YouVersion Logo
Search Icon

Spreuke 3

3
Ontsag vir die Here
1 My seun, my onderrig
moet jy nie vergeet nie,
en my gebooie –
jou hart moet daarby hou;
2want die lengte van jou leeftyd,
die lewensjare en vrede
sal dan vir jou vermeerder word.
3 Troue liefde en waarheid
moet jou nooit verlaat nie.
Bind dit om jou nek,
skryf dit op die tafel van jou hart,
4 dan sal jy guns
en goeie begrip vind
in die oë van God en die mense.
5Vertrou op die Here
met jou hele hart –
op jou eie insig
moet jy nie staatmaak nie.
6 Ken Hom in al jou weë,
en Hy sal jou paaie reguit maak.
7 Moenie wys wees in jou eie oë nie.
Jy moet ontsag hê vir die Here,
bly weg van die kwaad.
8 Genesing sal dit bring
vir jou liggaam
en verkwikking vir jou gebeente.
9 Eer die Here met jou rykdom,
met die beste deel
van jou volle oes;
10 dan sal jou graanskure
oorvol wees,
en van •nuwe wyn
sal jou parskuipe oorloop.
11 Die vermaning van die Here,
my seun, moet dit nie verwerp nie,
en moenie 'n afkeer hê
van sy teregwysing nie.
12Want die een vir wie
die Here liefhet, wys Hy tereg,
soos 'n vader die seun vir wie hy omgee.
13 Hoe gelukkig is 'n mens
wat wysheid vind,
en 'n mens wat verstandigheid verkry!
14 Ja, die wins wat wysheid lewer,
is meer as dié van silwer,
meer as dié van goud
is haar opbrengs.
15Sy is kosbaarder as koraal;
niks wat jy begeer,
kan met haar vergelyk word nie.
16 'n Lang lewe
is in haar regterhand,
en in haar linkerhand,
rykdom en eer.
17Haar weë is aangename weë,
en al haar paaie is vrede.
18 'n Boom van lewe is sy
vir hulle wat haar aangryp,
en hulle wat haar vashou,
word elkeen gelukkig genoem.
19 Die Here self het die aarde
gegrondves met wysheid,
die hemel gevestig met verstand.
20 Deur sy kennis
is die •oerwaters gekloof
en drup die wolke dou.
21 My seun, vindingrykheid
en goeie oordeel –
laat dit nie aan jou oë ontglip nie;
hou daarby.
22Dit sal lewe wees vir jou wese,
'n sieraad vir jou nek.
23 Dan sal jy veilig loop op jou pad;
jou voet sal jy nie stamp nie.
24 As jy gaan lê,
sal jy nie verskrik wees nie,
as jy lê,
sal jou slaap soet wees.
25 Jy hoef nie bang te wees
vir 'n onverwagte verskrikking,
of vir die teenspoed van goddeloses
wanneer dit kom nie.
26Want die Here
sal aan jou sy wees,
en Hy sal keer dat jou voet
in 'n strik trap.
Wyse optrede
27 Moenie iets goeds weerhou
van wie dit verdien,
terwyl dit in jou mag is
om op te tree nie.
28 Moenie vir jou medemens sê,
“Gaan en kom later weer –
môre sal ek dit gee!”
terwyl jy dit by jou het nie.
29 Moenie teen jou medemens
kwaad smee,
terwyl hy in goeie trou
by jou woon nie.
30 Moenie onnodig 'n saak
teen iemand begin,
as hy jou geen kwaad
aangedoen het nie.
31 Moenie iemand
wat geweld gebruik, beny nie,
en moenie enige van sy paaie kies nie;
32 want vir die Here is iemand
wat die spoor byster raak, afstootlik –
maar opregtes geniet sy vertroue.
33 Die Here se vervloeking rus
op die huis van goddeloses,
maar die tuiste van regverdiges
seën Hy.
34 Met spotters spot Hy self,
maar aan magteloses
skenk Hy genade.
35Eer is wat wyses as erfdeel ontvang,
maar dwase, dié verhoog Hy
tot skande.

Currently Selected:

Spreuke 3: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in