Jeremia 20
20
Jeremia en Pasgur
1Pasgur was die seun van Immer. Hy was die priester wat in beheer van sake by die tempel was. Pasgur het gehoor wat Jeremia vir die mense by die tempel gesê het. 2Hy het Jeremia gevang en hom laat slaan. Daarna het hy Jeremia se voete in ’n blok laat vasmaak by die boonste Benjaminingang van die Here se tempel. 3Die volgende dag het Pasgur vir Jeremia vrygelaat. Toe het Jeremia vir hom gesê: “Pasgur, die Here het jou naam verander. Hy noem jou nou ‘Die man wat in angs lewe’. 4Want dit is wat die Here sê: Ek sal jou en jou vriende lam van vrees maak. Jou vriende sal voor jou oë deur die vyand doodgemaak word. Ek gee die hele bevolking van Juda oor in die hande van die koning van Babel. Hy sal party van die mense vang en na Babel wegvat as sy gevangenes. Ander sal hy met die swaard doodmaak. 5Ek sal toelaat dat die vyand Jerusalem kaal stroop. Hulle sal al die rykdom in die stad, al die voorraad, al die waardevolle artikels en die skatte van die konings van Juda roof en na Babel toe vat. 6Jy, Pasgur, en ook jou familie sal as gevangenes na Babel toe weggevat word. Daar sal jy doodgaan en begrawe word. Dieselfde sal ook gebeur met al jou vriende vir wie jy leuens vertel het oor wat gaan gebeur.”
Jeremia kla
7Jeremia het gebid: “Here, U het my omgepraat om u boodskapper te wees. Maar om die waarheid te sê, ek het my laat ompraat. U is baie sterker as wat ek is. U het my onkant gevang. Ek kon nie weerstand bied nie. Nou is ek die voorwerp van spot vir almal. Almal lag vir my. 8As ek my mond moet oopmaak om te praat, moet ek uitroep ‘geweld!’ en ‘vernietiging!’ Die boodskap wat U vir my gegee het, het my elke oomblik van die dag ’n bespotting by die mense gemaak. 9Ek het al by myself gedink ek sal niks van die Here sê of namens Hom praat nie. Maar ek kan net nie ophou nie. Die boodskap van die Here brand in my binneste soos ’n vuur. Dit is soos vuur wat in my liggaam ingehok is. Ek probeer so hard as wat ek kan om dit binne te hou, maar ek kan nie. 10Ek het gehoor dat hulle agter my rug praat. Hulle sê: Daar loop ‘Ou groot gevaar’. Dan sê hulle: ‘Kla hom aan! Kom ons kla hom aan!’ Selfs my naby vriende hou my dop. Hulle sit en wag vir my om ’n blaps te maak. Hulle sê: ‘Wag maar, hy sal vir homself ’n strik stel en dan sal ons ons kans kry om ons op hom te wreek.’ 11Maar Here, U is by my soos ’n sterk soldaat wat my beskerm. Ek sal niks oorkom nie. My vervolgers staan nie ’n kans teen U nie. Hulle sal tweede kom. Hulle sal rooi in die gesig staan omdat hulle niks kan regkry nie. Hulle vernedering sal nooit vergeet word nie.
12“Here, U is sterker as alles en almal! U is regverdig as U mense toets. U sien presies wat in mense se hart en gedagtes omgaan. Ek wil graag sien hoe U hulle terugbetaal vir wat hulle gedoen het. Ek het my saak in u hande gelos. 13Sing om vir die Here eer te bring! Praat oor hoe goed die Here is! Ek was soos ’n arm mens, maar U het my gered uit die mag van die mense wat my laat swaarkry het.”
14Ek is spyt dat ek ooit gebore is. Niemand mag ooit sê dat die dag van my geboorte ’n wonderlike dag was nie. 15Mag dit sleg gaan met die mens wat vir my pa gaan sê het: “Geluk, jy het ’n seun!” 16Mag dié man word soos die stede wat die Here destyds sonder om ’n oog te knip vernietig het. Mag sy dag begin met mense se angskrete en eindig met oorlogsgeskreeu! 17Hoekom wens ek dit? Omdat hy my nie doodgemaak het nog voor ek gebore is nie. Dan kon my ma se liggaam sommer my graf gewees het. 18Waarom is ek tog ooit gebore? My lewe is net swaarkry en pyn. Moet ek my hele lewe lank net verneder word?
Currently Selected:
Jeremia 20: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.