YouVersion Logo
Search Icon

Deuteronomium 27

27
Plegtige byeenkoms by Sigem
1 Moses en ook die oudstes van Israel het die volk beveel: “Kom elke gebod na wat ek julle vandag beveel. 2Die dag wanneer julle die Jordaan oorsteek na die land wat die Here jou God vir jou gaan gee, moet jy groot klippe regop neersit, met kalk afwit, 3en al die woorde van hierdie wet daarop skryf, wanneer jy oortrek, sodat jy dan die land wat die Here jou God vir jou gaan gee, kan binnegaan – die land wat oorloop van melk en heuning – soos die Here, die God van jou voorouers, jou beloof het. 4Sodra julle oor die Jordaan is, moet julle hierdie klippe, waaroor ek nou vir julle opdrag gee, regop neersit op die berg Ebal en dit met kalk afwit. 5Bou dan daar 'n altaar vir die Here jou God, 'n klipaltaar. Jy mag nie die klippe met yster bewerk nie. 6Met onbewerkte klippe moet jy die altaar vir die Here jou God bou. Jy moet •brandoffers vir die Here jou God daarop bring. 7Jy moet ook •maaltydoffers bring en dit daar eet, en vol vreugde wees voor die Here jou God. 8Jy moet al die woorde van hierdie wet baie duidelik op die klippe skryf.”
9 Moses en ook die Levitiese priesters het vir die hele Israel gesê: “Wees stil en luister, Israel. Vandag het jy die volk van die Here jou God geword. 10Jy moet na die stem van die Here jou God luister en sy gebooie en sy vaste voorskrifte wat ek vandag vir jou voorskryf, uitvoer.”
11 Moses het die volk op daardie dag beveel: 12“Wanneer julle die Jordaan oorsteek, moet hierdie stamme op die berg Gerisim gaan staan om die volk te seën: Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Josef en Benjamin. 13En hierdie stamme moet op die berg Ebal gaan staan met die oog op die vervloeking: Ruben, Gad, Aser en Sebulon, Dan en Naftali. 14Die Leviete moet daarop verklaar en hardop vir elke Israeliet sê,
15“ ‘Vervloek is die mens wat 'n gesnede beeld en 'n gegote beeld maak – iets wat vir die Here afstootlik is, die handewerk van 'n vakman – en dit in die geheim êrens oprig.’
Die hele volk moet dan antwoord en ‘Amen’ sê.
16“ ‘Vervloek is die een wat sy vader en moeder minag.’
En die hele volk moet ‘Amen’ sê.
17“ ‘Vervloek is die een wat sy naaste se grens verskuif.’
En die hele volk moet ‘Amen’ sê.
18“ ‘Vervloek is die een wat 'n blinde op die pad mislei.’
En die hele volk moet ‘Amen’ sê.
19“ ‘Vervloek is die een wat die •vreemdeling, vaderlose en weduwee se reg verdraai.’
En die hele volk moet ‘Amen’ sê.
20“ ‘Vervloek is die een wat met die vrou van sy vader gemeenskap het, want hy het die naaktheid ontbloot wat aan sy vader behoort.’
En die hele volk moet ‘Amen’ sê.
21“ ‘Vervloek is die een wat met enige dier gemeenskap het.’
En die hele volk moet ‘Amen’ sê.
22“ ‘Vervloek is die een wat met sy suster, die dogter van sy vader of moeder, gemeenskap het.’
En die hele volk moet ‘Amen’ sê.
23“ ‘Vervloek is die een wat met sy skoonmoeder gemeenskap het.’
En die hele volk moet ‘Amen’ sê.
24“ ‘Vervloek is die een wat sy naaste in die geheim doodslaan.’
En die hele volk moet ‘Amen’ sê.
25“ ‘Vervloek is die een wat 'n omkoopgeskenk aanvaar om 'n persoon wat onskuldig is aan bloedvergieting, dood te slaan.’
En die hele volk moet ‘Amen’ sê.
26“ ‘Vervloek is die een wat die woorde van hierdie wet nie bevestig deur dit uit te leef nie.’
En die hele volk moet ‘Amen’ sê.”

Currently Selected:

Deuteronomium 27: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy