YouVersion Logo
Search Icon

Job 18

18
Bildad se tweede betoog
1 Bildad uit Suag het hierop gereageer en gesê:
2“Hoe lank gaan julle nog
tyd bestee aan woorde?
Kom tot insig! Dan kan ons praat.
3 Waarom word ons as vee beskou?
Waarom is ons stompsinnig in julle oë?
4Jy, 'n mens wat homself verskeur
in sy toorn –
moet die aarde ter wille van jou
verlate lê,
rotse uit hulle plek verskuif word?
5“ Boonop, die lig van goddeloses
word uitgedoof;
die vlam van hulle vuur
gee nie meer 'n gloed af nie.
6Die lig in sy tent raak donker,
sy lamp bo hom word uitgedoof.
7 Sy kragtige treë word belemmer,
sy eie raad bring hom tot 'n val.
8 Ja, hy word deur sy eie voete
in 'n vangnet ingelei;
hy loop heen en weer
oor die latwerk bo 'n vanggat.
9'n Valstrik gryp hom aan die hakskeen,
'n strik vang hom vas.
10'n Vangriem is vir hom
op die grond versteek,
'n lus lê vir hom in die voetpad.
11 Van alle kante af
maak verskrikkinge hom beangs,
dit sit op sy hakke.
12Sy krag is uitgeput,
teenspoed staan gereed vir sy val.
13Dit verteer sy vel broksgewys;
hierdie eersgeborene van die dood
verteer hom broksgewys.
14Uit sy tent, waar hy hom veilig voel,
word hy weggeruk;
dit dryf hom na die koning
van verskrikkinge.
15 Niks van sy besittings
sal in sy tent oorbly nie;
swael sal oor sy woonplek
uitgestrooi word.
16 Aan die onderkant
verdroog sy wortels,
aan die bokant
verwelk sy takke.
17 Sy nagedagtenis verdwyn
van die aarde af;
hy het nie meer 'n naam
op straat nie.
18Hulle dryf hom uit die lig
na die donker,
van die aarde af verdryf hulle hom.
19 Hy het geen kind of nageslag
by sy mense nie,
geeneen wat oorbly
in sy blyplekke nie.
20Oor sy dag staan die mense
in die weste verslae,
en is die mense in die ooste
met afgryse vervul.
21 Ja, so is die woonplekke
van 'n boosdoener,
so is die plek van hom
wat God nie geken het nie.”

Currently Selected:

Job 18: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in