YouVersion Logo
Search Icon

2 Konings 9

9
Jehu word gesalf tot koning van Israel
1Intussen het die profeet Elisa iemand uit die profetegroep geroep en vir hom gesê: “Vat hierdie flessie olie en gaan na die dorp Ramot in Gilead toe. 2Gaan soek daar vir Jehu, die seun van Josafat en kleinseun van Nimsi. Roep hom weg van die ander offisiere af na ’n ander vertrek toe. 3Wanneer julle alleen is, moet jy die olie op sy kop uitgooi. Sê dan vir hom: ‘Die Here sê: Ek salf jou tot koning oor Israel.’ Daarna moet jy die deur oopmaak en maak dat jy so vinnig moontlik wegkom!”
4Die jong profeet het dit gedoen en na Ramot in Gilead toe gegaan. 5Die bevelvoerders van die leër was juis bymekaar toe hy daar aankom. Hy het gesê: “Ek het ’n boodskap vir u, Generaal.”
Jehu het gevra: “Vir wie van ons is die boodskap?”
“Dit is vir ú, Generaal,” het die jongman geantwoord.
6Jehu het toe opgestaan en saam met hom die huis ingegaan. Die jongman het die olie op sy kop uitgegooi en gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek salf jou om koning te wees oor my volk, Israel. 7Jy moet die familie van Agab, vir wie jy gewerk het, uitwis. Dan wreek Ek My so op Isebel vir die moord op my profete en die ander mense wat vir die Here gewerk het. 8Agab se familie moet almal doodgemaak word. Elke enkele manlike bloedverwant van Agab moet sterf! 9Ek sal Agab se familie uitwis soos Ek Jerobeam, die seun van Nebat, en Baesa, die seun van Agija, se families uitgewis het. 10Die honde sal Isebel se lyk op die plein in Jisreël vreet en niemand sal haar begrawe nie.’”
Nadat hy alles gesê het, het die jongman die deur oopgemaak en gevlug.
11Jehu het teruggegaan na die ander offisiere toe. Iemand het vir hom gevra: “Wat gaan aan? Wat wou hierdie kranksinnige kêrel by jou hê?”
Jehu het geantwoord: “Julle weet tog almal hoe hierdie mense kan onsin praat!”
12“Nee, jy lieg! Vertel vir ons wat hy gesê het,” het hulle aangedring.
Jehu het toe vir hulle gesê: “Hy het vir my gesê: ‘Die Here sê: Ek salf jou tot koning oor Israel.’”
13Hulle het dadelik hulle klere as ’n eerbewys op die trappe voor hom neergesit. Toe laat hulle iemand op die ramshoring blaas en almal het geskree: “Jehu is koning!”
Jehu maak vir Joram en Ahasia dood
14Jehu het toe planne begin beraam om Joram se bewind omver te werp. Joram se magte was by Ramot in Gilead saamgetrek om die stad teen ’n aanval van die Arameërs te beskerm. 15Koning Joram self is egter in die gevegte gewond en moes na Jisreël teruggaan om te herstel.
Jehu het gesê: “As julle my steun, sorg dan dat niemand hier uit Ramot vlug om die nuus van wat ons doen in Jisreël te gaan vertel nie.”
16Jehu het toe op sy strydwa geklim en na Jisreël toe gejaag. Joram was nog in die bed waar Ahasia hom besoek het.
17’n Wag op een van die torings het die klomp mense sien aankom en laat weet: “Hier kom ’n klomp mense aan.”
Joram het beveel: “Stuur iemand te perd om te gaan vra of hulle in vrede kom.”
18Toe die perderuiter by Jehu-hulle kom, sê hy: “Die koning vra of julle in vrede kom.”
Jehu het geantwoord: “Wat praat jy van vrede? Val agter my in!”
Die wag het vir Joram laat weet: “Die ruiter het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie!”
