YouVersion Logo
Search Icon

Deuteronomium 19

19
Asielstede
(Num 35:9-28; Deut 4:41-43; 19:1-14; Jos 20:1-9)
1“ Wanneer die Here jou God die nasies uitroei wie se land die Here jou God vir jou gaan gee, en jy hulle verdryf en in hulle stede en huise gaan woon, 2dan moet jy drie stede afsonder binne die land wat die Here jou God vir jou gaan gee om in besit te neem. 3Bepaal die afstande en verdeel dan die grondgebied van jou land wat die Here jou God vir jou as erfdeel gee in drie dele, sodat elkeen wat manslag gepleeg het, daarheen kan vlug.
4“Die volgende reëling geld vir dié wat manslag gepleeg het en daarheen vlug om te bly leef: Dit moet iemand wees wat 'n medemens sonder voorbedagte rade doodgeslaan het. Hy moes nie voor die tyd 'n wrok teen hom gekoester het nie. 5Iemand gaan byvoorbeeld saam met sy vriend in die bos in om hout te kap, en wanneer hy sy arm swaai om die boom af te kap, glip die kop van die byl van die steel af en tref die ander man, sodat hy sterf. So iemand moet na een van hierdie stede kan vlug om te bly leef. 6Anders sit die bloedwreker, terwyl sy hart ontsteld is, die een agterna wat manslag gepleeg het en haal hom in, omdat die afstand te groot is. Hy slaan dan die persoon dood, en dit terwyl die persoon die dood nie verdien het nie. Hy het immers nie voorheen teen die ander een 'n wrok gekoester nie. 7Dit is waarom ek jou beveel, ‘Jy moet vir jou drie stede afsonder.’
8“As die Here jou God jou grondgebied uitbrei, soos Hy jou voorvaders met 'n eed beloof het – en Hy sal vir jou die hele land gee wat Hy beloof het om aan jou voorvaders te gee, 9as jy hierdie hele gebod wat ek vandag vir jou voorskryf, nougeset nakom deur die Here jou God lief te hê en altyd sy paaie te volg – dan moet jy by hierdie drie stede nog drie voeg. 10 Dan sal daar nie onskuldige bloed vergiet word in die land wat die Here jou God vir jou as erfdeel gaan gee nie, en daar sal nie bloedskuld op jou rus nie.
11“As iemand egter teen sy medemens 'n wrok koester, hom voorlê, hom oorval en hom so slaan dat hy sterf, en dan na een van hierdie stede vlug, 12moet die oudstes van sy stad hom daar laat haal en hom aan die bloedwreker oorgee. Hy moet sterf. 13Jy mag hom nie jammer kry nie. Jy moet die stort van onskuldige bloed in Israel uitroei; dan sal dit met jou goed gaan.”
Grondroof en vals getuienis
14 “Jy mag nie jou naaste se grens verskuif wat die voorgeslagte afgebaken het op jou erfenis wat jy gaan ontvang in die land wat die Here jou God vir jou gaan gee om in besit te neem nie.
15“ Daar mag nie net een persoon as getuie optree teen iemand in verband met enige misstap, enige sonde of misdaad wat hy begaan het nie. Slegs op gesag van twee of drie getuies sal 'n saak vasstaan.
16“As 'n kwaadwillige getuie opstaan en 'n vals verklaring teen iemand aflê, 17moet die twee wat die geskilpunt het, in die teenwoordigheid van die Here gaan staan, voor die priesters en regters wat daar in dié tyd sal wees. 18Die regters moet dan noukeurig ondersoek doen, en as dit blyk dat die getuie inderdaad 'n valse getuie is wat vals teen sy volksgenoot getuig het, 19 dan moet julle met hom doen wat hy beplan het om aan sy volksgenoot te doen. Jy moet die kwaad by jou uitroei. 20Die ander moet dit hoor, sodat hulle bang word en nie weer so 'n verkeerde daad by jou doen nie. 21Jy mag hom nie jammer kry nie. Dit is 'n lewe vir 'n lewe, 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n hand vir 'n hand, 'n voet vir 'n voet. ”

Currently Selected:

Deuteronomium 19: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy