YouVersion Logo
Search Icon

HOSÉA 7

7
Die verregaande boosheid van Efraim.
1TERWYL Ek Israel genees, word die ongeregtigheid van Efraim openbaar en die booshede van Samaría; want hulle pleeg bedrog en die dief breek in en 'n rowerbende plunder op die straat.
2En hulle sê nie in hulle hart dat Ek aan al hulle boosheid dink nie; nou omsingel hulle dade hulle, dit lê oop voor my aangesig.
3Met hulle boosheid verbly hulle die koning en met hulle leuens die vorste.
4 Hulle is almal owerspelers; hulle is soos 'n oond wat bly brand, ook al het die bakker opgehou met stook, vandat die deeg geknee word totdat dit deursuur is.
5Op die dag van ons koning is die vorste siek van verhitting deur wyn; hy steek sy hand uit na die spotters.
6Ja, hulle het hul hart gemaak soos 'n oond in hul arglistigheid; die ganse nag deur slaap hulle bakker, in die môre vroeg brand dit soos 'n vuurvlam.
7Hulle almal gloei soos 'n oond en verteer hul regeerders, al hulle konings val; daar is niemand onder hulle wat My aanroep nie.
8Efraim — hy vermeng hom met die volke; Efraim is 'n roosterkoek wat nie omgekeer is nie.
9 Vreemdes verteer sy krag, en hy bemerk dit nie; ook is grysheid oor hom uitgesprei, en hy weet dit nie.
10Ja, die trotsheid van Israel getuig openlik teen hom; en tog bekeer hulle hul nie tot die Here hulle God nie, en ondanks dit alles soek hulle Hom nie.
11 So het Efraim dan geword soos 'n onnosele duif sonder verstand; hulle roep na Egipte, hulle gaan na Assur.
12Wanneer hulle gaan, sal Ek my net oor hulle uitsprei; soos die voëls van die hemel trek Ek hulle neer; Ek tugtig hulle soos in hulle samekoms aangekondig is.
13Wee hulle, omdat hulle van My weggevlieg het! Verwoesting oor hulle, omdat hulle teen My oortree het! Ék tog wou hulle verlos, maar húlle het leuens teen My gespreek.
14 Ook roep hulle nie van harte na My nie, maar jammer op hulle bedde; ter wille van koring en mos kerwe hulle hulself stukkend; hulle is opstandig teen My.
15Alhoewel Ek hulle arms geoefen, versterk het, het hulle kwaad teen My beraam.
16Hulle keer terug, maar nie na bo nie; hulle is soos 'n bedrieglike boog; hulle vorste sal val deur die swaard weens die skeldwoorde van hulle tong. Dit is hulle bespotting in Egipteland.

Currently Selected:

HOSÉA 7: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy