YouVersion Logo
Search Icon

2 Konings 2

2
Elia se hemelvaart
1Dit is wat gebeur het toe die Here vir Elia in 'n stormwind in die hemel opgeneem het. Elia en Elisa was van Gilgal af op pad, 2toe Elia vir Elisa sê: “Bly asseblief hier, want die Here stuur my na Bet-El. ” Elisa het egter gesê: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hulle het toe afgegaan na Bet-El. 3Die profetegroep wat in Bet-El was, het na Elisa uitgegaan en vir hom gevra: “Weet u dat die Here vandag u heer bo u kop gaan wegneem?” Hy het geantwoord: “Ek weet dit ook. Bly net stil!”
4Elia sê toe vir hom: “Elisa, bly asseblief hier, want die Here stuur my na Jerigo. ” Maar hy het geantwoord: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!”
Toe hulle in Jerigo aankom, 5het die profetegroep wat in Jerigo was, na Elisa gekom en vir hom gevra: “Weet u dat die Here vandag u heer bo u kop gaan wegneem?” Hy het geantwoord: “Ek weet dit ook. Bly net stil!”
6Elia het weer vir hom gesê: “Bly asseblief hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.” Maar hy het geantwoord: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hulle twee het toe verder gegaan.
7Vyftig man van die profetegroep het ook gegaan en teenoor hulle op 'n afstand bly staan. Hulle twee het langs die Jordaan gestaan. 8Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na weerskante verdeel, en hulle twee het op droë grond oorgegaan. 9Hulle was net deur, toe vra Elia vir Elisa: “Vra wat ek vir jou kan doen voordat ek van jou af weggeneem word.” Elisa het geantwoord: “Laat daar asseblief 'n dubbele deel van u gees na my kom.” 10Daarop sê Elia: “Jy vra iets wat moeilik is. As jy my sien terwyl ek van jou af weggeneem word, mag dit dan vir jou so wees; maar indien nie, sal dit nie gebeur nie.” 11Terwyl hulle nog so loop en praat, is daar skielik 'n strydwa van vuur en perde van vuur! Dit het skeiding gebring tussen hulle twee, en Elia het in die stormwind opgegaan na die hemel. 12Elisa het dit sien gebeur en het bly uitroep: “My vader, my vader, strydwa van Israel en sy perde!” Toe hy hom nie meer kon sien nie, het hy sy klere vasgegryp en in twee geskeur.
13Hy het Elia se mantel wat van hom afgeval het, opgetel, omgedraai en by die kant van die Jordaan gaan staan. 14Toe neem hy Elia se mantel wat van hom afgeval het, slaan die water en sê: “Waar is die Here, die God van Elia?” Ook hy het die water geslaan, en die water het na weerskante verdeel, en Elisa het oorgegaan. 15Toe die profetegroep wat aan die oorkant in Jerigo was, hom sien, het hulle gesê: “Die gees van Elia rus op Elisa.” Hulle het hom tegemoetgegaan en diep voor hom na die grond toe gebuig. 16Hulle het vir hom gesê: “Kyk, by u dienaars is daar vyftig onverskrokke manne; laat hulle asseblief gaan en u heer soek. Dalk het die wind van die Here hom opgetel en op een van die berge of in een van die valleie neergewerp.” Maar hy het gesê: “Moet hulle nie stuur nie.” 17Hulle het egter by hom aangedring totdat hy verleë geraak het, en sê: “Stuur dan maar!” Daarop het hulle vyftig man gestuur wat drie dae lank gesoek het, maar hulle kon hom nie kry nie. 18Hulle het teruggekeer na Elisa terwyl hy nog in Jerigo gebly het, en hy het vir hulle gesê: “Het ek nie vir julle gesê, ‘Moenie gaan nie?’ ”
Wonderwerke van Elisa
19Die manne van die dorp het vir Elisa gesê: “Kyk, die ligging van die dorp is goed, soos my heer kan sien; maar die water is sleg en die grond veroorsaak misgeboortes.” 20Toe sê hy: “Bring vir my 'n nuwe skotteltjie en gooi sout daarin.” Hulle het dit vir hom gebring, 21 en hy het uitgegaan na die bron van die water, die sout daarin gegooi en gesê: “So sê die Here, ‘Ek het hierdie water gesond gemaak; dit sal nie meer dood of misgeboortes veroorsaak nie.’ ” 22Die water is tot vandag toe gesond, ooreenkomstig die woord van Elisa wat hy gespreek het.
23Hy het daarvandaan opgegaan na Bet-El. Terwyl hy padlangs opgaan, het 'n groep klein seuntjies uit die dorp gekom. Hulle het met hom die spot gedryf en vir hom gesê: “Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop!” 24 Hy het omgedraai en toe hy hulle sien, het hy hulle vervloek in die naam van die Here. Twee bere het uit die bos gekom en twee-en-veertig van die kinders verskeur. 25Daarvandaan het hy na die berg Karmel gegaan, en van daar af het hy teruggekeer na Samaria.

Currently Selected:

2 Konings 2: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy