YouVersion Logo
Search Icon

Jeremia 21

21
Profesieë oor die konings van Juda
1Dit is die woord van die Here wat van die Here af tot Jeremia gekom het toe koning Sedekia vir Pasgur, seun van Malkija, en die priester Sefanja, seun van Maäseja, na hom gestuur het met die woorde: 2 “Raadpleeg asseblief namens ons die Here, want Nebukadresar, die koning van Babilonië, voer oorlog teen ons. Miskien sal die Here vir ons doen wat Hy in al sy wonders gedoen het, sodat Nebukadresar van ons af wegtrek.”
3 Jeremia het vir hulle gesê: “So moet julle vir Sedekia sê, 4 ‘So sê die Here, die God van Israel: “Kyk, Ek gaan die oorlogswapens wat in julle hande is, waarmee julle oorlog voer teen die koning van Babilonië en die Galdeërs wat julle buite die stadsmuur beleër, teen julle draai. Ek sal hierdie wapens binne-in hierdie stad bymekaarmaak. 5 Ek self sal teen julle oorlog voer met 'n uitgestrekte hand en 'n sterk arm, met toorn, woede en fel grimmigheid. 6Ek sal die inwoners van hierdie stad, mense sowel as diere, tref. Aan 'n verskriklike epidemie sal hulle sterf. 7En daarna,” is die uitspraak van die Here, “sal Ek Sedekia, koning van Juda, sy amptenare en die volk, dié wat in hierdie stad oorgebly het ná die epidemie, die swaard en die hongersnood, oorgee in die hand van Nebukadresar, koning van Babilonië, ja, in die hand van hulle vyande, in die hand van dié wat hulle lewens soek. Hy sal hulle verslaan met die skerpte van die swaard. Hy sal geen deernis met hulle hê, of hulle jammer kry of hom oor hulle ontferm nie.” ’
8“En vir hierdie volk moet jy sê, ‘So sê die Here: “Kyk, Ek hou vir julle die pad na die lewe en die pad na die dood voor: 9 Die een wat in hierdie stad bly, sal deur die swaard of honger of die epidemie sterf, maar hy wat uitgaan en oorloop na die Galdeërs wat julle beleër, sal leef. Sy lewe sal hy vir homself as buit behou. 10 Want Ek rig my gesig teen hierdie stad – ten kwade en nie ten goede nie,” is die uitspraak van die Here. “In die hand van die koning van Babilonië sal dit oorgegee word, en hy sal dit afbrand.” ’
11“En vir die huis van die koning van Juda moet jy sê,
‘Hoor die woord van die Here,
12huis van Dawid!
So sê die Here:
“Spreek elke oggend reg
en red dié wat beroof word
uit die hand van verdrukkers;
anders breek my woede uit soos 'n vuur
en brand sonder dat iemand dit blus
vanweë julle bose dade.
13Dit is Ek teen jou,
jy wat oor die vallei troon –
o, rots van die gelykte!”
is die uitspraak van die Here,
“julle wat sê,
‘Wie sal deurdring na ons,
en wie sal ons skuilplekke binnedring?’
14Ek gaan van julle rekenskap eis
ooreenkomstig die vrug van julle dade,”
is die uitspraak van die Here.
“Ek gaan 'n vuur in haar bos aansteek,
en dit sal alles rondom haar verteer.” ’ ”

Currently Selected:

Jeremia 21: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy