YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 43

43
Terugkeer van God se heerlikheid
1Die man neem my toe na die poort, die poort wat oos front. 2 En kyk, die heerlikheid van die God van Israel het uit die ooste gekom! Die geluid daarvan was soos die geluid van baie water, en die aarde het gestraal van sy heerlikheid. 3Die visioen wat ek gesien het, was soos die visioen wat ek gesien het met sy koms om die stad te verwoes. Ja, die visioene was soos die visioen wat ek gesien het by die Kebarrivier. Ek het neergeval met my gesig teen die grond. 4 Die heerlikheid van die Here het na die •tempel gekom deur die poort wat oos front. 5'n Gees het my opgelig en my na die binneste voorhof geneem. Kyk, die heerlikheid van die Here het die tempel gevul!
6Terwyl die man langs my staan, het ek iemand met my hoor praat uit die tempel. 7 Hy het vir my gesê: “Mensekind, dit is die plek van my troon, die plek vir my voetsole, waar Ek tussen die Israeliete sal woon, vir altyd. Die huis van Israel, hulle en hulle konings, sal nie weer my heilige Naam verontreinig met hulle hoerery, met die grafsuile van hulle konings wanneer hulle sterf nie. 8Toe hulle hulle drumpel teen my drumpel geplaas het, en hulle deurkosyn langs my deurkosyn, en daar net 'n muur tussen My en hulle was, het hulle my heilige Naam verontreinig met die afstootlike dade wat hulle gedoen het, sodat Ek hulle in my toorn verteer het. 9Nou sal hulle hulle hoerery en die grafsuile van hulle konings ver van My af verwyder; en Ek sal tussen hulle woon, vir altyd.
10“ Jy, mensekind, moet vir die huis van Israel die tempel beskryf, sodat hulle beskaamd kan staan oor hulle sondeskuld. Laat hulle 'n model daarvan uitmeet. 11As hulle dan beskaamd staan oor alles wat hulle gedoen het, maak hulle vertroud met die sketsplan van die tempel, sy ontwerp, sy uitgange en ingange, al sy sketsplanne, al sy vaste voorskrifte, ja, al sy sketsplanne en al sy wette. Skryf dit voor hulle oë neer, sodat hulle al sy sketsplanne en al sy vaste voorskrifte sal bewaar en uitvoer.
12 “Dit is die wet vir die tempel: Op die kruin van die berg is die hele gebied van die tempel reg rondom besonder heilig. Kyk, dit is die wet vir die tempel.”
Voorskrifte vir die altaar
13 “Dit is die afmetings van die altaar in el – elke el is 'n el en 'n handbreedte lank. Die voor is een el diep en een el breed, en die rand daarvan al langs die kant is rondom een span. Dit vorm dan die basis van die altaar. 14Vanaf die voor in die grond tot by die laer lys is dit twee el, en die lys is een el breed; en van hierdie smaller lys tot by die hoër lys is dit vier el. Die breedte van die hoër lys is een el. 15Die vuurmaakplek is vier el hoog, en uit die vuurmaakplek wys vier horings na bo. 16Die vuurmaakplek is twaalf el lank en twaalf el breed – vierkantig, gemeet aan sy vier kante. 17Die hoër lys is veertien el lank en veertien el breed, gemeet aan sy vier kante. Die rand rondom is 'n halwe el, en die voor van die altaar is rondom een el diep. Die trappe front oos.”
18 Die man het vir my gesê: “Mensekind, so sê my Heer, die Here, ‘Dit is die vaste voorskrifte vir die altaar, vir die dag wanneer dit opgerig is om •brandoffers daarop te bring en bloed daarteen te sprinkel: 19Gee vir die priesters, die Leviete uit die nageslag van Sadok wat na My mag nader kom om My te dien, 'n jong bul as •reinigingsoffer.’ Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. 20‘Neem van die bloed en smeer dit aan die vier horings, aan die vier hoeke van die lys en aan die rand rondom, en reinig die altaar deur daarvoor versoening te doen. 21Neem dan die bul vir die reinigingsoffer en verbrand hom in die aangewese deel van die tempel buite die heiligdom. 22Op die tweede dag moet jy 'n bokram sonder gebrek as reinigingsoffer bring, en hulle moet die altaar daarmee reinig, soos hulle dit met die bul gereinig het. 23Wanneer jy klaar is met die reiniging, moet jy 'n jong bul sonder gebrek en 'n skaapram sonder gebrek uit die kleinvee naderbring. 24Bring hulle nader voor die Here. Die priesters moet sout op hulle gooi en hulle as brandoffer vir die Here offer. 25 Sewe dae lank moet jy elke dag 'n bokram offer as reinigingsoffer; en hulle moet ook 'n jong bul en 'n skaapram uit die kleinvee offer, diere sonder gebrek. 26Sewe dae lank moet hulle versoening doen vir die altaar en dit dan rein verklaar. So moet hulle dit wy. 27 Nadat die dae verloop het, moet die priesters vanaf die agtste dag en daarna julle brandoffers en •maaltydoffers op die altaar bring, en Ek sal julle aanvaar.’ Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.

Currently Selected:

Esegiël 43: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in