YouVersion Logo
Search Icon

Hosea 9

9
Gevolge van die Baäldiens
1 Moenie vrolik wees nie, Israel,
moenie juig soos die volke nie,
want jy het van jou God af weg hoereer;
jy was lief vir hoereloon
op al die dorsvloere vir koring.
2 Die dorsvloer en parskuip
sal hulle nie voed nie,
en •nuwe wyn sal daarin ontbreek.
3 Hulle sal nie in die land
van die Here bly nie,
maar Efraim sal na Egipte terugkeer
en in Assirië sal hulle •onrein kos eet.
4 Hulle sal nie vir die Here
wyn uitgiet nie,
en hulle sal nie vir Hom
hulle offers aanbied nie.
Soos kos van mense wat rou,
sal dit vir hulle wees –
almal wat daarvan eet,
sal hulleself verontreinig.
Ja, hulle kos sal net vir hulle
eie kele wees,
dit sal nie in die huis van die Here
kom nie.
5 Wat gaan julle doen in die feestyd,
in die tyd van die pelgrimsfees
vir die Here?
6 Want kyk, dié wat aan
die verwoesting ontkom –
Egipte sal hulle bymekaarmaak
en Moof sal hulle begrawe.
Hulle kosbaarhede van silwer –
brandnetels sal dit in besit neem;
sydissels sal in hulle tente wees.
7 Die dae van afrekening
het aangebreek;
die dae van vergelding het gekom –
Israel sal dit ervaar.
Jy sê: “Die profeet is 'n gek,
die man met die gees is waansinnig!”
Ja, dit is oor die omvang
van jou sondeskuld
en omdat die vyandigheid so groot is.
8 'n Profeet is die een
wat saam met my God
waak oor Efraim;
maar die net van die voëlvanger
is op al sy paaie;
daar is vyandigheid
in die huis van sy God.
9 Hulle het uiters verdorwe opgetree
soos in die dae van Gibea.
Hy gaan hulle sondeskuld
in herinnering roep,
Hy gaan rekenskap eis
oor hulle sondes.
Getuienis teen Israel
10“ Soos druiwe in die woestyn
het Ek Israel gevind.
Soos die voorvye aan 'n vyeboom
in sy eerste drag
het Ek julle voorouers gesien.
Maar hulle het by Baäl-Peor aangekom,
hulleself aan die skandelike afgod
gewy,
en net so walglik geword
soos dit waarvoor hulle lief is.
11“ Efraim, soos 'n voël
sal hulle aansien wegvlieg –
daar sal geen geboorte,
geen swangerskap
en geen bevrugting wees nie.
12Selfs as hulle hulle kinders
grootmaak,
sal Ek hulle kinderloos maak;
geen mens sal oorbly nie.
Ja, wee hulle ook as Ek My
aan hulle onttrek.
13“ Efraim, ek het hom gesien
as 'n jong palm geplant
in 'n weiveld.
Maar Efraim sal sy kinders
moet uitlewer aan 'n moordenaar.”
14Gee vir hulle, Here, wat U wil gee;
gee vir hulle kinderlose moederskote
en verskrompelde borste.
15“ Al hulle boosheid
het in Gilgal begin,
ja, daar het Ek 'n weersin in hulle gekry.
Oor die boosheid van hulle dade
gaan Ek hulle uit my huis verdryf;
Ek sal hulle nie verder liefhê nie.
Al hulle leiers is opstandig.
16 “Efraim is getref,
hulle wortels het verdroog,
hulle sal nie enige vrug dra nie.
Selfs as hulle kinders verwek,
sal Ek dit wat so waardevol is
in hulle moederskoot, ombring.”
17 My God verwerp hulle,
omdat hulle nie na Hom
geluister het nie.
Hulle sal swerwers wees
onder die nasies.

Currently Selected:

Hosea 9: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in