YouVersion Logo
Search Icon

Deuteronomium 16

16
Jaarlikse pelgrimsfeeste
1“ Hou by die voorskrif vir die maand Abib en vier die Pasga vir die Here jou God, want in die maand Abib het die Here jou God jou in die nag uit Egipte uitgelei. 2Jy moet vir die Here jou God die •Pasgaoffer, kleinvee of beeste, slag op die plek wat die Here sal kies om sy Naam daar te vestig. 3 Jy mag nie brood met suurdeeg daarmee saam eet nie. Sewe dae lank moet jy ongesuurde brood eet, brood van verdrukking, omdat jy inderhaas uit Egipteland vertrek het, sodat jy daardie dag toe jy uit Egipteland vertrek het, jou hele lewe lank kan onthou. 4Daar mag sewe dae lank nie suurdeeg in jou hele gebied te sien wees nie. Daar mag ook nie van die vleis wat jy die eerste aand geslag het, tot die oggend oorstaan nie. 5 Jy word nie toegelaat om die Pasgaoffer te slag in een van die dorpe wat die Here jou God vir jou gaan gee nie, 6behalwe op die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te vestig. Slag die Pasgaoffer die aand teen sononder, op dieselfde tyd as wat jy uit Egipte vertrek het. 7Jy moet dit kook en eet op die plek wat die Here jou God sal kies. Die volgende môre kan jy na jou woonplekke terugkeer. 8Ses dae lank moet jy ongesuurde brood eet. Op die sewende dag is daar 'n gewyde rusdag ter ere van die Here jou God. Jy mag dan geen werk doen nie.
9“ Sewe weke moet jy aftel. Vandat 'n sekel in die staande graan kom, moet jy sewe weke begin aftel. 10Daarna vier jy die Fees van die Weke ter ere van die Here jou God, met soveel as wat jy vrywillig gee, in die mate wat die Here jou God jou seën. 11Jy moet bly wees voor die Here jou God – jy, jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, die Leviete in jou dorpe, die •vreemdelinge en die vaderloses en weduwees by jou – op die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te vestig. 12 Jy moet onthou dat jy 'n slaaf was in Egipte. Kom dan hierdie vaste voorskrifte nougeset na.
13 “Die Huttefees moet jy sewe dae lank vier wanneer jy die opbrengs van die dorsvloer en wynpers ingesamel het. 14Jy moet vol vreugde wees tydens jou fees – jy, jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, die Leviete, die vreemdelinge en die vaderloses en weduwees in jou dorpe. 15Sewe dae lank moet jy fees vier ter ere van die Here jou God op die plek wat die Here sal kies; want die Here jou God sal jou seën in jou hele oes en al die werk van jou hande, sodat jy net blydskap kan ervaar.
16“Drie keer per jaar moet al die manlike persone by jou voor die Here jou God verskyn op die plek wat Hy sal kies: tydens die Fees van die Ongesuurde Brood, tydens die Fees van die Weke en tydens die Huttefees. Hulle mag nie met leë hande voor die Here verskyn nie. 17Elkeen moet kom met 'n eie geskenk, volgens die mate waarin die Here jou God jou geseën het.”
Regters en regsake
18 “Jy moet in verhouding tot jou stamme vir jou regters en opsieners aanstel in al die dorpe wat die Here jou God jou gaan gee. Hulle moet oor die volk regspreek met regverdige beslissings. 19Jy mag nie die reg verdraai nie, jy mag nie partydig wees nie en jy mag nie omkoopgeskenke aanvaar nie; want 'n omkoopgeskenk verblind die oë van wyses en verdraai die woorde van regverdiges. 20Geregtigheid, ja, geregtigheid moet jy nastreef, sodat jy kan leef en die land in besit kan neem wat die Here jou God vir jou gaan gee.”
Verbod om vrugbaarheidsgode te dien
21“ Jy mag nie vir jou 'n asjera, enige stuk hout, plant langs die altaar van die Here jou God wat jy vir jouself maak nie. 22Jy mag nie vir jou 'n gedenksteen waarin die Here jou God 'n weersin het, oprig nie.”

Currently Selected:

Deuteronomium 16: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in