YouVersion Logo
Search Icon

Prediker 9

9
1Ja, aan al hierdie dinge
het ek aandag gegee,
om al hierdie dinge op te helder:
Die regverdiges en die wyses
en hulle dade is in God se hand,
of dit nou liefde is of haat.
Mense weet nie wat alles
vir hulle voorlê nie.
2Alles is dieselfde vir almal:
Daar wag een lot vir die regverdige
en die goddelose; vir die goeie,
die reine en die •onreine;
vir die een wat offer
en vir hom wat nie offer nie.
Dit gaan met die sondaar
soos met die goeie,
met die een wat 'n eed aflê,
soos met hom wat bang is
om 'n eed af te lê.
3Dit is die slegte by alles
wat onder die son gebeur:
dat daar een lot is vir almal;
ook dat die hart van mense
vol boosheid is,
en dat domheid in hulle harte is
gedurende hulle lewe;
en daarna – na die dooies!
4Maar vir wie nog by al die
lewendes is, is daar hoop.
Ja, 'n lewendige hond
is beter as 'n dooie leeu.
5Die lewendes weet immers
dat hulle sal sterf,
maar die dooies weet niks nie;
daar is vir hulle geen verdere
beloning nie.
Ja, die herinnering aan hulle
het vervaag;
6hulle liefde sowel as hulle haat,
ook hulle naywer
het lankal verdwyn;
en vir ewig het hulle
geen deel meer aan alles
wat onder die son gebeur nie.
7 Gaan eet jou brood met vreugde,
en drink jou wyn met 'n vrolike hart,
want God het lankal jou dade goedgekeur.
8Laat jou klere altyd wit wees,
laat jou kop nie sonder reukolie
wees nie.
9Geniet die lewe saam met
die vrou wat jy liefhet,
al jou sinlose lewensdae
wat Hy vir jou gegee het
onder die son, al jou sinlose dae;
want dit is jou beloning in die lewe
by jou inspanning waarmee
jy jou afsloof onder die son.
10Alles wat jou hand vind
om te doen,
doen dit met oorgawe;
want daar is geen werk
of verklaring, of kennis
of wysheid in die •doderyk
waarheen jy op pad is nie.
11Weer het ek onder die son gesien:
Die wedloop is nie vir die vinniges
en die oorlog is nie
vir die krygshelde nie;
brood is ook nie vir die wyses,
rykdom is ook nie
vir die verstandiges,
en guns is ook nie
vir die kenners nie;
want tyd en toeval is bepalend
vir hulle almal.
12Ja, die mens ken ook nie sy tyd nie.
Soos visse wat gevang word
in 'n verraderlike net,
en soos voëls wat gevang word
in 'n wip,
so is dit met hulle:
In 'n tyd van onheil raak mense verstrik,
soos dit hulle skielik oorval.
13Ook dit beskou ek as wysheid
onder die son,
en dit is vir my iets groots:
14Daar was 'n klein stadjie
met min mense daarin.
'n Groot koning het daarheen
opgetrek, dit omsingel
en groot beleëringswerke
daarteen gebou.
15'n Arm, wyse man
het hom in die stad bevind.
Dié man het die stad
deur sy wysheid gered,
tog het niemand daardie arm man
onthou nie.
16Toe het ek gesê:
Wysheid is beter as krag;
maar die wysheid van die arme
word verag,
en na sy woorde
word nie geluister nie.
17Woorde van wyses,
kalm aangehoor,
is beter as die geskree
van 'n heerser tussen dwase.
18Wysheid is beter
as oorlogswapens,
maar een persoon
wat verkeerd optree,
maak baie wat goed is, tot niet.

Currently Selected:

Prediker 9: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in