YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 35

35
Reëlings vir die Sabbat
1Moses het die hele volksvergadering van die Israeliete byeen laat kom en vir hulle gesê: “Dit is die sake wat die Here julle beveel het om te doen. 2 Ses dae lank kan werk gedoen word, maar die sewende dag moet vir julle heilig wees, 'n buitengewone Sabbat, tot eer van die Here. Elkeen wat werk doen op dié dag, moet doodgemaak word. 3 Julle mag nie op die Sabbatdag 'n vuur aansteek in enige van julle woonplekke nie.”
Bydraes van die volk vir die tabernakel
4 Moses het vir die hele volksvergadering van die Israeliete gesê: “Dit is die opdrag wat die Here gegee het, 5‘Neem van wat julle het 'n •wydingsgeskenk vir die Here. Elkeen wie se hart gewillig is, moet dit bring – 'n wydingsgeskenk vir die Here: goud, silwer en brons; 6pers, purperrooi en karmosynrooi wol, fyn linnedraad en bokhaar; 7rooi gekleurde ramsvelle, sagte leer en doringhout; 8olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die geurige reukwerk; 9•oniksstene en edelstene as monterings vir die efod en die borstas. 10 Laat elkeen onder julle wat vaardig is, kom en alles maak wat die Here beveel het: 11die •tabernakel, die tent, die bedekking, die hakies, die planke, die dwarshoute, die staanders en die voetstukke daarvan; 12die ark en sy draaghoute, die versoendeksel, die voorhangsel wat dien as gordyn; 13die tafel met sy draaghoute en al sy toebehore, en die vertoonbrode; 14die menora vir lig, met sy toebehore en sy lampe, en die olie vir die lig; 15die altaar vir die reukwerk, en sy draaghoute, die salfolie en die geurige reukwerk, en die toegangsgordyn by die ingang van die tabernakel; 16die brandofferaltaar met sy traliewerk van brons, die draaghoute en al sy toebehore, die waskom en sy voetstuk; 17die behangsels vir die binneplein, die staanders en die voetstukke, en die gordyn vir die ingang van die binneplein; 18die tentpenne van die tabernakel en die tentpenne van die binneplein met hulle toue; 19die geweefde klere om in die heiligdom dienswerk te doen, dit is die heilige klere vir Aäron, die priester, en die klere vir sy seuns vir die priesterdiens.’ ”
20Die hele volksvergadering van die Israeliete het van Moses af weggegaan. 21 Elkeen wie se hart hom daartoe gebring het, en elkeen wie se gees hom daartoe aangespoor het, het gekom, en hulle het vir die Here 'n wydingsgeskenk gebring vir die werk aan die Tent van Ontmoeting en vir al die dienswerk daaraan verbonde, en vir die heilige klere. 22Hulle het gekom, die mans sowel as die vroue, almal wie se harte daartoe bereid was. Hulle het borsspelde, oorbelle, ringe en halskettings, allerlei goue voorwerpe, gebring – elkeen wat 'n gewyde gawe van goud vir die Here wou aanbied. 23 Elkeen wat in besit was van pers, purperrooi en karmosynrooi wol, fyn linnedraad en bokhaar, rooi gekleurde ramsvelle en sagte leer, het dit gebring. 24Elkeen wat 'n wydingsgeskenk van silwer en brons wou aanbied, het 'n wydingsgeskenk vir die Here gebring; en elkeen wat in besit was van doringhout wat vir enige werk gebruik kon word, het dit gebring. 25Elke vrou wat vaardig was, het met haar twee hande spinwerk gedoen en het pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn linnedraad gebring. 26Al die vroue wie se harte hulle daartoe beweeg het en wat oor die nodige vaardigheid beskik het, het die bokhaar gespin. 27Die leiers het oniksstene en ander edelstene vir die monterings op die efod en die borstas gebring, 28en speserye en olie vir die lig, die salfolie en die geurige reukwerk. 29So het die Israeliete dit as 'n vrywillige offer vir die Here gebring, elke man en vrou wie se harte hulle daartoe aangespoor het om iets te bring vir al die werk wat die Here by monde van Moses beveel het.
30 Moses het vir die Israeliete gesê: “Kyk, die Here het Besaleël, seun van Uri, seun van Gur, van die stam van Juda, by die naam aangewys. 31Hy het hom met die Gees van God vervul – met wysheid, met insig en met kennis en al die nodige vakmanskap – 32om vindingryke planne te beraam vir die werk met goud, silwer en brons; 33en vir die bewerking van edelstene vir monterings, en die bewerking van hout – om dit vindingryk te doen met al die nodige vakmanskap. 34En die Here het dit ook in sy hart gegee om te onderrig. Hy en Oholiab, seun van Agisamag, van die stam van Dan – 35die Here het hulle vervul met die kundigheid om al die werk van 'n vakman te doen: dié van 'n ontwerper, 'n borduurder met pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn linnedraad, en dié van 'n wewer – mense wat al die werk kan doen en vindingryke planne kan beraam.

Currently Selected:

Eksodus 35: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy