YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 48

48
1“ Dit is die name van die stamme:
In die verre noorde, al langs die pad na Getlon, Lebo-Hamat en Gaser-Enan, met die gebied van Damaskus aan die noordekant langs Hamat, van die ooste tot in die weste, kom Dan toe – Dan, een deel.
2Langs die gebied van Dan, van die ooste tot in die weste – Aser, een deel.
3Langs die gebied van Aser, van die ooste tot in die weste – Naftali, een deel.
4Langs die gebied van Naftali, van die ooste tot in die weste – Manasse, een deel.
5Langs die gebied van Manasse, van die ooste tot in die weste – Efraim, een deel.
6Langs die gebied van Efraim, van die ooste tot in die weste – Ruben, een deel.
7Langs die gebied van Ruben, van die ooste tot in die weste – Juda, een deel.
8Langs die gebied van Juda, van die ooste tot in die weste, moet die •wydingsgeskenk wat julle afstaan, vyf-en-twintigduisend el breed, en van die ooste tot in die weste so lank soos een van die ander dele wees. Die heiligdom moet daarbinne wees. 9Die wydingsgeskenk wat julle aan die Here self afstaan, moet vyf-en-twintigduisend el lank en twintigduisend el breed wees. 10Vir die volgende groepe is die heilige wydingsgeskenk bestem:
Vir die priesters, aan die noordekant vyf-en-twintigduisend el, aan die westekant tienduisend el breed, aan die oostekant tienduisend el breed, en aan die suidekant vyf-en-twintigduisend el. Die heiligdom van die Here moet daarbinne wees. 11 Vir die gewyde priesters uit die nageslag van Sadok wat die verpligtinge teenoor My nagekom het, is dit bestem, vir hulle wat nie afgedwaal het toe die Israeliete afgedwaal het soos die Leviete afgedwaal het nie. 12Dit is vir hulle 'n besondere wydingsgeskenk uit die wydingsgeskenk van die land, 'n besonder heilige gawe langs die gebied van die Leviete.
13 Die Leviete se gebied is direk langs dié van die priesters, vyf-en-twintigduisend el lank en tienduisend el breed.
Die volle lengte van die wydingsgeskenk is vyf-en-twintigduisend en die breedte twintigduisend. 14 Hulle mag niks daarvan verkoop nie, en niemand mag dit verruil nie. Die beste deel van die land mag nie in ander hande oorgaan nie, want dit is aan die Here gewy.
15“ Die vyfduisend el wat in die breedte oorbly langs die vyf-en-twintigduisend el, is nie gewy nie; dit is vir die stad as woongebied en meentgrond bedoel. Die stad moet daarin wees, 16 en dit is die afmetings daarvan:
aan die noordekant vierduisend vyfhonderd el,
aan die suidekant vierduisend vyfhonderd el,
aan die oostekant vierduisend vyfhonderd el,
aan die westekant vierduisend vyfhonderd el.
17Die meentgrond van die stad moet
aan die noordekant tweehonderd-en-vyftig el,
aan die suidekant tweehonderd-en-vyftig el,
aan die oostekant tweehonderd-en-vyftig el,
en aan die westekant tweehonderd-en-vyftig el wees.
18“Dit wat in die lengte oorbly direk langs die heilige wydingsgeskenk, is tienduisend el na die oostekant en tienduisend el na die westekant. Dit lê ewewydig met die heilige wydingsgeskenk, en die opbrengs daarvan sal as voedsel vir die stad se werkers dien. 19Wat die werkers van die stad betref – mense uit al die stamme van Israel moet dit bewerk. 20Die hele wydingsgeskenk is vyf-en-twintigduisend by vyf-en-twintigduisend el. As 'n vierkant moet julle die heilige wydingsgeskenk afstaan, saam met die grondgebied van die stad.
21“ Die oorblywende deel is vir die leier: Die gebied aan beide kante van die heilige wydingsgeskenk en die grondgebied van die stad, langs die vyf-en-twintigduisend el van die wydingsgeskenk tot by die oosgrens, en weswaarts langs die vyf-en-twintigduisend el tot by die wesgrens, ewewydig met die ander dele, behoort aan die leier. Die heilige wydingsgeskenk en die heiligdom van die •tempel is in die middel daarvan, 22en die grondgebied van die Leviete aan die een kant en die grondgebied van die stad aan die ander kant, lê binne die deel wat aan die leier behoort. Tussen die gebied van Juda en die gebied van Benjamin – aan die leier behoort dit.
23“Wat die ander stamme betref:
Van die ooste tot in die weste – Benjamin, een deel.
24Langs die gebied van Benjamin, van die ooste tot in die weste – Simeon, een deel.
25Langs die gebied van Simeon, van die ooste tot in die weste – Issaskar, een deel.
26Langs die gebied van Issaskar – Sebulon, een deel.
27Langs die gebied van Sebulon, van die ooste tot in die weste – Gad, een deel.
28Langs die gebied van Gad in die suide, strek die grens aan die suidekant van Tamar af oor Meriba-Kades met die Spruit langs tot by die Groot See.
29“Dit is die land wat julle as erfdeel aan die stamme van Israel moet toewys, en dit is hulle dele.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.
Jerusalem
30“Dit is die uitgange van die stad. Aan die noordekant is die afstand vierduisend vyfhonderd el. 31 Die poorte van die stad dra die name van die stamme van Israel. Daar is drie poorte na die noorde:
een poort van Ruben;
een poort van Juda;
een poort van Levi.
32“Die oostekant is vierduisend vyfhonderd el, met drie poorte:
een poort van Josef;
een poort van Benjamin;
een poort van Dan.
33“Aan die suidekant is die afstand vierduisend vyfhonderd el, met drie poorte:
een poort van Simeon;
een poort van Issaskar;
een poort van Sebulon.
34“Die westekant is vierduisend vyfhonderd el, met drie poorte:
een poort van Gad;
een poort van Aser;
een poort van Naftali.
35 “Rondom is dit agttienduisend el; en die naam van die stad is van nou af: Die-Here-is-daar.”

Currently Selected:

Esegiël 48: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in