YouVersion Logo
Search Icon

Sefanja 3

3
Oordeel oor Jerusalem en die nasies
1Wee die gewelddadige stad,
so vuil en besoedel!
2Sy het na geen stem geluister nie,
geen teregwysing aanvaar nie.
Op die Here het sy nie vertrou nie,
tot haar God het sy nie genader nie.
3Die •hoë amptenare in die stad
is brullende leeus,
haar regters is nagwolwe
wat niks tot die oggend
laat oorbly nie.
4Haar profete is vermetel,
verraderlike mense,
haar priesters ontheilig wat heilig is,
en doen die wet geweld aan.
5Die Here is regverdig in die stad,
Hy doen geen onreg nie.
Oggend na oggend gee Hy
sy beslissings as die lig,
dit ontbreek nooit nie;
maar die boosdoener
ken geen skaamte nie.
6“Ek het nasies uitgewis,
hulle hoektorings
staan verlate.
Ek het hulle strate in puin gelê –
niemand loop daar nie.
Hulle stede lê verwoes –
sonder mense, sonder inwoners.
7Ek het gedink,
jy sal beslis vir My ontsag hê,
jy sal die teregwysing aanvaar.
Dan sou haar woonplek
nie verwoes word nie –
alles wat Ek oor haar bepaal het.
Maar nogtans was hulle ywerig
om net slegte dade te bly doen.
8Daarom moet julle My verwag,”
is die uitspraak van die Here,
“daardie dag as Ek opstaan
vir die buit.
Want my beslissing is:
om nasies te versamel
en koninkryke bymekaar
te maak,
om my verontwaardiging,
al my brandende toorn,
oor hulle uit te giet;
want deur die vuur van my drif
sal die hele aarde verteer word.
Beloftes aan die nasies en Jerusalem
9“Ja, daarna sal Ek weer
volke se lippe rein maak,
sodat almal die Here se Naam
aanroep,
en Hom skouer aan skouer dien.
10Van anderkant die riviere van Kus
sal hulle wat My aanbid,
wat Ek verstrooi het,
offers aan My bring.
11Op daardie dag
sal jy jou nie skaam
oor al jou dade
waarmee jy teen My
in opstand gekom het nie,
want dan sal Ek jou hoogmoedige
grootpraters uit jou midde verwyder.
Jy sal nie langer selfvoldaan wees
op my heilige berg nie.
12Ek sal in jou midde 'n nederige
en arm volk laat oorbly,
en hulle sal in die Here se Naam
skuiling vind.
13Die oorblyfsel van Israel
sal nie onreg doen
en leuens vertel nie;
'n bedrieglike tong
sal nie in hulle mond
te vinde wees nie.
Ja, hulle is diegene wat sal wei
en gaan lê,
sonder dat iemand hulle opjaag.”
14Jubel van vreugde,
dogter van Sion,
roep dit uit, Israel!
Verbly en verheug jou
met jou hele hart,
dogter van Jerusalem!
15Die Here het die oordele oor jou
afgewend,
jou vyande uit die weg geruim.
Die Koning van Israel, die Here,
is in jou midde;
jy sal geen onheil meer vrees nie.
16Op daardie dag sal vir Jerusalem
gesê word:
“Moenie vrees nie, Sion;
Moenie dat jou moed
jou begewe nie.
17Die Here jou God is in jou midde,
'n held wat verlos.
Hy verheug Hom met blydskap
oor jou,
Hy maak jou stil met sy liefde.
Hy sal oor jou juig met jubelkrete.”
18“Die getreur by die fees
sal Ek van jou af wegneem,
dit is 'n las op jou, 'n skande.
19Kyk, Ek sal dan afreken
met almal wat jou in daardie tyd
verdruk het.
Ek sal die verlamdes verlos,
en hulle wat uitmekaar gejaag is,
bymekaar maak.
Ek sal hulle roem en aansien gee
in elke land waar hulle verneder is.
20In daardie tyd sal Ek julle
laat kom,
terselfdertyd sal Ek julle
bymekaarmaak.
Ja, Ek sal vir julle
onder al die nasies op aarde
aansien en roem gee
wanneer Ek julle lot voor julle oë
verander,” sê die Here.

Currently Selected:

Sefanja 3: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy