus 24
24
Die daaglikse werk by die Here se tent
1Die Here het gesê Moses moet by 2die Israeliete suiwer olyfolie vra om die lampe in die tent aan die brand te hou. 3“Aäron moet sorg dat daar elke nag ’n lamp is wat in die tent van samekoms brand, in die deel voor die gordyn wat die deel afskort wat vir die Here afgesonder is. Dit moet altyd aan die brand gehou word. 4Hy moet ook kyk dat die lampies op die goue kandelaar gereeld brand. 5Hy moet ook twaalf brode bak. Elkeen moet gebak word van drie kilogram fynmeel. 6Hy moet die brood op die goue tafel voor die Here in twee stapels pak wat elkeen ses brode het. 7By elke stapel brood moet hy suiwer wierook neersit. Die wierook word vir die Here geoffer in die plek van die brood self. 8Elke sewende dag moet die dienaars weer nuwe brood daar gaan neersit. Dit moet gereeld gedoen word. 9Aäron en sy seuns mag dan die ou brood wegvat en gaan eet op ’n plek wat daarvoor eenkant gesit is. Die brood word net vir die Here se werk gebruik en vir niks anders nie. Aäron mag dit vat uit die offers wat vir die Here gebring word. Dit is ’n reël wat vasstaan.”
Die wet van vergelding
10’n Man wat ’n Israelitiese ma gehad het en ’n Egiptiese pa, het eenmaal in die kamp aan die baklei geraak met ’n Israelitiese man. 11Sy ma se naam was Selomit. Sy was Dibri se dogter. Hulle was uit die stam van Dan. Haar seun het gevloek en die Here se Naam gebruik asof dit sommer iets alledaags is. Die ander mense het hom toe na Moses gevat. 12Hulle het hom opgesluit sodat Moses vir die Here kon vra wat hulle met hom moes doen.
13Die Here het toe vir Moses gesê: 14“Vat die man wat gevloek het uit die kamp uit. Elkeen wat gehoor het wat hy gesê het, moet hulle hand op sy kop sit om te wys dat hy skuldig is. Daarna moet almal hom met klippe doodgooi. 15Sê dan vir die Israeliete: Enigiemand wat God se Naam sommerso gebruik sonder eerbied vir die Here, moet daarvoor boet. 16As ’n Israeliet of iemand van ’n ander plek die Here vloek, sal hy sonder meer doodgemaak word. Die volk moet hom met klippe doodgooi.
17“As ’n persoon iemand anders doodmaak, moet hy self doodgemaak word. 18Die persoon wat iemand anders se dier doodmaak, moet daarvoor vergoed en ’n dier wat dieselfde waarde het, in sy plek gee. 19As iemand ’n medemens aan sy lyf seermaak, moet hy op dieselfde plek seergemaak word en in eie munt terugbetaal word. 20As hy iemand se been breek, word sy been gebreek. As hy iemand se oog beskadig, word sy oog ook beskadig. As hy iemand se tand uitslaan, word sy eie tand uitgeslaan. Hy word presies met gelyke munt terugbetaal vir die skade wat hy gedoen het. 21As hy ’n dier doodmaak, kan hy nog daarvoor vergoed, maar as hy ’n mens doodmaak, moet hy met sy eie lewe betaal. 22Daar is net een wet vir almal. Die gebore Israeliet en die buitelander word presies eenders behandel. Ek is die Here. Ek is julle almal se God.”
23Moses het toe uitspraak in die saak gelewer en die Israeliete het die man wat gevloek het, uit die kamp uitgevat en hom daar met klippe doodgegooi. Die Israeliete het presies net so gemaak soos die Here vir Moses beveel het.
Currently Selected:
Levitikus 24: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.