YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 21

21
God se swaard
1 Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mensekind, draai jou gesig na Jerusalem, preek driftig teen die heiligdomme en profeteer teen die land Israel. 3Sê vir die land Israel, ‘So sê die Here: “Dit is Ek teen jou! Ek gaan my swaard uit sy skede trek en regverdiges en goddeloses uit jou uitroei. 4Omdat Ek regverdiges en goddeloses uit jou gaan uitroei, daarom sal my swaard uit sy skede kom teen al wat leef, van suid tot noord. 5En al wat leef, sal besef dat Ek, die Here, my swaard uit sy skede getrek het. Dit sal nie weer teruggesit word nie.” ’
6“En jy, mensekind, kla! As 'n gebroke man moet jy voor hulle oë bitterlik kla. 7Wanneer hulle vir jou vra, ‘Waarom kla jy?’ moet jy sê, ‘Oor 'n berig, want dit kom! Elke hart sal ineenkrimp, alle hande sal slap hang, elke gees verslae wees en alle knieë water word. Kyk, dit kom; dit sal gebeur! Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’ ”
8Die woord van die Here het tot my gekom: 9“Mensekind, profeteer en sê, ‘So sê my Heer. “Sê dan:
'n Swaard, 'n swaard
wat skerpgemaak,
ook blinkgevryf is!
10Om 'n slagting aan te rig,
is dit skerpgemaak;
om soos weerlig te wees,
is dit blinkgevryf.
“ ‘ “Of dink julle,
ons sal ons verheug
oor die septer van my seun?
Die swaard minag elke stuk hout!
11Hy het dit oorgegee
om dit blink te vryf;
om dit in die handpalm vas te vat,
is dit skerpgemaak, hierdie swaard.
En dit is nou blink gevryf,
om dit oor te gee in die hand
van 'n moordenaar.
12“ ‘ “Roep om hulp en huil, mensekind!
Want die swaard is teen my volk,
dit is teen al die leiers
van Israel gerig.
Uitgelewer aan die swaard is hulle,
saam met my volk.
Daarom, slaan op die heup!
13Ja, dit is 'n toets:
Wat gebeur as ook die septer
wat deur die swaard geminag word,
nie meer daar is nie?”
Dit is die uitspraak
van my Heer, die Here.
14“En jy, mensekind, profeteer!
Klap jou hande teen mekaar,
sodat die swaard twee keer tref,
'n derde keer –
die swaard vir onheiliges,
die swaard vir die groot onheilige,
wat diep in hulle indring,
15sodat harte sidder,
en dié waaroor mens struikel,
baie sal wees.
Teen al hulle poorte
het Ek die slagting
deur die swaard gerig.
Aha! Die swaard is gemaak
as 'n weerlig,
blink gevryf vir 'n slagting.
16 Bewys jouself skerp, swaard!
Kap regs, kap links,
waarheen jou snykant ook al gerig is.
17Op my beurt klap Ek dan
my hande teen mekaar,
en bring Ek my woede tot bedaring.
Ek, die Here, het gepraat. ”
18Toe het die woord van die Here tot my gekom: 19“Jy, mensekind, merk vir jou twee paaie af vir die swaard van die koning van Babilonië om langs te kom. Uit een land moet albei kom. 'n Wegwyser moet jy oopkap, by die begin van die pad wat na die stede lei, moet jy dit oopkap. 20Die paaie wat jy moet afmerk vir die swaard om langs te kom, is Rabba van die Ammoniete en Juda, die versterkte Jerusalem. 21Want die koning van Babilonië staan reeds by die vurk in die pad, by die begin van die twee paaie, om 'n voorteken te vra. Hy het die pyle geskud, hy het die huisgode geraadpleeg, hy het die lewer beskou. 22 In sy regterhand is die voorteken, Jerusalem, om stormramme op te stel, om die bevel, ‘Maak dood!’ uit te roep, om 'n oorlogskreet aan te hef, om stormramme by die poorte op te stel, om 'n beleëringswal op te hoop, om beleëringswerke op te rig! 23Vir hulle sal dit lyk na 'n vals voorteken; hulle het tog plegtige ede afgelê! Maar hy sal skuld in herinnering roep, sodat hulle gevange geneem word.
24“Daarom, so sê my Heer, die Here, ‘Omdat julle julle eie skuld opgehaal het deur julle oortredings openbaar te maak, deur julle sondes te vertoon met alles wat julle doen, omdat julle die aandag op julle gevestig het, sal julle met 'n vaste greep gevange geneem word. 25En wat jou betref, onheilige, goddelose leier van Israel, jy wie se dag aangebreek het in die tyd van finale straf,’ 26 so sê my Heer, die Here,
‘Weg met die tulband!
Af met die kroon!
Dit is nie soos dit was nie.
Die nederige moet verhoog word
en die hoë moet verneder word.
27Puin, puin, ja, puin maak Ek haar
– ook dit het nog nooit gebeur nie –
wanneer hy kom wat die vonnis
moet voltrek;
Ek sal die oordeel aan hom toevertrou.’
28“En jy, mensekind, profeteer en sê, ‘So sê my Heer, die Here, oor die Ammoniete en hulle bespotting. ’ Sê dan,
‘Swaard, swaard getrek vir 'n slagting,
blink gevryf vir vernietiging,
sodat jy 'n weerligstraal is –
29terwyl visioene oor jou vals is,
die voorspelling oor jou leuens is,
plaas hy jou op die nekke
van die onheilige goddeloses,
hulle wie se dag gekom het
in die tyd van finale straf.
30“ ‘Sit dit terug in sy skede!
Op die plek waar jy gemaak is, swaard,
in die land van jou oorsprong,
sal Ek jou oordeel.
31 Ek sal my verontwaardiging
oor jou uitstort,
die vuur van my gramskap
sal Ek teen jou aanblaas.
Ek sal jou oorgee in die hand
van woeste mense,
vakmanne van vernietiging.
32Jy is vir die vuur bestem
om verteer te word;
jou bloed sal in jou eie grond wees,
jy sal nie meer onthou word nie,
ja, Ek, die Here, het gepraat.’ ”

Currently Selected:

Esegiël 21: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy