YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 20:1-17

Eksodus 20:1-17 AFR20

Toe het God al hierdie woorde gespreek: “ Ek is die HERE jou God, wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het. Jy mag naas My nie ander gode hê nie. Jy mag nie vir jou 'n gesnede beeld maak nie – enige afbeelding van wat in die hemelruim daar bo, of op die aarde hier onder, of in die water onder die aarde is nie. Jy mag nie voor hulle in aanbidding buig nie, en jy mag hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n besitlike God, wat kinders laat boet vir die sondeskuld van ouers, selfs die derde en vierde geslag van hulle wat My verwerp, maar troue liefde bewys aan duisende, aan hulle wat My liefhet en my gebooie nakom. Jy mag die Naam van die HERE jou God nie misbruik nie, want die HERE sal hulle wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat nie. Gedenk die Sabbatdag deur dit heilig te hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is 'n Sabbat ter ere van die HERE jou God. Jy mag geen werk doen nie, nie jy en jou seun en jou dogter, jou slaaf en jou slavin, jou diere en jou •vreemdeling wat by jou is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde en die see gemaak, en alles wat daarin is, maar op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die Sabbatdag geseën en dit geheilig. Behandel jou vader en jou moeder met eerbied, sodat jy lank kan leef op die grond wat die HERE jou God vir jou gaan gee. Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Jy mag nie steel nie. Jy mag nie vals getuig teen jou naaste nie. Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie. Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, ook nie sy slawe en slavinne, sy beeste en donkies nie – enigiets wat aan jou naaste behoort nie.”