YouVersion Logo
Search Icon

Job 7

7
1“ Is dwangarbeid nie 'n sterfling
se lot op aarde nie?
Is sy dae nie maar die dae
van 'n dagloner nie?
2Soos 'n slaaf smag hy na skaduwee;
soos 'n dagloner wag hy vir sy loon.
3 So het leë maande my erfdeel geword,
en is nagte van teenspoed aan my toegewys.
4 As ek gaan lê, dink ek,
Wanneer kan ek opstaan? –
maar die aand sleur voort.
Ek is sat van rusteloos wees,
tot die oggendskemer.
5 My liggaam is oortrek
van maaiers en 'n kors stof;
my vel het verhard en dit bars oop.
6My dae is vinniger as 'n wewersklos –
dit kom tot 'n einde sonder hoop.
7 Dink daaraan dat my lewe maar 'n asem is;
my oë sal nie weer iets goeds sien nie.
8 Die oog van die Een wat na my kyk,
sal my nie sien nie.
U oë sal op my gerig wees,
maar ek sal nie daar wees nie.
9 'n Wolk raak tot niet en gaan weg;
so is iemand wat na die •doderyk afdaal –
hy kom nie weer na bo nie.
10 Hy keer nie weer terug na sy huis nie;
sy plek ken hom nie meer nie.
11“ Op my beurt sal ek my mond nie hou nie.
Ek wil praat uit die benoudheid van my gees;
ek wil kla uit die bitterheid van my siel!
12Is ek die see of 'n seemonster,
dat U 'n wag oor my aanstel?
13 As ek dink
my slaapbank sal my troos,
my slaapplek sal my klagte help verlig,
14 dan verskrik U my deur drome,
deur naggesigte ontstel U my,
15 sodat ek versmoring verkies,
die dood verkies bo hierdie liggaam van my.
16Ek gee oor;
ek sal nie vir altyd leef nie.
Laat my met rus,
want my dae is net 'n asemteug!
17“ Wat is 'n sterfling,
dat U hom so belangrik ag,
dat U aan hom aandag gee,
18 hom elke môre besoek,
hom elke oomblik toets?
19Hoe lank nog gaan U nie
van my af wegkyk nie,
gaan U my nie alleen laat nie –
net tot ek my speeksel ingesluk het?
20Het ek gesondig?
Wat het ek U aangedoen,
Bewaker van mense?
Waarom stel U my as 'n teiken vir U op?
Het ek vir U 'n las geword?
21Waarom vergewe U nie my oortreding nie,
skeld U nie my sondeskuld kwyt nie?
Want binnekort sal ek in die stof lê;
U sal op die uitkyk wees vir my,
maar ek sal nie daar wees nie.”

Currently Selected:

Job 7: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in