YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 19

19
’n Begrafnislied vir die konings van Israel
1“Leer hierdie lied sodat jy dit by die begrafnis van die konings van Israel kan sing.
2“Wat is jou ma?
’n Leeuwyfie tussen die leeus!
Sy het tussen die jong leeus gaan lê. Daar het sy haar welpies grootgemaak.
3Een van haar welpies het sy gekies en grootgemaak. Hy het ’n jong leeumannetjie geword.
Hy het geleer om sy prooi te vang en op te vreet. Toe het hy mense begin vang.
4Al die nasies het van hom gehoor.
Toe het hulle gekom en ’n vanggat gegrawe en hom daarin gevang. Hulle het hom toe
met sterk kettings vasgebind en weggevat Egipte toe.
5“Die leeuwyfie het dit gesien en besef dat al haar hoop weggevat is.
Toe het sy nog een van haar welpies gevat en hom geleer hoe om ook ’n sterk leeumannetjie te word.
6Hierdie leeu het tussen die ander leeus rondgestap en later hulle leier geword.
Hy het geleer hoe om sy prooi te vang en op te vreet.
En toe het hy ook mense begin vang en opvreet.
7Hy het weduwees gevang en opgevreet en hele dorpe en stede verwoes.
Later het die mense se plase leeg gelê en die oeste op die landerye het vergaan,
want almal het gebewe so bang was hulle vir hierdie leeu as hy gebrul het.
8Toe het die mense van verskillende lande hom aangeval.
Hulle het hom omsingel en hulle het hulle nette uitgegooi.
Hulle het hom uiteindelik in ’n gat vasgekeer en gevang.
9Toe het hulle ysterhake deur hom gesteek en hom in ’n hok gesit
en hulle het hom na die koning van Babilonië toe gebring.
Niemand kon sy gebrul weer op die berge van Israel hoor nie.
10“Jou ma was soos ’n druiwestok wat langs ’n dam geplant is.
Die druiwestok het groen blare gehad omdat daar genoeg water was.
11Die takke van die druiwestok het sterk geword, so sterk dat hulle ’n staf daaruit gemaak het waarmee die koning regeer het.
Ná ’n ruk het die druiwestok hoog gegroei en bo al die ander druiwestokke uitgestaan.
Hy het uitgestaan bokant die ander, so hoog was hy en so hoog het sy takke gegroei.
12Maar toe is die druiwestok in woede uitgeruk en op die grond neergegooi.
Die warm woestynwind het die vrugte laat verdroog en sy takke afgeruk.
Die stam van die druiwestok is deur vuur vernietig.
13Vandag groei die druiwestok in die woestyn waar die grond hard en droog is.
14’n Vuur het van die takke af gekom en die vrug van die druiwestok vernietig.
Nie een van die takke wat nou groei, is sterk genoeg om uitgesny te word en as ’n staf
vir ’n koning te dien nie.”
Dit is die lied wat jy by die begrafnis moet sing. Die begrafnis het nou net begin.

Currently Selected:

Esegiël 19: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in