YouVersion Logo
Search Icon

Handelinge 6

6
Verkiesing van sewe medewerkers
1Maar in dié dae, toe die aantal dissipels al hoe meer geword het, het 'n gemor onder die Helleniste teen die Hebreërs ontstaan omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien word. 2Die twaalf het daarop die hele groep dissipels bymekaargeroep en gesê: “Dit is nie goed dat ons die woord van God verwaarloos om by die tafels diens te verrig nie. 3Broers, soek dan sewe mans onder julle, van goeie getuienis en vol van die Gees en van wysheid, wat ons vir hierdie taak kan aanstel. 4En ons sal ons dan toelê op gebed en die bediening van die woord.” 5Die voorstel het by die hele groep byval gevind, en hulle het vir Stefanus, vol van geloof en die Heilige Gees, en ook Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaus, 'n proseliet uit Antiogië, gekies. 6Hulle het hierdie manne aan die •apostels voorgestel, en die apostels het vir hulle gebid en hulle die hande opgelê.
7En die woord van God het versprei en die aantal dissipels in Jerusalem het aansienlik vermeerder, en 'n groot menigte priesters het aan die geloof gehoorsaam geword.
Gevangeneming van Stefanus
8En Stefanus, vol genade en krag, het groot wonders en tekens onder die volk verrig. 9Sommige van die Sinagoge van die Libertyne, soos dit bekend gestaan het, Sireneërs en Aleksandryne, asook sommige mense uit Silisië en Asië, het na vore getree en met Stefanus geredeneer; 10 maar hulle was nie opgewasse teen die wysheid waarmee, en die Gees deur wie, hy gespreek het nie. 11 Toe het hulle mans aangehits om te verklaar: “Ons het hom lasterlike dinge oor Moses en God hoor sê.” 12Hierdeur het hulle die volk, die familiehoofde en die skrifkenners opgesweep. Toe het hulle na hom gegaan, hom gegryp en voor die Sanhedrin gebring. 13Hulle het ook vals getuies na vore laat kom wat verklaar het: “Hierdie man hou nie op om teen hierdie heilige plek en die wet te praat nie. 14 Ons het hom hoor sê, ‘Hierdie Jesus van Nasaret sal hierdie plek afbreek en die gebruike verander wat Moses aan ons oorgelewer het.’ ” 15Almal wat in die Sanhedrin gesit het, het stip na Stefanus gekyk en gesien dat sy gesig soos dié van 'n engel lyk.

Currently Selected:

Handelinge 6: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in