YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 25

25
Amasia word koning van Juda
1Amasia was 25 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jehoaddan van Jerusalem. 2Die Here was tevrede met hom, al het hy Hom halfhartig gedien. 3Toe hy sy koningskap goed gevestig het, het hy die amptenare doodgemaak wat vir sy pa se dood verantwoordelik was. 4Maar hy het nie hulle kinders doodgemaak nie. Dit was uit gehoorsaamheid aan die Here se reël wat Moses neergeskryf het en wat lui: “Ouers kan nie oor hulle kinders se optrede of kinders oor hulle ouers s’n doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde veroordeel word.”
’n Suksesvolle veldtog teen Edom
5Amasia het Juda en Benjamin se leër opgeroep. Hy het hulle in groter en kleiner afdelings laat aantree. Die soldate was almal ouer as twintig en vaardig met spies en skild. Daar was 300 000 goeie soldate wat op kommando kon vertrek. 6Hy het ’n verdere 100 000 soldate teen omtrent drie en ’n half ton silwer van Israel gehuur.
7’n Profeet van God het met Amasia kom praat: “O Koning, u moenie die soldate van Israel saamvat op u veldtog nie. Die Here is nie lojaal aan Israel, aan daardie spul Efraimiete nie! 8Gaan alleen, moenie saam met hulle gaan veg nie, want die Here sal u laat struikel voor die vyand. Onthou, die Here kan ’n mens óf help, óf jou laat struikel.”
9Amasia het hom geantwoord: “Wat stel jy dan voor moet ek doen met die klomp silwer wat ek klaar betaal het om die Israeliete te huur?”
“Die Here kan u tog baie meer as dit gee!” het die man van God geantwoord.
10Amasia het die huursoldate uit Efraim toe ontslaan en hulle huis toe gestuur. Hulle was baie ontevrede oor Juda se optrede en het woedend huis toe gegaan.
11Amasia het sy leër toe uitgelei en 10 000 soldate van Seïr in die Soutdal verslaan. 12Hulle het ’n verdere 10 000 gevange geneem. Dié groep is na ’n krans toe geneem en bo van die krans af gegooi. Hulle het hulle almal te pletter geval.
13Die Israelitiese soldate wat Amasia weggestuur het, het intussen in Juda amok gemaak. Hulle het op ’n plundertog deur Juda gegaan en ’n klomp dorpe tussen Samaria en Bet-Goron aangeval. Hulle het sowat 3 000 mense doodgemaak en ’n groot hoeveelheid buit vir hulle gevat.
14Na sy suksesvolle veldtog teen die Edomiete het Amasia die gode saamgebring wat hy van die vyand afgeneem het. Hy het hulle vir hom opgestel, hom voor hulle neergebuig en hulle met offers vereer. 15Daaroor het die Here baie kwaad geword vir Amasia. Hy het ’n profeet na hom toe gestuur wat vir Amasia gesê het: “Hoe vereer u dan nou ’n spul gode wat nie eers hulle eie volk teen u kon beskerm nie?”
16Hy was nog besig om te praat toe Amasia hom skerp in die rede val: “Het ons jou dalk as koninklike raadgewer aangestel? Bly stil, voordat ek jou sommer hier op die plek doodmaak!”
Die profeet het toe ’n laaste woord ingekry: “Wat ek weet, is dat God besluit het om u te vernietig oor wat u aangevang het en omdat u nie na my raad wou luister nie.”
’n Rampspoedige veldtog teen Israel
17Nadat hy met sy raadgewers gepraat het, het Amasia ’n boodskap na koning Joas van Israel, Joahas se seun en Jehu se kleinseun, gestuur. Hy het gesê: “Kom, laat ons teen mekaar veg!” 18Joas het Amasia met ’n fabel geantwoord: “In die Libanonberg was daar ’n distelbos wat vir die sederboom gesê het: ‘Laat jou dogter met my seun trou.’ Net toe kom daar egter ’n wilde dier verby wat die distelbos vertrap. 19Jy het inderdaad nou vir Edom verslaan en jy voel trots daarop. Wees tog nou tevrede daarmee en bly by die huis! Waarom wil jy nou moeilikheid maak wat vir jou en die mense van Juda net ongeluk kan bring?”
20Amasia wou nie luister nie. Dit was God se plan. Hy wou hulle straf omdat hulle die gode van Edom vereer het. 21Joas van Israel het toe teen Amasia van Juda gaan veg. Hulle het by Bet-Semes in Juda slaags geraak. 22Juda is deur Israel verslaan en die Judeërs het huis toe gevlug. 23Joas het Amasia in Bet-Semes gevang en hom na Jerusalem toe gevat. Daar het hy ’n stuk van Jerusalem se muur laat afbreek: omtrent 180 meter tussen die Efraimspoort en die Hoekpoort. 24Hy het al die goud en silwer gevat wat hy kon kry, asook die waardevolle goed in die tempel wat deur Obed-Edom opgepas is en die goed in die paleis ook. Hy het dit alles, saam met die gyselaars wat hy gevang het, Samaria toe geneem.
Amasia se dood
25Koning Amasia van Juda het ná koning Joas van Israel se dood nog vyftien jaar lank in Jerusalem regeer. 26Die res van Amasia se geskiedenis word vertel in Die Geskiedenis van die Konings van Israel en Juda. 27Sedert die tyd dat Amasia ongehoorsaam geword het aan die Here, is daar ’n komplot in Jerusalem teen hom gesmee. Hy het Lagis toe gevlug. Die samesweerders het egter moordenaars agter hom aangestuur en hom daar in Lagis vermoor. 28Hulle het sy lyk op perde na Jerusalem toe teruggeneem en hy is in sy familiegraf in die Dawidstad begrawe.

Currently Selected:

2 Kronieke 25: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in