DEUTERONÓMIUM 9
9
Herinnering aan Israel se opstand en oortredinge.
1HOOR, Israel, jy trek vandag deur die Jordaan om nasies in besit te gaan neem wat groter en sterker is as jy, stede wat groot en tot aan die hemel versterk is,
2'n groot volk van hoë gestalte, die kinders van die Enakiete, wat jy self ken en van wie jy hoor sê het: Wie kan standhou voor die kinders van Enak?
3Weet dan vandag dat die Here jou God die Een is wat voor jou oortrek soos 'n verterende vuur. Hý sal hulle vernietig en hulle voor jou onderwerp, sodat jy hulle gou kan verdrywe en tot niet maak soos die Here jou beloof het.
4As die Here jou God hulle voor jou uit verjaag, moet dan nie in jou hart spreek en sê: Die Here het my ter wille van my geregtigheid ingebring om hierdie land in besit te neem nie; want weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die Here hulle voor jou uit.
5 Nie ter wille van jou geregtigheid en die opregtheid van jou hart kom jy in om hulle land in besit te neem nie, maar weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die Here jou God hulle voor jou uit, en om die woord te vervul wat die Here vir jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, gesweer het.
6Weet dan dat die Here jou God nie ter wille van jou geregtigheid jou hierdie goeie land gee om dit in besit te neem nie, want jy is 'n hardnekkige volk.
7Dink daaraan, vergeet nie hoe jy die Here jou God in die woestyn vertoorn het nie; van die dag af dat jy uit Egipteland uitgetrek het, totdat julle by hierdie plek gekom het, was julle wederstrewig teen die Here.
8Ja, by Horeb het julle die Here vertoorn, sodat die Here toornig was op julle om julle te verdelg.
9 Toe ek op die berg geklim het om die kliptafels te ontvang, die tafels van die verbond wat die Here met julle gesluit het, het ek veertig dae en veertig nagte lank op die berg gebly — brood het ek nie geëet en water nie gedrink nie —
10 en die Here het my die twee kliptafels gegee wat beskrywe was met die vinger van God, en daarop al die woorde soos die Here op die berg, uit die vuur, met julle gespreek het, op die dag van die vergadering.
11En aan die einde van veertig dae en veertig nagte het die Here my die twee kliptafels gegee, die tafels van die verbond,
12en die Here het vir my gesê: Staan op, klim hiervandaan gou af, want jou volk wat jy uit Egipte uitgelei het, het verderflik gehandel; hulle het gou afgewyk van die weg wat Ek hulle beveel het; hulle het vir hulle 'n gegote beeld gemaak.
13Verder het die Here met my gespreek en gesê: Ek het hierdie volk aangesien, en kyk, dit is 'n hardnekkige volk.
14 Laat My staan dat Ek hulle verdelg en hulle naam onder die hemel uitdelg; en Ek sal jou 'n nasie maak wat magtiger is en meer as hulle.
15 Daarop het ek omgedraai en van die berg afgeklim terwyl die berg met vuur brand, en die twee tafels van die verbond was in my twee hande.
16Toe sien ek dat julle waarlik teen die Here julle God gesondig het; julle het vir julle 'n gegote kalf gemaak; julle het gou afgewyk van die weg wat die Here julle beveel het.
17En ek het die twee tafels gegryp en dit uit my twee hande gegooi en dit voor julle oë verbrysel.
18Daarop het ek voor die aangesig van die Here neergeval, soos die eerste keer, veertig dae en veertig nagte lank — brood het ek nie geëet en water nie gedrink nie — vanweë al julle sonde wat julle begaan het deur te doen wat verkeerd is in die oë van die Here om Hom te terg.
19Want ek was bang vir die toorn en die grimmigheid waarmee die Here op julle so toornig was, dat Hy julle wou verdelg; maar die Here het my dié keer ook verhoor.
20Ook was die Here baie toornig op Aäron, sodat Hy hom wou verdelg; maar ek het ook vir Aäron in dié tyd gebid.
21En ek het julle sonde, die kalf wat julle gemaak het, geneem en dit met vuur verbrand en dit stukkend gestamp en terdeë gemaal totdat dit so fyn soos stof was; en dié stof het ek in die stroom gegooi wat van die berg afkom.
22Ook by Tabéra en by Massa en by Kibrot-Hattáäwa het julle elke keer die Here vertoorn.
23En toe die Here julle uit Kades-Barnéa gestuur het met die woorde: Trek op en neem die land in besit wat Ek julle gegee het — was julle wederstrewig teen die bevel van die Here julle God en het julle Hom nie geglo en na sy stem nie geluister nie.
24Wederstrewig was julle teen die Here van die dag af dat ek julle ken.
25En ek het neergeval voor die aangesig van die Here, die veertig dae en veertig nagte wat ek neergeval het, omdat die Here gesê het dat Hy julle wou verdelg.
26 En ek het die Here gebid en gesê: Here, Here, stort u volk en u erfdeel wat U deur u grootheid verlos het, wat U uit Egipte deur 'n sterke hand uitgelei het, nie in die verderf nie.
27Dink aan u knegte Abraham, Isak en Jakob; kyk nie na die hardheid van hierdie volk of na hulle goddeloosheid en hulle sonde nie,
28sodat die land waar U ons uitgelei het, nie kan sê nie: Omdat die Here hulle nie kon bring in die land wat Hy hulle beloof het nie, en omdat Hy hulle haat, het Hy hulle uitgelei om hulle in die woestyn te laat sterwe!
29 Hulle is tog u volk en u erfdeel wat U deur u grote krag en u uitgestrekte arm uitgelei het.
Currently Selected:
DEUTERONÓMIUM 9: AFR53
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.