YouVersion Logo
Search Icon

Job 2

2
1Toe, op 'n dag, het die hemelwesens gekom om by die Here hulle plekke in te neem. Die satan het ook saam met hulle gekom om sy plek by die Here in te neem. 2 Die Here sê toe vir die satan: “Waar kom jy vandaan?” Die satan het die Here geantwoord; hy het gesê: “Van rondswerf op die aarde en daar rondloop.” 3Die Here het vir die satan gesê: “Het jy kennis geneem van my dienskneg Job? Daar is immers niemand soos hy op aarde nie. Hy is onberispelik in sy optrede en opreg, 'n man wat vir God ontsag het en die kwaad vermy. Hy volhard steeds in sy onberispelike optrede, al het jy My aangestig om hom sonder rede te laat ondergaan.” 4Die satan het die Here geantwoord; hy het gesê: “Dit is maar 'n vel vir 'n vel. Alles wat aan 'n mens behoort, sal hy gee in ruil vir sy lewe. 5 Maar steek net u hand uit en tas sy beendere en sy vleis aan – hy sal U beslis in u gesig vloek. ”
6Die Here sê toe vir die satan: “Kyk, hy is in jou hand, maar sy lewe moet jy spaar.” 7 Die satan het toe uitgegaan, weg van die Here af. Hy het Job getref met dodelike swere, van kop tot tone.
8Job het 'n potskerf gevat om hom mee te krap, terwyl hy in die as sit. 9Sy vrou het vir hom gesê: “Volhard jy steeds in jou onberispelike optrede? Vloek God, en sterf!” 10Hy het egter vir haar gesê: “Jy praat soos een van die dwase vroue praat. Die goeie wat van God kom, dié aanvaar ons, maar die slegte – moet ons dit nie ook aanvaar nie?” Ondanks dit alles het Job nie met 'n enkele woord gesondig nie.
Job se drie vriende
11Drie van Job se vriende het gehoor van al die teenspoed wat hom oorgekom het. Hulle het toe van die plekke waar hulle woon, Elifas uit Teman, Bildad uit Suag, en Sofar uit Naäma, op 'n bepaalde plek byeengekom om met hom meegevoel te gaan betuig en hom te gaan bemoedig. 12Toe hulle van ver af opkyk en hom nie eens herken nie, het hulle hardop gehuil. Hulle het elkeen sy mantel geskeur, en hulle het stof in die lug op gegooi, oor hulle koppe. 13Hulle het saam met hom op die grond gesit – sewe dae en sewe nagte lank. Niemand het 'n woord met hom gepraat nie, want hulle het gesien dat die pyn ondraaglik erg was.

Currently Selected:

Job 2: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in