YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 11

11
Oordeel oor Israel se leiers
1Die Gees van die Here het my toe ook opgetel. Hy het my na die ingang van sy huis geneem, daar aan die oostekant. Daar sien ek toe 25 van die belangrikste leiers van Jerusalem. Onder die leiers was Jaäsanja die seun van Assur en Pelatja die seun van Benaja. Hulle almal is leiers onder my mense. 2Toe sê die Here vir my: “Mens, hierdie mans is verantwoordelik vir die slegte dade en die verkeerde raad wat deesdae so volop in Jerusalem voorkom. 3Dit is hulle wat vir die mense sê: ‘Is dit nie nou ’n goeie tyd om huise vir julle hier in die stad te bou nie? Ons stad is soos ’n sterk ysterpot. Binne-in hierdie sterk ysterpot sal ons veilig wees sodat geen ramp ons ooit sal tref nie.’ 4Daarom moet jy hard en duidelik oor hierdie leiers sê wat Ek vir jou sê.”
5Toe het die Here se Gees vir my gesê wat ek oor hierdie leiers moet sê: “Dit is wat die Here sê vir die volk Israel: Is dit wat julle vir die volk sê? Goed, Ek het dit gehoor. Ek ken in elk geval elke gedagte wat in julle opkom. 6Julle het aangehou moord pleeg totdat die strate van Jerusalem vol lyke lê. 7Daarom, sê die Here julle God nou vir julle, sál die stad wel soos ’n ysterpot word. Die mense wat onder julle slegte dade gely het, is soos stukke vleis wat in die ysterpot gegooi is. Maar julle sal glad nie veilig wees nie. Binnekort sleep Ek julle almal uit die stad uit. 8Julle sal die grootste oorlog sien waarvoor julle nog altyd bang was,” sê die Here die God van Esegiël.
9“Ek sal julle uit die stad Jerusalem uitjaag, en dan sal Ek julle aan vreemdelinge oorgee wat julle sal straf soos Ek wil hê dat julle oor julle slegte dade gestraf word. 10Julle sal doodgemaak word die hele pad tot by die grense van julle land. Dan sal julle regtig weet dat Ek die Here is. 11Nee, hierdie stad sal nie ’n ysterpot wees wat julle beskerm nie. Julle sal nie veilig wees teen gevare nie. Ek sal julle straf tot daar teen die grense van julle land. 12En dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is. Want julle het mos geweier om na My te luister. In plaas van na My te luister het julle eerder al die slegte dinge gedoen wat die nasies rondom julle vir julle geleer het.”
13Terwyl ek nog praat, is Pelatja die seun van Benaja skielik dood. Toe val ek voor die Here neer en roep hard uit: “Here my God, moet U al die mense wat aan Israel behoort dan doodmaak?”
Hoop vir Israel wat as gevangenes weggevoer is
14Toe het die Here weer met my gepraat: 15“Mens, die mense wat in Jerusalem oorgebly het, praat oor hulle familielede wat as gevangenes na ’n vreemde land weggeneem is. Hulle sê: ‘Hierdie familie van ons is ver van die Here af, daar waar hulle in ’n vreemde land bly. Daarom het die Here hulle land nou seker vir ons gegee!’ 16Omdat hulle so sê, moet jy vir die mense wat gevangenes in daardie vreemde land is, gaan vertel dat die Here, Esegiël se God, vir hulle sê: Ek het julle verstrooi sodat julle nou die hele wêreld vol is, ver van julle eie vaderland af. Maar onthou dit, Ek sal altyd daar wees vir julle, waar julle ook al is. Ek sal julle beskerm en oppas.
17“Sê ook vir hierdie mense, Esegiël: Ek sal julle weer eendag bymekaarmaak en terugbring van al die lande af waarheen Ek julle weggejaag het. En Ek sal die land Israel daardie dag weer vir julle teruggee as julle eie land.
18“Wanneer die mense daardie dag terugkom na hulle eie vaderland toe, sal hulle elke spoor van afgode en van slegte dade uitvee. 19Daardie dag sal Ek hulle harte skoon was en nuut maak. Hulle sal anders dink en anders lyk. Ek sal hulle hart wat nou van klip en yster gemaak is, wegvat en vir hulle ’n hart gee wat van vleis gemaak is sodat hulle My reg kan dien. 20Dan sal hulle luister na wat Ek vir hulle sê, en hulle sal dit ook doen. Hulle sal presies alles doen net soos Ek vir hulle beveel om te doen. Dan sal hulle my volk wees en Ek sal hulle God wees. 21Maar daardie mense wat aanhou slegte dinge doen en afgode aanbid, sal Ek vernietig. Hulle sal betaal vir al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het,” sê die Here, Esegiël se God.
22Toe het die boodskappers onder die troon van die Here hulle vlerke gelig en in die lug opgestyg met die wiele wat langs hulle draai. En die Here het op sy troon bokant die boodskappers gesit. 23Toe het die Here weggegaan uit die stad uit en bokant die berg aan die oostekant van die stad gaan staan.
24Nadat ek al hierdie dinge gesien het, het die Gees van die Here my opgetel en teruggebring na die vreemde land waar ons gevangenes was, daar na Babilonië toe. Ek het daar saam met my volksgenote as gevangene gebly. En so het alles wat ek oor Jerusalem gesien het, geëindig. 25Ek het vir my mense wat in die vreemde land gevangenes was, alles vertel wat die Here my gewys het.

Currently Selected:

Esegiël 11: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in