YouVersion Logo
Search Icon

Levitikus 18

18
Voorskrifte vir 'n heilige volk
1Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2“ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Ek is die Here julle God. 3 Die gebruike van Egipteland, waar julle gewoon het, mag julle nie nadoen nie, en die gebruike van die land Kanaän, waarheen ek julle gaan neem, mag julle nie nadoen nie; volgens hulle voorskrifte mag julle nie leef nie. 4 My bepalings moet julle uitvoer en my vaste voorskrifte moet julle noukeurig volg. Ek is die Here julle God. 5 Kom my vaste voorskrifte en bepalings na; die mens wat dit doen, sal daardeur lewe. Ek is die Here.
6“ ‘Geen man onder julle mag naby enige bloedverwant kom met die doel om naaktheid te ontbloot nie. Ek is die Here. 7 Die naaktheid wat aan jou vader behoort, naamlik die naaktheid van jou moeder, mag jy nie ontbloot nie. Sy is jou moeder. Jy mag nie haar naaktheid ontbloot nie. 8 Die naaktheid van 'n vrou van jou vader mag jy nie ontbloot nie. Dit is jou vader se naaktheid. 9 Die naaktheid van jou suster, jou vader of jou moeder se dogter, mag jy nie ontbloot nie, of sy nou as deel van die huishouding gebore is of nie. Jy mag hulle naaktheid nie ontbloot nie. 10Die naaktheid van jou seun se dogter of jou dogter se dogter mag jy nie ontbloot nie – dit is immers jou eie naaktheid. 11Die naaktheid van 'n dogter van 'n vrou van jou vader, wat deur jou vader verwek is – sy is jou suster, jy mag haar naaktheid nie ontbloot nie. 12Die naaktheid van jou vader se suster mag jy nie ontbloot nie. Sy is jou vader se bloedverwant. 13Die naaktheid van jou moeder se suster mag jy nie ontbloot nie, want sy is jou moeder se bloedverwant. 14Die naaktheid wat aan jou vader se broer behoort, mag jy nie ontbloot nie. Jy mag nie naby sy vrou kom nie. Sy is jou tante. 15Die naaktheid van jou skoondogter mag jy nie ontbloot nie. Sy is jou seun se vrou. Jy mag haar naaktheid nie ontbloot nie. 16 Die naaktheid van jou broer se vrou mag jy nie ontbloot nie. Dit is jou broer se naaktheid. 17 Die naaktheid van 'n vrou en haar dogter mag jy nie ontbloot nie. Die dogter van jou vrou se seun en die dogter van haar dogter mag jy nie as vrou neem om haar naaktheid te ontbloot nie. Hulle is haar bloedverwante. Dit sou 'n skanddaad wees.
18“ ‘Jy mag nie, om haar naaktheid te ontbloot, 'n vrou as tweede vrou by haar suster neem, terwyl dié nog lewe nie. 19 En jy mag nie naby 'n vrou kom om haar naaktheid te ontbloot terwyl sy •onrein is tydens haar menstruasie nie. 20 Jy mag nie met jou volksgenoot se vrou gemeenskap hê en deur haar onrein raak nie.
21“ ‘ Jy mag nie iemand uit jou nageslag aanbied om hulle aan Moleg toe te wy nie. Jy mag nie die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die Here.
22“ ‘ By 'n man mag jy nie slaap soos jy by 'n vrou slaap nie. Dit is iets afstootliks. 23 Met geen dier mag jy geslagsgemeenskap hê en daardeur onrein raak nie. 'n Vrou mag nie voor 'n dier gaan staan om te paar nie. Dit is skandalig.
24“ ‘ Julle moet julle nie op al hierdie maniere verontreinig nie, want op al hierdie maniere het die nasies wat Ek voor julle gaan uitdryf, hulle verontreinig. 25 Die land het onrein geword. Ek het die land tot verantwoording geroep oor haar sondeskuld en sy het haar inwoners uitgespoeg.
26“ ‘Julle moet my vaste voorskrifte en bepalings nakom. Julle mag nie enige van hierdie afstootlike dinge doen nie, die gebore Israeliete én die •vreemdelinge wat tussen julle woon. 27Want al hierdie afstootlike dinge het die mense wat voor julle in die land was, gedoen, en die land het onrein geword. 28 Die land mag ook julle nie uitspoeg omdat julle haar verontreinig soos dit die nasies wat voor julle daar was, uitgespoeg het nie. 29Ja, elkeen wat enige van hierdie afstootlike dinge doen – die persone wat dit doen, moet uit die midde van hulle volk verwyder word. 30 Julle moet die verpligtinge wat Ek julle oplê, nakom, deur geeneen van die afstootlike voorskrifte uit te voer wat voor julle gedoen is nie. Julle mag julle nie daardeur verontreinig nie. Ek is die Here, julle God.’ ”

Currently Selected:

Levitikus 18: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy