YouVersion Logo
Search Icon

EFÉSIËRS 2

2
Verlossing uit genade.
1 EN julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes
2waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,
3onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.
4Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het,
5ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered —
6en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,
7sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.
8Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
10Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
Heidene en Jode met God deur die kruis van Christus versoen.
11DAAROM, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word,
12dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.
13Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.
14Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het
15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep
16en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.
17En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was;
18want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.
19So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God,
20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,
21in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die Here,
22in wie julle ook saam opgebou word tot 'n woning van God in die Gees.

Currently Selected:

EFÉSIËRS 2: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in