YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 19

19
Treurlied oor jong leeus en 'n wingerdstok
1“ Jy dan, hef 'n treurlied aan
oor die leiers van Israel.
2Jy moet sê,
‘Wat 'n leeuwyfie was jou moeder nie!
Tussen die leeus het sy gelê;
tussen jong leeus het sy
haar welpies grootgemaak.
3Sy het een van haar welpies opgelei;
hy het 'n jong leeu geword,
en geleer om sy prooi te verskeur;
hy het mense verslind.
4Nasies het van hom gehoor;
in hulle vangkuil is hy gevang;
met hake het hulle hom
na Egipteland geneem.
5“ ‘Toe sy sien haar hoop is verydel,
haar verwagting verlore,
het sy een van haar welpies geneem,
'n jong leeu van hom gemaak.
6Hy het tussen leeus rondgestap,
'n jong leeu geword,
geleer om sy prooi te verskeur;
hy het mense verslind.
7Hy het hulle vestings verwoes,
hulle dorpe in puin gelê.
Die land en alles daarop het gebeef
vir die geluid van sy gebrul.
8 Nasies het hulle teen hom opgestel
uit die omliggende gebiede;
hulle vangnet is oor hom gegooi;
in hulle vangkuil is hy gevang.
9 Hulle het hom in 'n halsband
met hake gesit,
hom na die koning van Babilonië geneem.
Hulle het hom in die gevangenis
ingeneem,
sodat sy stem nie meer gehoor sou word
op die berge van Israel nie.
10 “ ‘Met jou moeder was dit
soos met 'n wingerdstok
in jou wingerd, by water geplant.
Dit was vol vrugte en lote
van die oorvloed water.
11Dit het sterk stamme gehad,
geskik vir die septers van heersers.
Die top daarvan was hoog,
bo tussen digte ranke –
uitkenbaar aan sy hoogte,
aan sy baie blare.
12“ ‘ Maar dit is in woede uitgeruk,
op die grond neergegooi.
Die oostewind het sy vrugte
laat verdor;
sy sterk stamme is afgeskeur
en het verdroog,
vuur het dit verteer.
13 Nou is dit in die woestyn geplant,
in 'n dor en dorstige land.
14 Vuur het uit die stam
met sy ranke versprei;
dit het sy vrugte verteer.
Aan die wingerdstok
is nie meer 'n sterk stam,
'n septer om te heers nie.’
“Dit is 'n treurlied;
dit moet dien as 'n treurlied.”

Currently Selected:

Esegiël 19: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in