YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 46

46
1“ ‘So sê my Heer, die Here: “Die poort na die binnehof wat oos front, moet toe bly vir die ses werksdae; maar op die Sabbatdag moet dit oopgemaak word, en op die dag van die nuwemaan moet dit oopgemaak word. 2 Die leier moet dan van buite deur die portaal in die poort ingaan en by die deurkosyn van die poort gaan staan. Die priesters moet sy •brandoffer en •maaltydoffer namens hom bring, en dan moet hy by die drumpel van die poort in aanbidding buig en uitgaan. Die poort moet tot die aand nie gesluit word nie. 3Die volk van die land moet op die Sabbatte en op die nuwemane by die ingang na daardie poort voor die Here in aanbidding buig. 4 Die brandoffer wat die leier vir die Here op die Sabbatdag moet aanbied, is ses ramlammers sonder gebrek en een skaapram sonder gebrek, 5en as •graanoffer 'n efa by die skaapram, en by die ramlammers soveel as wat hy kan gee as graanoffer, met 'n hin olyfolie vir elke efa. 6Op die dag van die nuwemaan is dit 'n jong bul sonder gebrek, ses ramlammers en 'n skaapram. Hulle moet sonder gebrek wees. 7As graanoffer moet hy 'n efa vir die bul en 'n efa vir die skaapram voorsien, en vir die ramlammers soveel as wat hy kan bekostig, met 'n hin olyfolie vir elke efa.
8“ ‘ “Wanneer die leier ingaan, moet hy deur die portaal van die poort gaan en weer daarlangs uitgaan. 9Maar wanneer die volk van die land gedurende die feestye ingaan na die Here se teenwoordigheid, moet die een wat deur die noordpoort ingaan om in aanbidding te buig, by die suidpoort uitgaan; en die een wat deur die suidpoort ingaan, moet by die noordpoort uitgaan. Niemand mag terugkeer na die poort waardeur hy ingekom het nie, maar moet by die teenoorgestelde kant uitgaan. 10Die leier moet, wanneer hulle ingaan, tussen hulle ingaan, en wanneer hulle uitgaan, moet hy ook uitgaan.
11“ ‘ “Tydens die feeste en feestye moet die graanoffer 'n efa by 'n bul, 'n efa by 'n ram, en soveel as wat die leier kan gee, by die ramlammers wees, met 'n hin olyfolie vir elke efa. 12 Wanneer die leier 'n vrywillige offer bring, 'n brandoffer of maaltydoffer as vrywillige offer aan die Here, moet iemand vir hom die poort oopmaak wat oos front; en hy moet sy •brandoffer en sy •maaltydoffers bring, soos hy dit op die Sabbatdag sou doen. Wanneer hy uitgaan, moet iemand die poort sluit nadat hy uit is.
13“ ‘ “ 'n Jaaroud ramlam sonder gebrek moet jy elke dag as brandoffer vir die Here offer; elke môre moet jy dit doen. 14'n •Graanoffer moet jy ook elke môre daarby bring – 'n sesde van 'n efa, en 'n derde van 'n hin olyfolie om oor die gesifte meel te sprinkel as 'n graanoffer vir die Here. Dit is 'n durende voorskrif wat altyd geld. 15Hulle moet die ramlam, die graanoffer en die olyfolie elke môre bring as 'n gereelde brandoffer.” ’ ”
Grondbesit van die leier
16“ ‘So sê my Heer, die Here: “Wanneer die leier uit sy erfenis aan enige van sy seuns 'n geskenk gee, sal dit aan sy seuns behoort. Dit is hulle erfgrond as 'n erfenis. 17Maar wanneer hy van sy erfenis as 'n geskenk aan een van sy dienaars gee, behoort dit aan hom net tot die jaar van kwytskelding. Dan val dit terug na die leier: Dit is slegs sy seuns se erfenis – aan hulle behoort dit. 18 Die leier mag nie van die volk se erfdeel vat om hulle so uit hulle erfgrond te verdring nie; van sy eie erfgrond moet hy aan sy seuns nalaat, sodat my volk nie verstrooi raak, elkeen weg van sy erfgrond nie.” ’ ”
Kook- en bakplekke
19 Die man neem my toe deur die ingang langs die poort na die priesters se heilige kamers wat noord front. Kyk, daar was 'n plek op die verste punt aan die westekant. 20 Hy het vir my gesê: “Dit is die plek waar die priesters die •hersteloffers en die •reinigingsoffers moet gaarmaak en die graanoffers moet bak, sodat hulle dit nie uitneem na die buitenste voorhof, en die volk sodoende heilig maak nie.”
21Daarna neem hy my uit na die buitenste voorhof, en laat my by die vier hoeke van die voorhof verbyloop. Kyk, daar was in elke hoek van die voorhof 'n binnehof. 22In die vier hoeke van die voorhof was vier kleiner binnehowe, veertig el lank en dertig el breed; al vier met dieselfde mate. 23Daar was rye gepakte klip rondom al vier, en daar is rondom kookplekke aangebring onderaan die rye gepakte klip. 24Hy sê toe vir my: “Dit is die plek waar hulle moet kook, waar die tempeldienaars die offerandes van die volk moet gaarmaak.”

Currently Selected:

Esegiël 46: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy