YouVersion Logo
Search Icon

Rigters 12

12
Jefta en Efraim
1Die stam van Efraim het sy weermag op die been gebring en oor die Jordaanrivier na Safon toe getrek. Daar aangekom, het hulle vir Jefta gesê: “Waarom het jy alleen teen die Ammoniete gaan veg en ons nie ook gevra om jou te help nie? Nou gaan ons jou huis bo jou kop afbrand!”
2Toe sê Jefta: “Ek en my soldate was in ’n bloedige stryd met die Ammoniete gewikkel. Ek het julle laat roep, maar julle het nie opgedaag om my te help nie. 3Toe ek sien niemand daag op nie, het ek my lewe gewaag en alleen teen hulle gaan veg, en die Here het toe aan my die oorwinning gegee. Hoekom wil julle nou teen my kom oorlog maak?”
4Die leiers van Efraim sê toe vir hom: “Julle spul in Gilead is in elk geval niks anders as ’n klomp weglopers uit Efraim en Manasse nie.” Jefta het toe sy soldate uit Gilead bymekaargemaak en teen Efraim oorlog gemaak en hulle verslaan. 5Die soldate van Gilead het al die driwwe van die Jordaanrivier beset om te keer dat die soldate van Efraim kon terugvlug. As daar dan ’n Efraimitiese vlugteling aankom en vra om deurgelaat te word, het hulle vir hom gevra: “Kom jy van Efraim af?” As die persoon dan sê: “Nee, beslis nie,” 6het hulle vir hom gevra om die woord “Sjibbolet” uit te spreek. Die mense van Efraim kon nie die woord reg uitspreek nie en het “Sibbolet” gesê. As hy dit dan verkeerd uitspreek, het hulle die persoon gevat en hom net daar in die Jordaanrivier doodgemaak. In hierdie tyd het hulle 42 000 soldate van Efraim doodgemaak.
7Jefta was ses jaar lank Israel se leier. Na sy dood is hy in een van die dorpe van Gilead begrawe.
Ibsan, Elon en Abdon
8Na Jefta het Ibsan uit Betlehem die leier van Israel geword. 9Hy het 30 seuns en 30 dogters gehad. Hy het toegelaat dat sy dogters met mans trou wat nie deel van hulle stam was nie, en vir sy seuns het hy vroue van buite sy stam laat kom om met hulle te trou. Ibsan was sewe jaar lank Israel se leier. 10Met sy dood is hy in Betlehem begrawe.
11Na hom was Elon uit Sebulon tien jaar lank Israel se leier. 12Na sy dood is Elon in Ajalon in die gebied van Sebulon begrawe.
13Na hom het Hillel se seun Abdon Israel se leier geword. Hy was afkomstig uit Piraton. 14Hy het 40 seuns en 30 kleinseuns gehad. Hulle het 70 donkies gehad waarop hulle gery het. Hy was agt jaar lank die leier van Israel. 15Na sy dood is hy in Piraton op die berge van Amalek in die gebied van Efraim begrawe.

Currently Selected:

Rigters 12: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy