Deuteronomium 15
15
Skryf alle skuld elke sewende jaar af
1“Aan die einde van elke sewe jaar moet jy almal se skuld afskryf. 2Dit beteken dat almal wat geld vir ’n mede-Israeliet geleen het, dit in die sewende jaar moet afskryf. Hy moet geensins probeer om dit terug te kry nie, want die Here het gesê dit moet so gebeur. 3Jy mag wel die geld wat iemand van ’n ander volk jou skuld, probeer terugkry, maar nie wat jou broer jou skuld nie.
4“Daar sal geen arm mense meer onder julle wees nie, want die Here sal jou voorspoedig maak in die land wat Hy jou beloof het. 5Maar dan moet jy elke dag na die Here se stem luister en sy wil uitleef. 6Soos die Here gesê het, sal dit met jou so goed gaan dat baie volke van jou sal leen sonder dat jy self hoef te leen, en jy sal oor baie heers sonder om self oorheers te word.
7“Wanneer ’n mede-Israeliet in een van die dorpe van die land wat die Here aan jou gaan gee tog arm word en nie kos het om te eet nie, moet jy hom help. Jy mag nie jou hart en jou hand vir jou broer toemaak nie. 8Jy moet jou hand en jou beursie oopmaak en vir jou broer genoeg geld vir kos en klere leen. 9Moenie dink die sewende jaar is naby en dan weier om jou broer te help nie. Hy sal met die Here gaan praat; dan sal jy skuldig staan. 10Jy moet jou broer help sonder om te kla. Die Here sal jou dan in alles voorspoedig maak. 11Armes sal daar altyd wees; daarom moet jy sensitief vir jou broer se swaarkry wees.
12“Wanneer ’n mede-Israeliet so baie skuld dat hy as ’n slaaf aan jou verkoop word, moet hy ses jaar lank vir jou werk, maar in die sewende moet jy hom weer laat weggaan. 13Wanneer hy vertrek, moet jy hom darem nie met leë hande laat gaan nie. 14Gee hom volop van die goeie dinge waarmee die Here jou geseën het. Gee hom van jou vee, jou koring en jou wyn. 15Onthou, jy was ook ’n slaaf in Egipte, maar die Here het jou daaruit weggevat. Dit is waarom ek jou vandag hierdie opdrag gee. 16Wanneer daardie werker egter sê dat hy jou en jou gesin liefhet en eerder by julle wil bly, moet jy dit toelaat. 17Jy moet hom teen ’n deur laat staan en met ’n skerp voorwerp dwarsdeur sy oor tot in die deur druk. Dit sal die teken wees dat hy vir altyd jou werker sal wees. Jy moet ook dieselfde met ’n vrou doen wat jou slaaf is. 18Moenie bitter voel as jy ’n slaaf in die sewende jaar moet vrylaat nie. Hy het darem ses jaar vir jou teen die helfte van ’n gewone werker se salaris gewerk. Laat hom gaan en die Here sal vir jou ook goed wees.”
Eersgeborenes van die vee
19“Al die manlike diere van jou skape en beeste wat eerste gebore is, moet jy vir die Here opsy sit. Moenie daardie beeste laat werk of die skape skeer nie. 20Elke jaar moet jy hierdie vee na die plek toe neem wat die Here nog sal kies. Dan moet jy dit daar in die teenwoordigheid van die Here slag en dit saam met jou familie eet. 21Indien so ’n eersteling lam of blind is, moet jy dit nie vir die Here offer nie. 22Dan kan jy dit sommer daar waar jy bly, slag en almal kan dit eet. 23Net die bloed mag jy nie eet of drink nie. Gooi dit weg.”
Currently Selected:
Deuteronomium 15: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.