Esegiël 5
5
’n Teken van die komende oordeel
1“Mens, vat ’n skerp swaard en gebruik dit as ’n skeermes. Skeer jou hare en jou baard daarmee af. Gebruik dan ’n skaal om jou hare te weeg, en deel jou hare in drie hopies wat ewe veel weeg. 2Vat dan een derde van die hare en plaas dit in die middel van jou kaart van Jerusalem wat op die baksteen geteken is. As die stad oorwin is, verbrand dan dié hare. Vat die tweede hopie hare en strooi dit oor die kaart uit. Terwyl jy dit uitstrooi, moet jy dit met jou swaard kap. En strooi die laaste hopie hare die wêreld vol. Net so gaan Ek my volk deur oorlog verstrooi. 3Hou net ’n klein bietjie van die hare uit en bêre dit iewers in jou klere sodat dit nie kan wegraak nie. 4Vat dan ’n paar van dié hare en gooi hulle in die vuur. Hulle moet verbrand word. Van daar af sal ’n vuur uitgaan en die mense wat van Israel oorgebly het, verteer en vernietig.”
5So sê die Here, Esegiël se God: “Wat jy nou doen, wys wat met Jerusalem gaan gebeur. Ek het Jerusalem in die middel van die nasies geplaas. Ek het haar gekies as my liefling. 6Maar Jerusalem het teen My in opstand gekom en nie gedoen wat Ek vir haar gesê het om te doen nie. 7Sy was selfs nog slegter as die nasies wat rondom haar was. Sy het geweier om die wette na te kom wat Ek vir haar gegee het om te gehoorsaam. 8Daarom,” sê die Here, Esegiël se God, “word Ek die Een wat teen jou gaan veg, Jerusalem. Ek self gaan jou straf, terwyl al die ander volke toekyk. 9Ek gaan jou swaarder straf oor jou afskuwelike optrede as wat Ek enigeen nog ooit gestraf het of ooit weer sal straf. 10Wanneer dit gebeur, sal ouers hulle eie kinders eet, en kinders sal hulle ouers eet. So erg sal die hongersnood wees. Selfs die paar mense wat die ramp oorleef, sal Ek straf deur hulle tot aan die uithoeke van die aarde te verstrooi, ver van hulle eie land af.
11“Ek sweer by Myself,” sê die Here, Esegiël se God, “dat Ek julle heeltemal van My af sal losmaak. Ek sal geen genade aan julle bewys nie omdat julle die plek waar Ek woon, vuil gemaak het met julle afskuwelike afgode en slegte dade. 12’n Derde van jou mense sal in die stad doodgaan deur die groot hongersnood en deur pessiektes. ’n Derde van die mense in die stad sal deur die vyand doodgemaak word wat rondom die stad gaan wees. En ’n derde sal vlug en oor die hele aarde verstrooi word, en Ek sal hulle met oorloë en moeilikhede agtervolg. 13Dan eers sal my woede oor hulle slegte dade bedaar en sal Ek tevrede wees. En dan sal Israel besef dat Ek, die Here, met hulle gepraat het en hulle gewaarsku het oor hulle slegte dade. Hulle sal verstaan dat Ek dit gedoen het omdat Ek hulle liefhet.
14“Ek verander Jerusalem in ’n ruïne. Al die nasies wat rondom jou bly, sal met Jerusalem spot. En almal wat naby die stad verbygaan, sal ook met die puinhope die spot dryf. 15Al die mense sal vir jou lag en jou spot. Jy sal ’n waarskuwing wees aan ander dat God se oordeel hulle ook gaan tref as hulle nie dadelik ophou met hulle slegte dade nie. Hulle sal sien hoe Ek die volk in my woede straf as Ek jou die dag vir jou dade laat boet.
16“Ek sal elke dag op julle skiet totdat Ek julle uitgeroei het, mense wat in Jerusalem bly. Ek sal julle skiet met ’n tekort aan kos wat al erger sal word totdat julle van die honger doodgaan omdat elke krummeltjie kos gedaan is. Die hongersnood sal al erger word totdat niemand meer kan oorleef nie. 17Ja, Ek stuur ’n hongersnood. Wilde diere en roofdiere sal julle aanval en julle kinders doodmaak. Ek stuur pessiektes en oorlog teen julle. Ek stuur die vyand wat julle met oorlog sal uitroei. Ek, die Here, het met julle gepraat.”
Currently Selected:
Esegiël 5: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.