YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 20

20
Afkondiging van die Tien Gebooie
1 Toe het God al hierdie woorde gespreek:
2“ Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het.
3 Jy mag naas My nie ander gode hê nie.
4 Jy mag nie vir jou 'n gesnede beeld maak nie – enige afbeelding van wat in die hemelruim daar bo, of op die aarde hier onder, of in die water onder die aarde is nie. 5 Jy mag nie voor hulle in aanbidding buig nie, en jy mag hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is 'n besitlike God, wat kinders laat boet vir die sondeskuld van ouers, selfs die derde en vierde geslag van hulle wat My verwerp, 6 maar troue liefde bewys aan duisende, aan hulle wat My liefhet en my gebooie nakom.
7 Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal hulle wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat nie.
8 Gedenk die Sabbatdag deur dit heilig te hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is 'n Sabbat ter ere van die Here jou God. Jy mag geen werk doen nie, nie jy en jou seun en jou dogter, jou slaaf en jou slavin, jou diere en jou •vreemdeling wat by jou is nie. 11 Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde en die see gemaak, en alles wat daarin is, maar op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en dit geheilig.
12 Behandel jou vader en jou moeder met eerbied, sodat jy lank kan leef op die grond wat die Here jou God vir jou gaan gee.
13 Jy mag nie moord pleeg nie.
14 Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15Jy mag nie steel nie.
16Jy mag nie vals getuig teen jou naaste nie.
17 Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie. Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, ook nie sy slawe en slavinne, sy beeste en donkies nie – enigiets wat aan jou naaste behoort nie.”
18 Toe die hele volk die donderslae hoor en die weerlig sien, asook die geluid van die •ramshoring, en die berg wat rook, was hulle bang en het gebewe. Hulle het op 'n afstand bly staan 19en vir Moses gesê: “Praat u met ons, en ons sal luister. Maar God moet nie met ons praat nie, sodat ons nie sterf nie.” 20Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie, want dit is om julle te toets dat God gekom het, sodat die ontsag vir Hom deel van julle lewe sal wees en julle nie sondig nie.” 21 Die volk het op 'n afstand bly staan, en Moses het nader gegaan na die diepe duisternis waar God was.
22Die Here het vir Moses gesê: “So moet jy vir die Israeliete sê, ‘Julle het self gesien dat Ek uit die hemel met julle praat. 23 Julle mag nie gode van silwer en goud maak en naas My vereer nie; julle mag dit nie vir julle maak nie. 24'n Altaar van grond moet jy vir My maak, en daarop jou •brandoffers en jou •maaltydoffers, jou kleinvee en beeste slag. Op elke plek waar Ek toelaat dat my Naam genoem word, sal Ek na jou kom en jou seën. 25 En as jy 'n altaar van klip vir My maak, mag jy dit nie bou met gekapte klip nie. As jy jou beitel daaroor beweeg, ontheilig jy dit. 26Jy mag nie met trappe op my altaar klim, dat jou naaktheid daarop ontbloot word nie.’ ”

Currently Selected:

Eksodus 20: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in