YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 23

23
Samaria en Jerusalem
1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“ Mensekind, daar was twee vroue, dogters van een moeder. 3 Hulle het in Egipte gehoereer, reeds in hulle jeug het hulle gehoereer. Daar is hulle borste betas en hulle maagdelike tepels gestreel. 4Hulle name was Ohola, die oudste, en Oholiba, haar suster. Hulle het myne geword en het seuns en dogters in die wêreld gebring. Wat hulle name betref: Samaria is Ohola en Jerusalem is Oholiba.
5“ Ohola het gehoereer terwyl sy onder my gesag was. Sy het gesmag na haar minnaars, die Assiriërs, vegters 6geklee in pers, •streekgoewerneurs en landvoogde, almal aantreklike jong manne, kavaliers wat op perde ry. 7Sy het haar dade van owerspel aangebied aan hulle, die keur van die Assiriërs, aan hulle almal; en met almal na wie sy gesmag het, met al hulle afgodsbeelde, het sy haar verontreinig. 8Haar dade van owerspel wat in Egipte begin het, het sy nie laat vaar nie; want die Egiptenare het met haar gemeenskap gehad in haar jeug. Dit is hulle wat haar maagdelike tepels gestreel en hulle owerspeligheid op haar uitgestort het.
9“Daarom het Ek haar oorgegee in die hand van haar minnaars, in die hand van die Assiriërs na wie sy gesmag het. 10Dit is hulle wat haar naaktheid ontbloot het, haar seuns en dogters weggevat en haar met die swaard doodgemaak het. Sy was berug onder die vroue. Vonnisse is aan haar voltrek.
11“Haar suster Oholiba het dit gesien, maar in haar wellus was sy meer verdorwe as haar suster, en haar dade van owerspel was nog erger as die hoerery van haar suster. 12Na die Assiriërs het sy gesmag, na streekgoewerneurs en landvoogde, vegters wat weelderig geklee is, kavaliers wat op perde ry – almal aantreklike jong manne. 13Ek het gesien dat sy haarself verontreinig. Die twee van hulle het dieselfde pad geloop. 14Maar sy het nog dade van owerspel bygevoeg. Sy het manne uitgekerf teen 'n muur gesien, afbeeldings van Galdeërs uitgekerf in 'n helderrooi kleur, 15hulle heupe met lendedoeke omgord, op hulle koppe •tulbande met afhangende punte, almal met die voorkoms van strydwa-offisiere – die afbeelding van Babiloniërs met Galdea as hulle geboorteland. 16 Sy het na hulle gesmag toe haar oë op hulle val, en gesante gestuur na hulle, na Galdea.
17“Die Babiloniërs het na haar gekom ter wille van die liefdesbed. Hulle het haar verontreinig met hulle owerspel. Nadat sy •onrein geword het deur hulle, het sy 'n diep weersin in hulle gekry. 18Toe sy haar dade van owerspel openlik bedryf, haar naaktheid ontbloot het, het Ek 'n diep weersin in haar gekry, net soos Ek 'n diep weersin in haar suster gekry het.
19“ Maar sy het nog dade van owerspel bygevoeg, om so haar jong dae toe sy in Egipteland gehoereer het, weer op te roep. 20Sy het gesmag na buite-egtelike verhoudings met hulle, hulle wie se organe soos dié van donkiehingste en wie se saadstorting soos dié van perdehingste is.
21“Jy het die skandelike dade van jou jeug weer opgesoek, toe van die Egiptenare jou tepels gestreel, jou jong borste betas het. 22Daarom, Oholiba,” so sê my Heer, die Here, “kyk, Ek gaan jou minnaars teen jou aanhits, hulle in wie jy 'n diep weersin gekry het. Ek gaan hulle van oraloor teen jou bring: 23die Babiloniërs en al die Galdeërs, Pekod, Soa en Koa, en al die Assiriërs by hulle, aantreklike jong manne, almal van hulle streekgoewerneurs en landvoogde, strydwa-offisiere en manne wat opgeroep is – almal ruiters te perd. 24Hulle sal teen jou optrek uit die noorde met strydwatroepe op wiele en 'n strydmag van manskappe. Met grootskilde, kleinskilde en helms sal hulle teen jou stelling inneem, reg rondom. Ek sal die vonnis aan hulle oorlaat; hulle sal jou oordeel volgens hulle regsreëls. 25Ek sal my heilige jaloesie teen jou rig, en hulle sal in woede met jou handel. Jou neus en ore sal hulle afsny, en wat van jou oorbly, sal deur die swaard val. Dit is hulle wat jou seuns en dogters sal wegneem; wat van jou oor is, sal deur vuur verteer word. 26Hulle sal jou klere van jou afstroop en jou versiersels vat. 27So sal Ek 'n einde maak aan jou skandelike gedrag en hoerery wat in Egipteland begin het. Jy sal nie meer na hulle opkyk en aan Egipte sal jy nie weer terugdink nie. ”
