YouVersion Logo
Search Icon

Romeine 3

3
Betroubaarheid en regverdigheid van God
1Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? 2Baie, in elke opsig. Want in die eerste plek is die woorde van God aan hulle toevertrou. 3Maar wat nou? As sommige ontrou geword het, maak hulle ontrouheid God se getrouheid ongedaan? 4Hoegenaamd nie. Al is elke mens vals, laat God waaragtig wees. Soos daar geskryf staan,
“sodat U reg bewys kan word
deur u woorde,
en U sal wen wanneer
U oordeel”.
5Maar as ons ongeregtigheid die regverdigheid van God bewys, wat sal ons sê? Is God dan onregverdig – ek redeneer nou soos 'n mens – wanneer Hy sy toorn oor ons bring? 6Hoegenaamd nie! Want hoe sal God dan oor die wêreld oordeel? 7Maar as deur my valsheid God se waarheid oorvloedig blyk, tot sy heerlikheid, waarom word ek dan nog as sondaar geoordeel? 8Moet ons nie sê – soos wat ons belaster word, en soos sommige ons dit in die mond lê, “kom ons doen die slegte, sodat die goeie daaruit kan voortkom” nie? Tereg verdien sulke mense hulle veroordeling.
Alle mense skuldig voor God
9Wat dan? Is ons beter daaraan toe? Hoegenaamd nie! Want ons het alreeds tevore Jode sowel as Grieke daarvan aangekla dat almal onder die sonde is; 10soos daar geskryf staan:
“Daar is niemand regverdig nie,
selfs nie een nie;
11daar is niemand verstandig nie,
daar is niemand wat God soek nie.
12 Almal het afgedwaal;
saam het hulle ontaard.
Daar is niemand
wat goed doen nie,
daar is selfs nie een nie.”
13“Hulle keel is 'n oop graf;
met hulle tonge bedrieg hulle;
die gif van adders
is op hulle lippe. ”
14 “Hulle mond is vol
vervloeking en bitterheid.”
15 “Haastig is hulle voete
om bloed te vergiet.
16Verwoesting en ellende
is op hulle paaie,
17en 'n pad van vrede
ken hulle nie.”
18 “In hulle oë is daar
geen vrees vir God nie.”
19Ons weet dat alles wat die wet sê, gerig is aan diegene wat onder die wet staan, sodat elke mond die swye opgelê kan word, en die hele wêreld hulle voor God moet verantwoord. 20Daarom sal geen mens op grond van die uitvoering van die wet voor Hom geregverdig word nie, want juis deur die wet ken ons die sonde.
Vryspraak deur die geloof
21 Maar nou word die geregtigheid van God, waarvan die Wet en die Profete getuig, sonder die wet bekend gemaak. 22Hierdie geregtigheid gee God deur die geloof in Jesus •Christus aan almal wat glo. Want daar is geen onderskeid nie: 23 Almal het trouens gesondig, en die eer aan God ontbreek by hulle; 24en tog word hulle goedgunstig op grond van sy genade vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus. 25-26God het Hom, deur sy bloed, daargestel as versoeningsoffer wat deur die geloof verkry word, as bewys van sy geregtigheid; want so het Hy in sy verdraagsaamheid die sondes wat voorheen gedoen is, oorgesien. Hy het sy geregtigheid in die huidige tyd bewys om so regverdig te wees en dié wat in Jesus glo, regverdig te verklaar.
27Is daar dan nog sprake van roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Die wet van die werke? Nee, deur die wet van die geloof. 28 Ons is immers daarvan oortuig dat 'n mens regverdig verklaar word deur die geloof, sonder die uitvoering van die wet. 29 Of is God net die God van Jode? Is Hy nie ook God van nie-Jode nie? Ja, ook van nie-Jode, 30aangesien dit een God is wat besnedenes op grond van die geloof regverdig sal verklaar, en ook onbesnedenes deur die geloof. 31 Maak ons dan deur die geloof die wet ongeldig? Hoegenaamd nie! Trouens, ons bevestig die wet.

Currently Selected:

Romeine 3: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in