19Joram het toe nog ’n boodskapper gestuur, maar presies dieselfde het weer gebeur. 20Die wag het vir Joram gesê: “Die tweede boodskapper kom ook nie terug nie. En ek dink dit moet Jehu, die seun van Nimsi, wees wat hier aankom, want hy ry soos ’n mal mens!”
21Die koning het toe beveel: “Kry vir my ’n strydwa gereed!”
Koning Joram van Israel en koning Ahasia van Juda het toe op hulle strydwaens vir Jehu tegemoet gery. Hulle het mekaar op die stuk veld ontmoet wat vroeër aan Nabot behoort het. 22Toe hulle naby aan mekaar was, het Joram geroep: “Jehu, kom jy in vrede?”
“Vrede? Wat bedoel jy?” het Jehu gevra. “Hoe kan daar vrede wees terwyl jou ma vreemde gode laat vereer en towery bedryf?”
23Joram het besef wat aangaan en sy strydwa omgepluk om te vlug. Hy het vir Ahasia geskree: “Dit is verraad, Ahasia!”
24Jehu het sy boog gespan en Joram tussen die blaaie geskiet. Die pyl het deur sy hart gegaan en hy het net daar bo-op sy strydwa dood inmekaargesak. 25Jehu het vir Bidkar, sy adjudant, gesê: “Gooi hom net hier op Nabot se stuk grond af. Onthou jy destyds toe ek en jy langs mekaar agter sy pa Agab gery het, het Agab die volgende boodskap van die Here af gekry: 26‘Ek sweer dat Ek die moord op Nabot en sy seuns gesien het. Ek sal jou en jou familie op hierdie selfde stuk grond laat boet!’ Dus, gooi hom hier op Nabot se grond af, soos die Here gesê het.”
27Toe Ahasia sien wat gebeur, het hy weggejaag in die rigting van Bet-Gan. Jehu het agter hom aangejaag en vir sy mense geskree: “Skiet hom ook!” By die hoogte van Gur, naby Jiblaim, is hy gewond. Hy kon nog tot by Megiddo wegjaag, waar hy dood is. 28Sy amptenare het sy lyk op sy strydwa Jerusalem toe geneem en hom daar, in die Stad van Dawid, by sy voorouers begrawe. 29Ahasia het in Joram se elfde jaar as koning van Israel in Juda begin regeer.
Jehu maak vir koningin Isebel ook dood
30Toe Isebel hoor dat Jehu na Jisreël toe op pad was, het sy haar gegrimeer en haar hare versorg. Sy het by die venster gaan staan en buitentoe gekyk. 31Toe Jehu by die stadspoort inkom, het sy vir hom gevra: “Kom jy in vrede, moordenaar? Jy is net soos Simri wat sy heer vermoor het.”
32Jehu het na die venster toe opgekyk en gevra: “Wie is aan my kant?” Twee of drie van die paleiswerkers het vir hom gekyk. 33Toe skree hy vir hulle: “Gooi haar daar af!” Hulle het haar toe by die venster uitgegooi. Daar het van haar bloed teen die muur en teen die perde gespat en Jehu het haar nog verder onder die perdehoewe vertrap.
34Jehu het toe in die paleis gaan eet en drink. Toe hy versadig was, het hy gesê: “Iemand moet die vervloekte vrou gaan begrawe, want sy was darem ’n koning se dogter.” 35Toe hulle buite kom, was daar byna niks van haar oor nie. Hulle kon net haar kopbeen, haar voete en haar hande vind. 36Hulle het vir Jehu gaan vertel wat hulle gekry het. Hy sê toe: “Dit is nou presies wat die Here gesê het met Isebel sou gebeur. Elia, die profeet, het gesê: ‘Honde sal op die oop stuk grond in Jisreël Isebel se vleis eet.’ 37Haar oorblyfsels sal soos mis op die velde lê en niemand sal weet dit is Isebel se oorblyfsels nie.”

Currently Selected:

2 Konings 9: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in