2 Kronieke 12
12
Rehabeam los die Here se hand
1Nadat Rehabeam sy koningskap goed gevestig het, het hy onafhanklik begin optree. Hy het die Here se wet verwerp. Die hele Israel het dieselfde begin doen. 2As gevolg van hulle ongehoorsaamheid aan die Here het koning Sisak van Egipte Jerusalem aangeval. Dit het gebeur in die vyfde jaar dat Rehabeam regeer het. 3Sisak het met 1 200 strydwaens, 60 000 berede soldate en ’n ontelbare klomp voetsoldate opgetrek. Die voetsoldate was Libiërs, Sukkeërs en Kussiete. 4Sisak het die versterkte stede van Juda maklik oorwin en toe teen Jerusalem opgetrek.
5Semaja, die profeet, het Rehabeam en die leiers van Juda gaan opsoek. Hulle was in Jerusalem bymekaar om te besluit hoe hulle op Sisak se aanval moes reageer. Semaja het vir hulle gesê: “Hier is die Here se boodskap vir julle: ‘Julle het My in die steek gelaat; daarom laat Ek julle nou met Sisak se aanval in die steek.’”
6Die leiers van Israel en die koning was verleë oor hulle sondes en hulle het laag voor die Here gebuig. Hulle het vir Hom gesê: “Die Here doen altyd wat reg is!”
7Toe die Here sien hoe jammer hulle is, het Hy weer vir Semaja ’n boodskap gegee: “Hulle is jammer oor hulle sonde. Maar Ek gaan hulle nie heeltemal vernietig nie. Ek sal nie nou vir Sisak gebruik om al my woede op Jerusalem uit te haal nie. 8Hulle sal wel vir ’n ruk sy onderdane word sodat hulle kan leer hoeveel beter dit is om My te dien in plaas van ’n aardse koning.”
9Koning Sisak van Egipte het Jerusalem ingekom en beslag gelê op al die skatte wat in die tempel en die paleis gestoor was. Hy het ook die goue skilde gevat wat Salomo laat maak het.
10Koning Rehabeam het toe bronsskilde in die plek daarvan gemaak. Hy het dit in die sorg gelaat van die bevelvoerders van die wagte wat die tempel se ingang opgepas het. 11Wanneer die koning tempel toe gegaan het, het die wagte die skilde saamgedra. Daarna het hulle dit in die wagkamer teruggesit.
’n Opsomming van Rehabeam se regeringstyd
12Omdat Rehabeam jammer was oor sy sonde, het die Here hom vergewe en nie vir hom kwaad gebly nie. Die Here het hom nie totaal vernietig nie. 13Rehabeam het sy posisie in Juda versterk en aanhou regeer. Hy was 41 toe hy koning geword het en hy het sewentien jaar lank in Jerusalem regeer. Dit is die stad wat die Here onder al die stamme van Israel uitgekies het as die plek waar Hy vereer wou word. Rehabeam se ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou. 14Hy was nie ’n goeie koning nie, want hy het nie gedoen wat die Here wou hê nie.
15Die res van Rehabeam se geskiedenis, van begin tot einde, is opgeskryf in Die Herinneringe van Semaja, die Profeet en Die Herinneringe van Iddo, die Siener en in die amptelike geslagsregisters. Rehabeam en Jerobeam het gedurig teen mekaar oorlog gemaak. 16Na Rehabeam se dood is hy in Jerusalem begrawe. Sy seun Abia het hom as koning opgevolg.
Currently Selected:
2 Kronieke 12: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.