YouVersion Logo
Search Icon

Jeremia 6

6
Oordeel oor Jerusalem
1“ Soek skuiling, mense van Benjamin,
weg van Jerusalem af;
blaas selfs in Tekoa 'n •ramshoring!
Stuur 'n rooksein op
bokant Bet-Hakkêrêm!
Want onheil doem op uit die noorde –
'n groot ineenstorting dreig.
2 Die pragtige en fynbesnaarde,
die dogter van Sion, vernietig Ek.
3 Na haar toe sal herders kom
met hulle kuddes.
Op haar slaan hulle tente op, reg rondom.
Elkeen bewei sy strook.”
4“ Heilig 'n oorlog teen haar!
Maak gereed!
Laat ons teen die middag opruk!
Wee ons! Want die dag gaan verby –
die aandskaduwees word lank.
5Maak gereed!
Laat ons in die nag opruk;
laat ons haar vestings verwoes!”
6 Ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte:
“Kap bome af!
Hoop 'n beleëringswal op teen Jerusalem –
dít is die stad!
Alles in haar is op bruikleen;
daar is afgeperste goedere binne-in haar.
7 Soos 'n put sy water vars hou,
hou sy haar boosheid vars.
‘Geweld!’ en ‘Verdrukking!’
word in haar gehoor.
Voor my oë is daar voortdurend
lyding en verwonding.
8Aanvaar die teregwysing, Jerusalem;
anders ruk Ek Myself van jou los;
anders maak Ek jou 'n woesteny,
'n land wat nie bewoon word nie.”
9So sê die Here, Heerser oor alle magte:
“Soos met die naoes van 'n wingerdstok,
sal hulle die oorblyfsel
van Israel skoon afoes.
Bring jou hand telkens terug na die lote
soos een wat druiwe snoei!”
10 Met wie moet ek praat?
Wie moet ek as getuies roep,
sodat hulle kan luister?
Kyk, onbesnede is hulle ore,
sodat hulle nie kan ag gee nie.
Kyk, die woord van die Here
het vir hulle 'n bespotting geword;
hulle aanvaar dit nie.
11Ek is met die woede
van die Here vervul;
ek is moeg daarvan om my in te hou.
“Stort dit uit oor kinders op straat,
en tegelyk oor die groep jongmense.
Ja, mans sowel as vroue
sal gevange geneem word,
oues saam met bejaardes.
12 Hulle huise sal na ander oorgaan,
hulle landerye en vroue daarmee saam.
Want Ek steek my hand uit
teen die inwoners van die land,”
is die uitspraak van die Here.
13“ Ja, klein en groot maak almal
onregverdige wins.
Van profeet tot priester –
hulle almal pleeg bedrog.
14 Hulle wil die ineenstorting
van die dogter van my volk
op 'n maklike manier herstel deur te sê,
‘Vrede, vrede!’
Maar daar is geen vrede nie.
15Staan hulle beskaamd
omdat hulle afstootlik opgetree het?
Hulle skaam hulle hoegenaamd nie,
ken selfs geen skaamte nie.
Daarom sal hulle val
onder die gesneuweldes;
in die tyd wanneer Ek hulle
tot verantwoording roep,
sal hulle tot 'n val kom,”
het die Here gesê.
16So sê die Here:
“Gaan staan langs die paaie en kyk;
vra na die weë uit die voortyd.
Vra waar die pad na die goeie is,
en volg dit!
Vind so sielerus!
Maar hulle het geantwoord,
‘Ons sal nie gaan nie.’
17 Toe het Ek wagte oor julle aangestel,
‘Gee ag op die geluid van die ramshoring!’
Maar hulle het geantwoord,
‘Ons sal nie ag gee nie.’
18Daarom, luister, nasies!
Neem kennis, volksvergadering,
van wat met hulle gaan gebeur!
19 Luister, land!
Kyk, Ek gaan onheil bring
oor hierdie volk –
die vrug van hulle planne.
Want op my woorde het hulle
nie ag geslaan nie,
en my wet, dit het hulle verwerp.
20Waarom nog vir My wierook
uit Skeba laat kom,
of kosbare kalmoes uit 'n ver land?
Julle •brandoffers is nie aanvaarbaar nie,
en julle •maaltydoffers geval My nie. ”
21Daarom, so sê die Here:
“Kyk, Ek gaan voor hierdie volk
struikelblokke lê waaroor
hulle sal val –
ouers en kinders saam;
bure en vriende sal ten gronde gaan.”
22 So sê die Here:
“Kyk, 'n volk kom uit 'n land in die noorde;
'n groot nasie is wakker gemaak
by die uithoeke van die aarde.
23Boog en kromswaard hou hulle gereed;
harteloos is hulle, en genadeloos.
Hulle klink soos die see wat dreun,
op perde ry hulle;
hulle is manne wat in 'n gevegslinie
opgestel is teen jou, dogter van Sion.”
24Ons het die gerug oor hulle gehoor;
ons moed het ons begewe.
Benoudheid het ons beetgepak,
angs soos wanneer 'n vrou geboorte gee.
25Moenie na die veld uitgaan nie!
Op pad moet julle nie gaan nie!
Ja, die vyand het 'n swaard;
daar is verskrikking aan alle kante!
26 Dogter van my volk,
omgord jou met rouklere
en rol in die as!
Rou soos oor 'n enigste kind –
'n bittere roubeklag!
Want onverwags
kom die verwoester oor ons.
27“As toetser van silwer
het Ek jou by my volk aangestel,
as 'n versterkte stad,
sodat jy hulle optrede
kan ken en toets.
28Hulle is almal rebels, onversetlik –
koper en yster!
Hulle gaan rond as kwaadstokers.
Hulle almal is ontaard.
29 Die blaasbalk blaas;
uit die vuur kom lood ongeskonde.
Tevergeefs word daar aanhoudend gesmelt;
die slegtes word nie afgeskei nie.
30‘Verworpe silwer’ word hulle genoem,
want die Here het hulle verwerp.”

Currently Selected:

Jeremia 6: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in