28Ja, so sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek gaan jou oorgee in die hand van hulle wat jy haat, in die hand van hulle in wie jy 'n diep weersin gekry het. 29Hulle sal met haat teen jou optree, alles wat jy met moeite verwerf het, wegvat, en jou onbedek en kaal agterlaat. Jou ontugtige naaktheid sal ontbloot word. Jou skandelike gedrag en jou dade van owerspel 30het hierdie dinge oor jou gebring, toe jy agter nasies aan gehoereer het, deurdat jy jouself met hulle afgodsbeelde verontreinig het. 31Die pad van jou suster het jy geloop, en Ek sal haar beker in jou hand gee.”
32So sê my Heer, die Here:
“Die beker van jou suster sal jy drink,
'n diep en wye beker.
Dit sal 'n gelag en 'n gespot meebring,
soveel bevat dit.
33Met dronkenskap en verdriet
sal jy gevul wees.
'n Beker van vernietiging en verwoesting
is die beker van jou suster Samaria.
34Jy sal dit drink en leeg slurp,
en aan die skerwe daarvan knaag;
jy sal jou borste afskeur.
Ja, Ek het gepraat.”
Dit is die uitspraak
van my Heer, die Here.
35Daarom, so sê my Heer, die Here: “Omdat jy My vergeet en die rug op My gedraai het, sal jy ook die gevolge van jou skandelike gedrag en jou dade van owerspel moet dra.”
36Toe sê die Here vir my: “Mensekind, sal jy regspreek oor Ohola en Oholiba? Hou dan hulle afstootlike dade aan hulle voor. 37Ja, hulle het egbreuk gepleeg, en daar is bloed aan hulle hande. Met hulle afgodsbeelde het hulle egbreuk gepleeg, en hulle het selfs hulle kinders wat hulle vir My in die wêreld gebring het, vir die beelde as voedsel deur die vuur laat gaan. 38 Verder het hulle die volgende aan My gedoen: Hulle het my heiligdom op dieselfde dag verontreinig, en my Sabbatte het hulle ontheilig. 39Toe hulle hulle kinders geslag het vir hulle afgodsbeelde, het hulle op dieselfde dag na my heiligdom gekom om dit te ontheilig. Kyk, so het hulle binne-in my huis opgetree. 40Maar erger nog: Hulle ontbied toe mans wat van ver af kom, mans na wie 'n boodskapper gestuur is! En kyk, hulle het gekom, die mans vir wie jy jou gewas, jou oë geverf, en jouself met juwele versier het. 41Jy het op 'n statige bed gesit, met 'n voorbereide tafel daarvoor. My reukwerk en my olie het jy daarop neergesit.
42“Die geluid van 'n sorgelose menigte was binne hoorbaar, en saam met manne uit die gepeupel is daar Sabeërs uit die woestyn gebring. Hulle het armbande aan die twee susters se polse gesit, en sierlike krone op hulle koppe. 43 Ek het oor haar wat afgeleef is van owerspel, gesê, ‘Nou gaan hulle voort met haar owerspel; maar dit is hoe sy is! 44Hulle het by haar ingegaan. Soos wat daar by 'n prostituut ingegaan word, so het hulle by Ohola en Oholiba ingegaan, die sedelose vroue! 45 Maar regverdige mans, hulle sal die vroue veroordeel volgens die vonnis van egbreeksters en die vonnis van hulle wat bloed vergiet. Ja, egbreeksters is hulle, en bloed is aan hulle hande.’ ”
46Ja, so sê my Heer, die Here: “Laat 'n skare teen hulle optrek, en gee hulle oor aan verskrikking en plundering. 47Laat 'n skare hulle met klippe doodgooi en met hulle swaarde neerkap, hulle seuns en dogters doodmaak en hulle huise afbrand. 48So sal Ek skandelike gedrag in die land tot 'n einde bring, en alle vroue sal dit as 'n waarskuwing beskou, en nie julle skandelike gedrag navolg nie. 49 Hulle sal julle skandelike dade op julle koppe laat neerkom; julle sonde met julle afgodsbeelde sal julle moet dra. Dan sal julle besef dat Ek my Heer, die Here, is.”

Currently Selected:

Esegiël 23: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy